AMOS 5:18-27

AMOS 5:18-27 Die Boodskap (DB)

“Daar wag ’n verskriklike teleurstelling vir die mense wat nie meer kan wag dat die dag van die Here moet kom nie. Wat dink julle gaan op daardie dag met julle gebeur? Daardie dag gaan vir julle nag wees. Vergeet daarvan dat dit vir julle ’n dag gaan wees waarop julle gered sal word. Dit sal op daardie dag wees soos iemand wat weghardloop vir ’n leeu en hom dan vashardloop in ’n beer. As hy hardloop om in sy huis te gaan wegkruip en hy druk met sy hand teen die muur, pik ’n slang hom wat tussen die klippe van die muur bly. “Die dag van die Here bring nie vir julle enige uitkoms nie. Dis ’n donker dag van vrees. Daar sal nie enigiets op daardie dag gebeur waarop julle kan hoop nie.” “Ek hou glad nie van hierdie feeste wat julle vir My hou nie. Ek het hoegenaamd geen plesier daarin wanneer julle bymekaarkom om tot My te bid nie. “Ek het niks daaraan wanneer julle vir My offers op die altaar brand of graan vir My kom aanbied nie. Ek sien dit nie eens raak wanneer julle offers bring wat julle saam met My wil eet nie. Dit roer My nie eens as julle diere kom offer wat julle vir My vetgemaak het nie. Spaar My die lawaai wat julle maak as julle vir My sing. Ek wil nie luister na die harpmusiek wat julle vir My maak nie. “Wees eerder regverdig. Laat dit aangerol kom soos branders by die see. Laat eerder alles wat regverdig is deur julle lewe vloei soos ’n rivier wat nooit gaan staan nie. “Het julle toe julle 40 jaar lank in die woestyn was, vir My offers gebring van diere wat julle geslag het of offers waarvan julle julle deel saam met My geëet het daar by my tent, Israel? Was dit nie eerder die stergod koning Sikkut en julle afgodsbeeld Kijun wat julle in julle hart saamgedra het nie? “Ek gaan julle vyand laat kom en julle wegvat uit julle land tot ver anderkant Damaskus verby,” sê die Here. “Ek is God. Ek is verskriklik sterk.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid