AMOS 5

5
Die derde strafrede: klaaglied oor Israel.
1HOOR hierdie woord wat Ek oor julle as klaaglied aanhef, o huis van Israel!
2 Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie.
3Want so sê die Here Here: Die stad wat met duisend uitgetrek het, hou honderd oor; en die wat met honderd uitgetrek het, hou tien oor vir die huis van Israel.
4Want so sê die Here aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe!
5Maar soek Bet-el nie, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie. Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie.
6Soek die Here, dan sal julle lewe, sodat Hy nie teen die huis van Josef uitbreek soos 'n vuur wat verteer sonder dat iemand dit vir Bet-el kan blus nie.
7 Julle wat die reg in wildeals verander en die geregtigheid teen die grond gooi!
8Hy wat die Sewe-ster en die Oríon gemaak het en die duisternis in môrelig verander en die dag tot nag verduister, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde — Here is sy Naam!
9Hy wat verwoesting laat aanblits oor die sterke, en verwoesting kom oor die vesting!
10Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf, en hulle het 'n afsku van hom wat in opregtheid spreek.
11Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom 'n heffing van koring neem, het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie.
12Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort.
13Daarom swyg die verstandige in so 'n tyd, want dit is 'n onheilspellende tyd.
14Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die Here, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê.
15Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort — miskien sal die Here, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef.
16Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare, die Here: Op al die pleine weeklag! En op al die strate sal hulle sê: Ag, ag! En hulle sal na die landbouer roep om te treur, en te weeklaag na die wat verstaan om treurliedere te sing.
17Ook sal daar in al die wingerde weeklag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek, sê die Here.
18Wee die wat na die dag van die Here verlang! Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie.
19Soos wanneer iemand vlug vir 'n leeu, maar 'n beer loop hom raak; of hy kom in die huis en leun met sy hand teen die muur, en 'n slang byt hom!
20Is die dag van die Here nie duisternis en geen lig nie, ja, donkerheid sonder 'n ligstraal?
21 Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie.
22Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie.
23Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie.
24Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom.
25 Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel,
26en ook gedra Sakkut, julle koning, en Kewan, julle beelde, julle stergod wat julle vir julle gemaak het?
27Daarom sal Ek julle anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer, sê die Here wie se Naam God van die leërskare is.

Tans Gekies:

AMOS 5: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid