Psalms 18

18
1 Vir die •musiekleier. Van die dienskneg van die Here. Van Dawid. Hy het die woorde van hierdie lied vir die Here voorgedra in die tyd toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. 2Hy het gesê:
Ek het U lief, Here, my sterkte!
3 Die Here is my rotsvesting,
my bergskuiling, my bevryder.
My God is my rots by wie ek skuil,
my skild en die horing van my
redding, my toevlugsoord.
4Die Een wat geloof moet word –
roep ek uit – is die Here!
En van my vyande word ek verlos.
5 Bande van die dood
het my omsluit,
strome van vernietiging
het my verskrik,
6bande van die •doderyk
het my verstrengel,
vangstrikke van die dood
het my ingewag.
7In my benoudheid het ek
na die Here bly roep;
na my God het ek om hulp geroep.
In sy paleis het Hy my stem gehoor;
my hulpgeroep voor Hom
het sy ore bereik.
8Toe het die aarde
geskud en gebewe;
die fondamente van die berge
het gesidder.
Dit het geskud want sy toorn
het ontbrand:
9Rook het uit sy neus opgestyg,
'n verterende vuur uit sy mond;
gloeiende kole het daaruit opgevlam.
10Hy het die hemel afgebuig
en neergedaal;
diepe duisternis was onder sy voete.
11Hy het op 'n gerub gery,
Hy het gevlieg,
gesweef op die vlerke van die wind.
12Hy het van die donker
sy beskutting gemaak;
rondom Hom was sy skuiling
swaar wolke, donker van water.
13Uit die glans voor Hom
het sy wolke verbygetrek
met hael en gloeiende kole vuur.
14Die Here laat die donder
weerklink in die hemelruim;
die Allerhoogste laat sy stem hoor
met hael en gloeiende kole vuur.
15Hy stuur sy pyle
en jaag hulle uiteen;
Hy werp sy weerligstrale
en bring hulle in verwarring.
16Die beddings van die strome
het sigbaar geword;
die fondamente van die aarde is ontbloot
deur u dreiging, Here,
deur die windvlaag uit u neus.
17Uit die hoogte het Hy
sy hand uitgestrek,
my gegryp,
my uit die watermassa opgetrek.
18Hy het my weggeruk
van my magtige vyand,
weg van my haters,
want hulle was sterker as ek.
19Op die dag van my teenspoed
het hulle my ingewag,
maar die Here was vir my 'n stut:
20Hy het my uitgelei na 'n oopte;
Hy het my bevry
omdat Hy my goedgesind is.
21Die Here het aan my goed gedoen
op grond van my geregtigheid;
omdat my hande skoon is,
het Hy my vergoed.
22Want ek het op die Here se paaie gebly
en my nie skuldig gemaak
voor my God nie.
23Ja, ek hou al sy wette voor oë,
en sy vaste voorskrifte –
daarvan wyk ek nie af nie.
24Ek was onberispelik voor Hom,
en het my weerhou van sondeskuld.
25Die Here het my vergoed
op grond van my geregtigheid,
omdat my hande skoon is in sy oë.
26Teenoor getroue volgelinge
tree U getrou op;
teenoor iemand wat onberispelik is,
tree U onberispelik op;
27teenoor dié wat hulle rein hou,
bewys U Uself rein;
maar teenoor dié wat vals is,
tree U berekenend op!
28Ja, dit is U wat 'n magtelose volk
verlos en trotse oë verneder;
29dit is U wat my lig laat skyn, Here.
My God verlig my donkerte.
30Ja, met U hardloop ek
'n bende tegemoet,
met my God spring ek oor 'n muur.
31God, sy weg is volmaak;
die woord van die Here is gelouter.
Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.
32 Ja, wie is God behalwe die Here?
Wie is 'n rots buiten ons God?
33God is die Een
wat my met krag omgord
en my pad gelyk maak.
34Hy maak my voete
soos dié van wildsbokke;
op hoë plekke laat Hy my vasstaan.
35Hy maak my hande bedrewe
vir die geveg,
sodat my arms 'n bronsboog
kan span.
36U het vir my u skild
van verlossing gegee,
u •regterhand ondersteun my
en u antwoord maak my sterk.
37U skep ruimte vir my voetstappe;
my enkels swik nie.
38Ek agtervolg my vyande
en haal hulle in;
ek draai nie om voordat ek hulle
uitgewis het nie.
39Ek verpletter hulle,
hulle kan nie weer opstaan nie,
hulle val onder my voete.
40U omgord my met krag
vir die geveg;
U laat my teenstanders
die knie voor my buig.
41My vyande –
U het hulle vir my laat vlug;
en my haters –
ek kon hulle vernietig.
42Hulle het om hulp geroep,
maar daar was geen verlosser nie,
selfs na die Here geroep,
maar Hy het hulle
nie geantwoord nie.
43Ek het hulle so fyngestamp
soos stof in die wind;
soos modder in die strate
het ek hulle uitgegooi.
44U het my bevry van die gestry onder mense,
my die hoof van nasies gemaak.
Mense wat ek nie geken het nie,
dien my;
45sodra hulle van my hoor,
gehoorsaam hulle my.
Vreemdes veins onderdanigheid
aan my;
46vreemdes verloor moed,
bewend kom hulle uit hulle kerkers.
47Die Here leef!
Lofwaardig is my rots;
die God wat my verlos, is verhewe!
48God is die een wat my toelaat
om wraak te neem;
Hy onderwerp volke aan my,
49Hy wat my van my vyande bevry.
Ja, U verhoog my bo my teenstanders;
van manne van geweld ruk U my weg.
50 Daarom sal ek U prys
onder die nasies, Here,
u Naam wil ek besing.
51Dit is Hy wat aan sy koning
groot oorwinnings gee,
wat troue liefde bewys aan sy gesalfde,
aan Dawid en sy nageslag vir altyd.

Tans Gekies:

Psalms 18: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid