Joël 2

2
Koms van die dag van die Here
1 Blaas die •ramshoring op Sion,
maak alarm op my heilige berg!
Al die inwoners van die land moet bewe,
want die dag van die Here
is aan die kom,
ja, dit is naby!
2 Dit is 'n dag van duisternis en donkerte,
'n dag van wolke en diepe duisternis.
Soos die rooidag wat oor die berge uitsprei,
so is daar 'n groot en magtige volk
soos daar nog nooit tevore was,
of ooit weer sal wees nie
tot in die verste nageslag.
3 Voor hulle uit verteer 'n vuur,
en agter hulle verskroei 'n vlam.
Soos die tuin van Eden
is die land voor hulle,
maar agter hulle
lê 'n verlate woestyn.
Boonop is dit nie moontlik
om van hulle te ontvlug nie.
4 Soos perde lyk hulle,
soos oorlogsperde, so hardloop hulle.
5 Soos met die geratel van strydwaens
storm hulle oor die bergtoppe,
soos die geknetter van vlamme
wat strooi verteer,
soos 'n magtige volk
wat vir die oorlog opgestel is.
6 Voor hom bewe volke,
almal se gesigte is doodsbleek.
7 Soos krygshelde storm hulle,
soos krygsmanne klim hulle
teen die stadsmuur uit:
Elkeen van hulle gaan reguit vorentoe,
hulle verander nie van rigting nie.
8Die een hinder die ander nie,
elke manskap bly op koers;
al sneuwel sommige onder die aanslag,
hulle wyk nie af nie.
9 Hulle bestorm die stad,
op die stadsmuur hardloop hulle,
die huise val hulle binne,
deur die vensters klim hulle soos diewe.
10 Voor hierdie volk bewe die aarde,
skud die hemele.
Son en maan word duister,
die sterre hou hulle glans terug.
11 En die Here self verhef sy stem
voor sy leërmag uit,
want geweldig groot is sy leër,
ja, magtig is hulle wat sy bevel uitvoer.
Voorwaar, die dag van die Here
is groot, uitermate verskriklik –
wie kan dit verduur?
12 “Maar selfs nou, keer terug
na My met julle hele hart,
vas en huil en rou,”
is die uitspraak van die Here.
13 Skeur julle harte,
en nie julle klere nie,
draai om na die Here julle God;
want Hy is genadig en barmhartig,
geduldig en oorvloedig in troue liefde,
Hy het berou oor die onheil wat Hy bring.
14 Wie weet, dalk draai Hy om, het berou,
en laat 'n seëning agter Hom oorbly –
'n •graanoffer en 'n •drankoffer
vir die Here julle God.
15 Blaas die ramshoring op Sion,
bepaal 'n heilige vastyd,
roep 'n gewyde byeenkoms uit.
16 Roep die volk byeen,
heilig die geloofsgemeenskap,
versamel die oudstes,
maak die kinders bymekaar, ook die suigelinge.
Laat die bruidegom uit sy kamer kom,
die bruid uit haar bruidskamer.
17 Tussen die voorhof en die altaar
moet die priesters huil,
hulle wat in diens
van die Here staan.
Hulle moet sê: “Spaar u volk, Here,
moet u erfdeel nie oorgee aan vernedering,
sodat nasies met hulle spot nie.
Waarom moet hulle onder die volke vra,
‘Waar is hulle God?’ ”
18 Daarop het die Here Hom
vir sy land beywer,
Hy was jammer vir sy volk.
19 Die Here het geantwoord,
Hy het vir sy volk gesê:
“Kyk, Ek stuur vir julle koring
en •nuwe wyn en olie,
sodat julle daarvan versadig kan word,
Ek gee julle nie langer daaraan oor
om deur die nasies verneder te word nie.
20 Die vyand uit die noorde
sal Ek uit julle midde verwyder,
Ek sal hom na 'n dor en verlate land verdryf:
sy voorhoede na die oostelike see,
sy agterhoede na die westelike see.
Sy stank sal opstyg,
sy slegte reuk sal optrek,
omdat hy groot dinge probeer doen het.
21“ Moenie bang wees nie, landerye,
juig en wees bly,
want die Here doen groot dinge!
22 Moenie bang wees nie, wilde diere,
want die weiding van die woestyn word groen,
ja, die bome dra hulle vrugte,
die vyeboom en die wingerdstok
lewer hulle volle opbrengs.
23 “Kinders van Sion, juig en wees bly
in die Here julle God,
want Hy gee vir julle reën
as teken van geregtigheid,
soos voorheen, sal Hy stortbuie
en laatreëns vir julle laat uitsak.
24 Dan sal die dorsvloere
vol skoon graan wees,
die kuipe sal oorloop
van nuwe wyn en olie.
25“ Ek sal julle vergoed vir die jare
toe die treksprinkane, die voetgangers,
die kaalvreters en die ruspes
alles opgevreet het,
daardie groot leërmag van My
wat Ek teen julle uitgestuur het.
26 Dan sal julle oorgenoeg kan eet en versadig word,
en julle sal die Naam van die Here
julle God loof,
wat wonderlike dinge met julle
laat gebeur het.
My volk sal nooit weer
in die skande kom nie.
27 Dan sal julle weet
dat Ek in julle midde is, Israel.
Ek is die Here julle God
en niemand anders nie.
My volk sal nooit weer
in die skande kom nie.”
Hoop vir die toekoms
28 “ Ná hierdie dinge sal Ek
my Gees uitstort op alle mense.
Dan sal julle seuns en julle dogters profeteer.
Julle ou mense sal drome droom,
en julle jong mense
sal visioene sien.
29 Selfs op die slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae
my Gees uitstort.
30 Ek sal tekens gee in die hemel
en op aarde:
bloed en vuur en kolomme rook.
31 Die son sal verander word in donkerte,
en die maan in bloed,
voordat die groot en verskriklike
dag van die Here kom.
32 Dan sal elkeen wat die Naam
van die Here aanroep, ontkom;
want op die berg Sion
en in Jerusalem sal daar
ontvlugting wees,
soos die Here gesê het.
Net hulle wat deur die Here
geroep word, sal vry wees.”

Tans Gekies:

Joël 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid