PSALMS 18

18
Die Here is my redder
1Vir die koorleier: ’n Lied van Dawid, die dienaar van die Here. Hy het die lied vir die Here gesing op die dag toe die Here hom uit die mag van al sy vyande en van Saul gered het.
2Hy het gesê:
Ek het U baie lief, Here;
U is my sterkte.
3Die Here is my rots,
my vesting en my redder,
my God, en my rots
by wie ek skuil.
Hy is my skild,
my magtige redder,
my veilige vesting.
4Ek het tot die Here geroep,
Hy wat lofwaardig is,
want Hy red my
van my vyande.
5Bande van die dood
omring my;
strome van onheil
oorweldig my.
6Bande van die dood
draai my vas;
strikke van die dood
wag my in.
7In my angs
het ek tot die Here geroep,
tot my God geroep om hulp.
In sy heiligdom het Hy geluister;
my hulpgeroep
het Hy gehoor.
8Toe het die aarde geskud
en gebewe;
die fondamente van die berge
het gerammel,
hulle het geruk vanweë sy toorn.
9Rook het uit sy neusgate
geborrel,
verterende vlamme uit sy mond,
gloeiende kole
uit sy binnekant.
10Hy het die hemele oopgebreek
en afgekom;
donkerte was onder sy voete.
11Hy het ’n gerub bestyg
en gevlieg,
Hy het gesweef
op die vlerke van die wind.
12Hy het Homself
met donkerte omhul,
reënwolke en wolkemassas
het Hom bedek.
13Uit die gloed voor Hom
het wolke gekom,
hael en weerligstrale.
14Die Here se stem donder
uit die hemel;
die Allerhoogste
laat sy stem hoor:
hael en weerligstrale.
15Hy skiet sy pyle,
verstrooi sy vyande;
sy weerlig flits,
hulle is verbysterd.
16Die bodem van die see
word sigbaar,
die fondamente van die aarde
word ontbloot
deur die gebulder van die Here,
en die rukwind van sy asem.
17Van bo af
het Hy sy hand uitgestrek
en my gegryp,
uit diepwaters
het Hy my getrek.
18Hy verlos my
van magtige vyande,
van haters
wat te sterk was vir my.
19Hulle het aangeval
toe ek in die moeilikheid was,
maar die Here hou my staande.
20Hy lei my na veiligheid#18:20 Grondteks Hy het my in ’n ruimte gelei.,
en red my
omdat Hy my liefhet.
21Die Here
beloon my opregtheid;
Hy vergoed my onskuld.
22Want ek was getrou
aan die voorskrifte
van die Here;
ek was nie skuldig
teenoor my God nie.
23Want sy voorskrifte
het ek onderhou;
en van sy bepalings
nie afgewyk nie.
24Ek is onskuldig voor Hom;
ek het weggebly
van sonde.
25Die Here
het my opregtheid beloon,
want ek was onskuldig
voor Hom.
26Vir die getroues is U getrou;
vir die opregtes is U opreg.
27Vir dié wat rein is, is U rein,
vir dié wat vals is, is U vals.
28U red hulle wat nederig is,
maar die hoogmoediges
verneder U.
29U laat my lamp skyn,
Here my God.
U verlig my duisternis.
30Met U loop ek ’n leër storm;
met my God spring ek
oor ’n muur.
31God se pad is volmaak.
Die Here se woorde
is betroubaar.
Hy beskerm dié
wat by Hom skuil.
32Want wie anders as die Here
is God?
Wie anders as God is ’n rots?
33God rus my toe met krag;
Hy maak my pad veilig.
34Hy maak my voete
soos dié van ’n wildsbok,
op hoë plekke
laat Hy my veilig staan.
35Hy oefen my hande
vir die geveg,
my arms
om ’n bronsboog te trek.
36U redding is vir my ’n skild.
U regterhand ondersteun my;
u hulp maak my sterk.
37Die pad onder my
maak U breed,
en my enkels swik nie.
38Ek het my vyande agtervolg
en ingehaal;
ek het nie omgedraai
voordat hulle almal
uitgewis was nie.
39Ek het hulle oorrompel
en neergeslaan,
hulle kon nie opstaan nie;
hulle het voor my voete geval.
40U het my met krag toegerus
vir die stryd,
en my teenstanders
aan my onderwerp.
41My vyande het U
voor my laat vlug;
my haters het ek uitgewis.
42Hulle roep om hulp#18:42 Grondteks Hulle het gekyk ...,
maar niemand kom help nie;
selfs tot die Here,
maar Hy antwoord hulle nie.
43Ek maal hulle fyn
soos die stof van die aarde,
soos modder op straat
vermorsel ek hulle.
44In die stryd met teenstanders
het U my verlos,
my aangestel
as koning oor nasies.
’n Volk
wat ek nie geken het nie,
dien my nou.
45Uitlanders word my onderdane.
As hulle van my hoor,
gehoorsaam hulle my.
46Vreemdelinge
word moedeloos
en kom bewend
uit hulle vestings.
47Die Here leef!
Ek prys my rots!
Ek loof God,
rots van my redding,
48God wat wraak neem
namens my,
wat volke aan my onderwerp.
49Hy red my van my vyande.
Buite bereik van teenstanders
verhef U my;
U verlos my van geweldenaars.
50Daarom, Here, sal ek U prys
voor die nasies.
Tot eer van u Naam
sal ek ’n loflied sing!
51U gee groot oorwinnings
aan u koning;
aan u gesalfde is U getrou,
aan Dawid en sy nageslag
vir altyd!

Tans Gekies:

PSALMS 18: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid