Joël 2:12-17
Joël 2:12-17 AFR20
“Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou,” is die uitspraak van die HERE. Skeur julle harte, en nie julle klere nie, draai om na die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring. Wie weet, dalk draai Hy om, het berou, en laat 'n seëning agter Hom oorbly – 'n •graanoffer en 'n •drankoffer vir die HERE julle God. Blaas die ramshoring op Sion, bepaal 'n heilige vastyd, roep 'n gewyde byeenkoms uit. Roep die volk byeen, heilig die geloofsgemeenskap, versamel die oudstes, maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge. Laat die bruidegom uit sy kamer kom, die bruid uit haar bruidskamer. Tussen die voorhof en die altaar moet die priesters huil, hulle wat in diens van die HERE staan. Hulle moet sê: “Spaar u volk, HERE, moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering, sodat nasies met hulle spot nie. Waarom moet hulle onder die volke vra, ‘Waar is hulle God?’ ”








