MATTEUS 7:13-23

MATTEUS 7:13-23 Bybel vir almal (ABA)

“Julle moet by die klein hekkie ingaan. Want die hek na die hel is groot, en dit is maklik om op daardie pad te loop. Baie mense gaan deur die groot hek. Maar die hek na die ewige lewe is klein, en dit is nie maklik om op hierdie pad te loop nie. Min mense kry hierdie pad en loop daarop.” “Pasop vir vals profete. Hulle kom na julle toe en hulle lyk soos skape, maar hulle is nie skape nie, hulle is gevaarlike wolwe. Wanneer jy 'n boom se vrugte sien, dan weet jy watter soort boom dit is. So sal julle ook kan sien watter soort mense dit is wanneer julle sien wat hulle doen. 'n Mens pluk nie druiwe van doringbome of vye van onkruid nie. Nee, goeie bome dra goeie vrugte, en slegte bome dra slegte vrugte. 'n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en 'n slegte boom dra nie goeie vrugte nie. 'n Mens kap elke boom af wat nie goeie vrugte dra nie, en jy gooi die boom in die vuur. So sal julle weet watter soort mense die vals profete is wanneer julle sien wat hulle doen.” “Dit is nie genoeg as iemand vir My sê: ‘Here, Here’ nie. Hy sal nie daarom by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is. God is my Vader, en mense wat by Hom wil kom, moet doen wat Hy wil hê hulle moet doen. Op die dag van die Here sal baie mense vir My sê: ‘Here, Here, ons het u Naam gebruik om God se boodskap te bring, ons het u Naam gebruik om duiwels uit te jaag uit mense, ons het u Naam gebruik om baie wonderwerke te doen.’ “Maar dan sal Ek vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle het nie gedoen wat my wette sê nie.’ ”

MATTEUS 7:13-23 Die Boodskap (DB)

“Natuurlik is dit nie maklik om te doen wat die Bybel vra nie. Die pad wat na God se nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle daarom in om op God se smal pad te bly stap.” “Julle moet lig loop vir mense wat die goeie nuus verdraai. Hulle kom na julle toe met allerhande mooi godsdienstige praatjies, maar eintlik is hulle so gevaarlik soos ’n spul wolwe. Dit is maklik om hierdie mense uit te ken. Kyk maar net hoe hulle leef. As hulle heeltyd verkeerde dinge doen, wys dit dat hulle ’n spul leuenaars is. “’n Mens se lewe is soos ’n vrugteboom: goeie vrugtebome dra goeie vrugte en slegte bome dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie en ’n slegte boom kan ook nie goeie vrugte oplewer nie. Daar wag groot probleme op alle bome wat slegte vrugte dra. Hulle word eenvoudig afgekap en in die vuur gegooi. Dus, as julle wil weet watter mense die goeie nuus verdraai, moet julle maar net gaan kyk hoe hulle leef. Hulle lewens wys watter soort vrugte hulle dra. “Daar is baie mense wat maak asof hulle My dien. Hulle noem My om elke hoek en draai ‘Here en Meester’. Daar wag egter ’n groot verrassing op hulle. My Vader gaan glad nie vir hulle plek hê in sy nuwe wêreld nie. Net daardie mense wat doen wat Hy vra, sal by Hom welkom wees. “Wanneer die laaste dag op die aarde aanbreek, sal Ek self kom om oor almal te oordeel. Dan sal al hierdie skynheilige mense voor My kom staan en vir My sê: ‘Here en Meester, onthou U dan nie watter groot dinge ons alles in u Naam gedoen het nie? Ons het gepreek, duiwels uit mense verdryf en allerhande magtige dade gedoen.’ “Weet julle wat Ek dan sal antwoord? Ek sal dan vir hulle sê: ‘Ek ken julle van g’n kant af nie. Julle spul slegte mense verdien die hel. Gee dadelik pad voor My!’”

MATTEUS 7:13-23

MATTEUS 7:13-23 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid