JOËL 2:12-17 - Compare All Versions

JOËL 2:12-17 AFR83 (Afrikaans 1983)

Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie sodat daar weer graan- en drankoffers sal wees vir die Here julle God! Blaas die ramshoring in Sion, bepaal 'n dag om te vas, roep die gemeente bymekaar. Roep die volk op, reinig die gemeente, laat die leiers bymekaarkom, bring die kinders bymekaar, selfs dié wat nog drink. Die bruidegom moet uit sy kamer uitkom, die bruid uit haar wittebroodskamer. Die priesters wat in die diens van die Here staan, moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil, hulle moet sê: “Betoon medelye met u volk, Here, moenie die volk wat aan U behoort, tot 'n bespotting maak, sodat die nasies met hulle sal spot nie. Waarom moet daar onder die volke gevra word: Waar is Israel se God?”

JOËL 2:12-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil; wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy 'n seën sal agterlaat — 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE julle God. Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek. Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?

JOËL 2:12-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Maar nou sê die HERE: “Draai met volle oorgawe terug na My toe! Vas, huil en treur! Moenie julle klere skeur omdat julle hartseer is nie, skeur julle harte!” Draai terug na die HERE julle God toe, want Hy is genadig en vol meegevoel. Hy word nie maklik kwaad nie. Hy is baie liefdevol en wil julle nie graag straf nie. Wie weet, miskien besluit Hy anders en is Hy julle genadig. Dalk gee Hy vir julle voorspoed in plaas van hierdie verskriklike oordeel. Miskien maak Hy dit vir julle moontlik dat julle weer soos voorheen graan en wyn vir die HERE julle God kan offer! Blaas op die trompet in Jerusalem! Kondig ’n tyd van vas aan. Roep die gemeente op om saam te kom. Bring die volk byeen en wy die vergadering toe aan die HERE. Bring die leiers, die kinders en selfs die babas bymekaar. Laat die bruidegom uit sy kamer kom en die bruid uit haar bruidskamer. Die priesters wat in diens is van die HERE moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “HERE, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’”

JOËL 2:12-17 DB (Die Boodskap)

Die Here sê: Verander julle manier van leef, nou dadelik! Draai terug na My toe. Hou op om te eet omdat julle huil en treur oor al julle sonde. Moenie julle klere skeur om te wys julle is jammer oor julle sondes nie. Julle berou moet uit julle binneste uit kom; julle manier van leef moet verander. Kom terug na die Here julle God toe. Hy is vol goedheid en Hy kry mense gou-gou jammer. Hy is nie haastig om te straf nie, Hy is vol liefde vir mense. Hy is bereid om sy straf terug te trek en mense te vergewe. Wie weet of die Here nie dalk van plan sal verander en sal ophou om vir julle kwaad te wees nie! Dalk gee Hy weer vir julle groot oeste. Dan kan julle weer vir die Here julle God offers van koring en wyn bring om Hom te eer. Blaas op trompette in Sion! Roep ’n vasdag uit waar almal sonder kos klaarkom om te wys hulle is regtig jammer oor hulle sonde. Roep die gemeente op vir ’n vergadering. Kry almal bymekaar. Maak hulle gereed vir ’n spesiale byeenkoms. Bring die oumense, die kinders en die babas. Selfs pasgetroude paartjies wat op wittebrood is, moet hierdie vergadering bywoon. Die priesters wat in diens van die Here is, moet tussen die ingang van die tempel en die altaar, daar waar die offers gebring word, gaan staan en huil. Hulle moet ernstig bid: “Here, kry u mense jammer. Moenie toelaat dat ander volke spot met ons wat aan U behoort en vermakerig vir ons vra: ‘Waar is Israel se God?’ nie.”

JOËL 2:12-17 ABA (Bybel vir almal)

Maar die Here sê daar is nog tyd. Hy sê: “Julle moet terugkom na My toe. Julle moet My altyd dien, julle moet net vir My dien.” Julle moet vas en huil en treur. Moenie net vir mense wys julle is jammer nie, wys dit vir die Here. Moenie net julle klere skeur nie, skeur julle harte. Julle moet terugkom na julle God die Here toe, want Hy is genadig en goed vir mense wat swaarkry. Hy is geduldig en vol liefde. Hy vergewe mense se sonde maklik. Miskien sal Hy julle sonde vergewe en julle weer seën. Dan sal daar weer koring-offers en drank-offers wees vir julle God die Here. Julle moet die ramshoring blaas op Sionsberg. Julle moet 'n dag aan die Here wy, en almal moet op daardie dag vas. Julle moet al die mense roep om bymekaar te kom. Julle moet die mense bymekaarmaak en die gemeente wy, julle moet al die mense bymekaarmaak, die mense wat oud is, die kinders en ook die babatjies wat nog aan hulle ma's drink. Die bruidegom en die bruid moet ook uitkom uit hulle slaapkamer. Die priesters moet dan tussen die tempel en die altaar staan en hulle moet huil. Die priesters, die mense wat vir die Here werk, moet dan bid en sê: “Here, U moet asseblief jammer wees vir u volk, ons behoort aan U. Die ander volke spot en lag vir ons. U moet hulle stop. Hulle sê: ‘Waar is daardie mense se God? Hoekom help Hy hulle nie?’ ”

JOËL 2:12-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die HERE. Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. Wie weet, dalk draai Hy om, het berou, en laat 'n seëning agter Hom oorbly – 'n •graanoffer en 'n •drankoffer vir die HERE julle God. Blaas die ramshoring op Sion, bepaal 'n heilige vastyd, roep 'n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Tussen die voorhof en die altaar moet die priesters huil, hulle wat in diens van die HERE staan. Hulle moet sê: “Spaar u volk, HERE, moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering, sodat nasies met hulle spot nie. Waarom moet hulle onder die volke vra, ‘Waar is hulle God?’ ”

JOËL 2:12-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Daarom ook nou, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart en met vas en geween en rou. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God, want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot goedertierenheid, en Hy het berou oor die onheil. Wie weet of hy sal terugkeer en berou sal hê en 'n seën agter hom laat; 'n spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE jou God? Blaas die basuin in Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n plegtige byeenkoms. Versamel die volk, heilig die vergadering, laat die oudstes bymekaarkom, versamel die kinders en dié wat die borste suig; laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar kleedkamer. Laat die priesters, die dienaars van die HERE, ween tussen die voorportaal en die altaar, en laat hulle sê: Spaar u volk, HERE, en gee u erfdeel nie aan smaad nie, dat die heidene oor hulle sou heers nie; waarom moet hulle sê onder die volk: Waar is hulle God?