MATTEUS 7:13-23

MATTEUS 7:13-23 NLV

“Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan. Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!” “Pas op vir die vals profete. Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammetjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe. Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie. ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte. ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. “So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.” “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was. Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in u Naam gepreek en in u Naam bose geeste uitgedryf en in u Naam baie wonders verrig!’ Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’”

Gratis leesplanne en oordenkings oor MATTEUS 7:13-23

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid