Matteus 7

7
Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd nie
(Ook Mark 4:24; Luk 6:37-38,41-42)
1“Julle moenie altyd sê ander mense doen verkeerd en God moet hulle straf nie. As julle dit nie doen nie, dan sal God júlle ook nie straf nie. 2God sal oor julle oordeel soos julle oor ander mense oordeel. Hy sal aan julle doen wat julle aan ander mense wil doen.
3“Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy besef nie daar is 'n groot stuk hout in jou eie oog nie? Jy sien die bietjie wat jou broer verkeerd gedoen het, maar jy sien nie die baie wat jyself verkeerd gedoen het nie. 4Jy kan nie vir jou broer sê jy wil die klein stukkie hout uit sy oog haal wanneer daar 'n groot stuk hout in jou eie oog is nie. 5As jy dit doen, dan is jy 'n skynheilige mens! Haal eers die groot stuk hout uit jou eie oog. Dan sal jy goed kan sien om die klein stukkie hout uit jou broer se oog te haal.
6“'n Mens gooi nie dinge wat aan God behoort, vir die honde nie. Die honde sal omdraai en hulle sal jou kom byt. Jy gooi ook nie juwele voor varke nie. Die varke sal op die juwele trap met hulle pote. So moet julle nie aanhou om God se boodskap, wat kosbaar is, na mense toe te bring wat die boodskap nie wil ontvang nie.”
Mense moet aanhou bid
(Ook Luk 11:9-13; 6:31)
7“Julle moet aanhou bid, dan sal God vir julle gee wat julle vra. Julle moet aanhou soek, dan sal God vir julle laat kry wat julle soek. Julle moet aanhou klop, dan sal God die deur vir julle oopmaak. 8Elke mens wat aanhou bid, sal ontvang. Elke mens wat aanhou soek, sal kry. Elke mens wat aanhou klop, vir hom sal God die deur oopmaak. 9'n Pa sal nooit vir sy seun 'n klip gee wanneer die seun vir hom brood vra nie. 10En hy sal nie vir sy seun 'n slang gee wanneer die seun vir hom 'n vis vra nie. 11Julle is slegte mense, maar julle weet om goeie dinge vir julle kinders te gee. Julle Vader in die hemel wil vir die mense wat dit vir Hom vra, dinge gee wat nog beter is. 12Julle moet aan ander mense doen soos julle wil hê ander mense moet aan julle doen. Dit is wat die Wette van Moses en die boeke van die profete vir julle sê.”
Twee paaie
(Ook Luk 13:24)
13“Julle moet by die klein hekkie ingaan. Want die hek na die hel is groot, en dit is maklik om op daardie pad te loop. Baie mense gaan deur die groot hek. 14Maar die hek na die ewige lewe is klein, en dit is nie maklik om op hierdie pad te loop nie. Min mense kry hierdie pad en loop daarop.”
Twee bome
(Ook Luk 6:43-44)
15“Pasop vir vals profete. Hulle kom na julle toe en hulle lyk soos skape, maar hulle is nie skape nie, hulle is gevaarlike wolwe. 16Wanneer jy 'n boom se vrugte sien, dan weet jy watter soort boom dit is. So sal julle ook kan sien watter soort mense dit is wanneer julle sien wat hulle doen. 'n Mens pluk nie druiwe van doringbome of vye van onkruid nie. 17Nee, goeie bome dra goeie vrugte, en slegte bome dra slegte vrugte. 18'n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en 'n slegte boom dra nie goeie vrugte nie. 19'n Mens kap elke boom af wat nie goeie vrugte dra nie, en jy gooi die boom in die vuur. 20So sal julle weet watter soort mense die vals profete is wanneer julle sien wat hulle doen.”
Twee dissipels
(Ook Luk 6:46; 13:25-27)
21“Dit is nie genoeg as iemand vir My sê: ‘Here, Here’ nie. Hy sal nie daarom by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is. God is my Vader, en mense wat by Hom wil kom, moet doen wat Hy wil hê hulle moet doen. 22Op die dag van die Here sal baie mense vir My sê: ‘Here, Here, ons het u Naam gebruik om God se boodskap te bring, ons het u Naam gebruik om duiwels uit te jaag uit mense, ons het u Naam gebruik om baie wonderwerke te doen.’
23“Maar dan sal Ek vir hulle sê: ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle het nie gedoen wat my wette sê nie.’ ”
Twee bouers
(Ook Luk 6:47-49)
24“Elke mens wat weet wat Ek gesê het en wat dit doen, is soos 'n wyse man wat sy huis op 'n rots gebou het. 25Dit het gereën en die riviere het vol water geword. Die winde het hard gewaai en dit het die huis geruk. Maar die huis het nie omgeval nie, want die man het sy huis op die rots gebou. 26Maar elkeen wat weet wat Ek sê en wat dit nie doen nie, is soos 'n dwase mens wat sy huis gebou het op sand. 27Dit het gereën en die riviere het vol water geword. Die wind het hard gewaai en dit het die huis baie geruk. Die huis het omgeval, en daar het niks oorgebly nie.”
28Toe Jesus klaar gepraat het, was al die mense verbaas oor hoe Hy vir hulle geleer het, 29want hulle het besef dit kom van God. Jesus het nie vir hulle geleer soos hulle skrifgeleerdes dit gedoen het nie.

Tans Gekies:

Matteus 7: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid