Matteus 7

7
Bergrede: Oor oordeel
(Mark 4:24-25; Luk 6:37-38,41-42)
1“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. 2Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word.
3“Waarom sien jy die splinter in jou •broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4Of hoe kan jy vir jou broer sê, ‘Laat my toe om die splinter uit jou oog te haal,’ maar wat van die balk in jou eie oog? 5Skynheilige! Haal eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.
6“Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie, sodat hulle dit nie met hulle pote vertrap, en die honde nie omspring en julle verskeur nie.”
Bergrede: Oor gebedsverhoring
(Luk 11:9-13; 6:31)
7“Vra, en vir julle sal gegee word;
soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle sal oopgemaak word.
8Want elkeen wat vra, ontvang;
en wie soek, vind;
en vir wie klop, sal oopgemaak word.
9“Wie onder julle sal, as sy seun brood vra, vir hom 'n klip gee? 10Of ook, as hy 'n vis vra, vir hom 'n slang gee? 11As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die •hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra!
12“Alles wat julle dan wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook julle net so aan hulle; want dit is die kern van die Wet en die Profete.”
Bergrede: Oor die regte keuse
(Luk 13:23-24; 6:43-46; 13:25-27)
13“Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan. 14Maar hoe nou is die poort en hoe smal die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind.
15“Wees op julle hoede vir die vals profete wat in skaapsklere na julle kom, maar in hulle binneste wolwe is wat verskeur. 16 Aan hulle vrugte sal julle hulle uitken. Pluk 'n mens miskien druiwe van doringstruike of vye van dissels? 17Net so dra elke goeie boom goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte vrugte. 18'n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 Aan hulle vrugte sal julle hulle dus uitken.
21“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. 22Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ 23Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ”
Bergrede: Oor die regte fondament
(Luk 6:47-49)
24“Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos 'n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het. 25Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit nie ineengestort nie, omdat dit stewig op rots gevestig was. 26Maar elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit nie uitvoer nie, sal soos 'n onverstandige man wees wat sy huis op sand gebou het. 27 Toe die reën begin val en die stormwaters kom en die winde waai en daardie huis tref, het dit ineengestort, en die ineenstorting was geweldig.”
28Toe Jesus sy redevoering voltooi het, was die skare verstom oor sy lering, 29omdat Hy hulle geleer het soos iemand met gesag en nie soos hulle skrifkenners nie.

Tans Gekies:

Matteus 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid