PSALMS 18

18
Danklied ná die oorwinning.
1VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid, die kneg van die Here, wat die woorde van hierdie lied tot die Here gespreek het op die dag toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul.
2En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, Here, my sterkte.
3Die Here is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.
4Ek roep die Here aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.
5Bande van die dood het my omring, en strome van onheil het my oorval.
6Bande van die doderyk was rondom my; strikke van die dood het my teëgekom.
7Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.
8Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.
9Rook in sy neus het opgegaan, en 'n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.
10En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en donkerheid was onder sy voete.
11En Hy het op 'n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het gesweef op die vleuels van die wind.
12Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke.
13Deur die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek, hael en gloeiende kole.
14En die Here het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole.
15En Hy het sy pyle uitgestuur en hulle verstrooi; ja, sy bliksems in menigte, en Hy het hulle verwar.
16En die beddings van die waters het sigbaar geword, en die fondamente van die wêreld is blootgelê vanweë u dreiging, o Here, vanweë die geblaas van die wind van u neus.
17Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek.
18Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my.
19Hulle het my oorval op die dag van my nood; maar die Here was my steun.
20En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het.
21Die Here het met my gehandel na my geregtigheid; Hy het my vergelde na die reinheid van my hande.
22Want ek het die weë van die Here gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie;
23want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge het ek nie van my verwyder nie.
24Maar ek was opreg by Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid.
25So het die Here my dan vergelde na my geregtigheid, na die reinheid van my hande, voor sy oë.
26By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg,
27by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
28Want U verlos die verdrukte volk; maar U verneder die oë wat hoog is.
29Want U laat my lamp skyn; die Here my God laat my duisternis opklaar.
30Want met U loop ek 'n bende storm, en met my God spring ek oor 'n muur.
31Die weg van God is volmaak; die woord van die Here is gelouter; Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.
32Want wie is God buiten die Here, en wie is 'n rots behalwe onse God?
33God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak.
34Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.
35Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms 'n koperboog span.
36Ook het U my die skild van u uitredding gegee, en u regterhand het my ondersteun, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak.
37U het my voetstap ruim gemaak onder my, en my enkels het nie gewankel nie.
38Ek het my vyande agtervolg en hulle ingehaal, en ek het nie teruggekom voordat ek hulle vernietig het nie.
39Ek het hulle verbrysel, sodat hulle nie kon opstaan nie; hulle het geval onder my voete.
40En U het my met krag omgord vir die stryd; U het my teëstanders onder my laat buk.
41En U het my vyande vir my laat vlug; en my haters, dié het ek vernietig.
42 Hulle het geroep om hulp, maar daar was geen verlosser nie — tot die Here, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.
43Toe het ek hulle vermaal soos stof voor die wind; ek het hulle uitgegooi soos modder van die strate.
44U het my gered uit die getwis van die volk; U het my 'n hoof gemaak van nasies; 'n volk wat ek nie geken het nie, het my gedien.
45Sodra hulle van my gehoor het, was hulle my gehoorsaam, uitlanders het kruipende na my gekom.
46Uitlanders word kragteloos en kom met siddering uit hulle vestings.
47Die Here leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God van my heil!
48Die God wat my die wraak gee en volke aan my onderwerp;
49wat my red van my vyande; ja, U verhef my bo my teëstanders; U bevry my van die man van geweld.
50 Daarom wil ek U loof, o Here, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing.
51Hy wat die verlossinge van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.

Tans Gekies:

PSALMS 18: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid