AMOS 5

5
’n Treurlied oor Israel
1Volk van Israel, luister na die woorde van die treurlied wat ek oor julle sing:
2“Die jong meisie Israel
het geval.
Sy sal nie weer opstaan nie!
Sy lê verlate op die grond
met niemand
om haar op te help nie.”
3So sê die oppermagtige Here:
“As ’n stad in Israel
1 000 manskappe uitstuur,
sal net 100 oorleef.
As ’n stad
100 manskappe uitstuur,
sal net tien dit oorleef.”
4Verder sê die Here
vir die volk Israel:
“Kom terug na My toe, en leef!
5Moenie afgode raadpleeg
in Bet-El nie.
Moet ook nie na Gilgal gaan
of na Berseba toe nie.
Die mense van Gilgal
sal in ballingskap gaan.
Niks sal oorbly
van die mense van Bet-El nie.”
6Kom terug na die Here toe
en leef!
As julle dit nie doen nie,
sal Hy soos vuur
deur die nageslag van Josef trek.
Die vlamme sal Bet-El verteer
sonder dat iemand dit blus.
7Julle verdraai die reg tot onreg,
regverdigheid verwerp julle.
8Hy, die Skepper
van die Sewester en Orion,
sy Naam is Here.
Hy verander
donkernag in môrelig
en die dag in nag.
Hy roep die water uit die see
en giet dit weer oor die aarde.
9In ’n oogwink
oorweldig Hy magtige mense
en vernietig Hy vestings.
10Julle haat eerlike regters.
Julle verafsku mense
wat die waarheid praat.
11Julle vertrap die armes
en eis ’n deel van hulle graan.
Daarom, omdat julle dit doen,
sal julle nooit kan woon
in die deftige steenhuise
wat julle bou nie.
Julle het wingerde aangeplant,
maar julle sal nooit drink
van die wyn wat dit oplewer nie.
12Ek weet hoeveel oortredings
julle het
en hoe groot julle sondes is.
Julle onderdruk goeie mense
deur omkoopgeld te eis.
Julle ontneem die armes
van hulle reg in die howe.
13’n Verstandige mens
bly in hierdie tyd eerder stil
omdat dit ’n tyd vol onreg is.
14Doen wat goed is
en vlug vir die kwaad,
dan sal julle lewe!
Dan sal Hy, die Here God,
die Almagtige, by julle wees
soos julle gesê het dat Hy is.
15Julle moet die bose haat
en die goeie liefhê.
Sorg dat regverdigheid
in die howe seëvier.
Miskien sal die Here God,
die Almagtige, nog genade hê
vir dié wat oorgebly het
van Josef se nageslag.
16Die Here God,
die Almagtige, die Here, sê:
“Omdat dit gebeur het,
sal mense op die pleine
en op al die strate
uitroep van smart.
Roep die boere op
om saam met julle te huil
en die gehuurde rouklaers
om te kla.
17Selfs in die wingerde
sal mense huil,
want Ek beweeg onder julle
om julle te straf,”
sê die Here.
Die Dag van die Here
18Daar wag ’n ontnugtering
op julle wat uitsien
na die Dag van die Here.
Waarom wens julle
dat die Dag van die Here
moet kom?
Dit gaan ’n donker dag wees,
nie ’n dag van lig nie.
19Dit sal wees soos iemand
wat weghardloop vir ’n leeu,
maar hom vasloop teen ’n beer.
En wanneer hy by die huis kom
en met sy hand leun
teen die muur,
word hy deur ’n slang gepik.
20Die Dag van die Here
sal ’n donker dag wees,
sonder enige lig van hoop.
’n Somber en uitsiglose dag!
21“Ek haat, Ek verafsku
julle feeste.
Ek vind geen plesier
in julle samekomste nie.
22Ek sal nie
julle brandoffers
en graanoffers
aanvaar nie.
Ek sal My nie eers steur
aan die vetgemaakte diere
wat julle as offers bring nie.
23Hou op om lofliedere te sing,
dit is net ’n geraas!
Ek sal ook nie na die melodieë
van julle harpe luister nie.
24Ek wil liewer ’n vloed
van regverdigheid sien,
’n eerlike leefwyse
soos ’n stroom water
wat nie ophou vloei nie.
25“Israel, was dit vir My
dat julle 40 jaar lank
brandoffers en graanoffers
in die woestyn gebring het?
26Nee, dit was eerder
vir die koninggod Sikkut
en die stergod Kijun
wat julle self gemaak
en saamgedra het.
27Daarom sal Ek julle wegstuur
in ballingskap,
na ’n land oos van Damaskus.”
Dit sê Hy wat genoem word
die Here God, die Almagtige.

Tans Gekies:

AMOS 5: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid