HANDELINGE 17:22-34

HANDELINGE 17:22-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan 'n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek. Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor. En so het Paulus van hulle weggegaan. Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en 'n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle.

HANDELINGE 17:22-34 Bybel vir almal (ABA)

Paulus het toe voor die vergadering op die Areopagus gaan staan en hy het gesê: “Mense van Atene, ek sien dat julle aanhou om julle gode te dien saam met alles wat julle in julle lewe doen. Ek het deur julle stad geloop en ek het gekyk na die plekke waar julle al julle gode aanbid. Toe het ek ook 'n altaar gekry en op die altaar is daar geskryf: ‘Hierdie altaar is vir die god wat ons nie ken nie.’ Ek wil vir julle vertel van hierdie God, julle ken Hom nie, maar julle aanbid Hom. Hierdie God het die wêreld gemaak en ook alles wat daarin is. Hý is die Here van die hemel en die aarde, en Hy woon nie in tempels wat mense gemaak het nie. Mense moenie vir hierdie God sorg nie, dit is nie nodig nie. Hy is die Een wat vir al die mense lewe gee, Hy laat hulle asemhaal, en Hy gee alles vir hulle. God het een mens, Adam, gemaak, en al die volke kom van Adam. God het gesê die mense moet op die hele aarde woon en Hy het besluit hoe lank en waar hulle sal woon. God het dit gedoen sodat die mense vir Hom sal probeer soek soos mense wat rondvoel in die donker om Hom te probeer kry. Maar Hy is nie ver van elkeen van ons nie. “Want “ God laat ons lewe, Hy laat ons doen wat ons doen, Hy laat ons aanhou lewe. “Party van julle skrywers het ook gesê: “ Ook ons is sy nageslag. “Omdat ons die nageslag van God is, moet ons nie dink dat God lyk soos 'n beeld van goud of silwer of klip nie. Mense dink God lyk so, en dan maak hulle so 'n beeld. Dit is waar dat God nie die mense gestraf het in die tyd toe hulle Hom nie geken het nie, maar Hy sê vir al die mense op al die plekke dat hulle nou hulle lewe moet verander en moet lewe soos Hy wil hê. Hulle moet dit doen omdat Hy gesê dat daar 'n dag sal kom wanneer Hy sal doen wat reg is, Hy sal al die mense van die wêreld dan oordeel. God het vir Jesus gekies om dit te doen. God het ook vir almal gewys dat dit waarlik sal gebeur, want Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe.” Toe hulle hoor dat Paulus sê dat God mense wat dood is, weer laat lewe, het party mense vir Paulus begin lag en spot, maar party het gesê: “Ons sal weer wil hoor wat jy hieroor sê.” Nadat dit gebeur het, het Paulus toe weggegaan uit die vergadering van die Areopagus. Maar party mense het gedink Paulus is reg en hulle het in Christus begin glo. Dionisius, een van die mans in die vergadering van die Areopagus, en 'n vrou, haar naam was Damaris, en nog ander mense het saam met hulle in Christus begin glo.

HANDELINGE 17:22-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan 'n onbekende god.’ “Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding. “God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” So het Paulus van hulle af weggegaan. 'n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.

HANDELINGE 17:22-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan 'n onbekende god.’ Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie – dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, “ ‘Ons is ook van sy geslag.’ “Aangesien ons dan van God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike wese soos goud of silwer of klip is nie – 'n beeld gevorm deur die vaardigheid en ingewing van 'n mens. God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer. Want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur 'n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.” Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het sommige hom uitgelag, terwyl ander gesê het: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” So het Paulus uit hulle midde vertrek. 'n Paar manne het egter gelowig geword en by hom aangesluit, onder wie Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris, en nog ander saam met hulle.

HANDELINGE 17:22-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe gaan Paulus in die middel van die heuwel van Mars staan en sê: Manne van Athene, ek sien dat julle in alles te bygelowig is. Want toe ek verbygaan en julle goddeloosheid aanskou, het ek 'n altaar gevind met hierdie opskrif: AAN DIE ONBEKENDE GOD. Wie julle dan onwetend aanbid, hom verkondig Ek julle. God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, aangesien Hy Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie; Ook word hy nie met mensehande aanbid asof hy iets nodig het nie, omdat Hy aan alle lewe en asem en alles gee; En Hy het uit een bloed al die nasies van mense gemaak om op die hele aarde te woon, en het vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek bepaal; dat hulle die Here sou soek, as hulle Hom miskien kon aanvoel en Hom vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons af nie. Want in Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons; soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy nageslag. Aangesien ons dan die nageslag van God is, behoort ons nie te dink dat die Godheid soos goud of silwer of klip is wat deur kuns en mens se plan gegraveer is nie. En na die tye van hierdie onkunde het God geknipoog; maar nou beveel alle mense oral om hulle te bekeer: Omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur die man wat Hy aangestel het; waarvan Hy aan alle mense versekering gegee het deurdat Hy Hom uit die dode opgewek het. En toe hulle hoor van die opstanding van die dooies, het sommige gespot, en ander het gesê: Ons sal jou weer van hierdie saak hoor. Toe het Paulus onder hulle weggegaan. Maar sekere manne het hom aangehang en geglo: onder wie was Dionisius, die Areopagiet, en 'n vrou met die naam van Damaris, en ander saam met hulle.

HANDELINGE 17:22-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus het toe in die middel van die Areopagusraad stelling ingeneem en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte nogal regtig godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die voorwerpe wat julle aanbid, het ek ook ’n altaar gesien met die inskripsie: ‘Aan ’n onbekende god.’ Nou ja, hierdie God wat julle aanbid sonder om Hom te ken, Hóm verkondig ek aan julle. “Hy is die God wat die wêreld met alles daarin gemaak het. Hy is die Here van hemel en aarde, en daarom woon Hy nie in tempels wat met mensehande gebou is nie. Mensehande kan nie na sy behoeftes omsien nie, want Hy het aan niks behoefte nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee. Uit een mens het Hy elke nasie van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon. Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek. “God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie. Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons is sy nageslag.’ Ons moet dus nie aan God dink in terme van beelde van goud, silwer of klip nie. Ons is dan self sy nageslag. Sulke beelde is bloot skeppings van mense se vaardigheid en verbeelding. God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer. Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het party hom uitgelag, maar ander het gesê: “Ons wil graag later meer hieroor van jou hoor.” Daarmee het Paulus uit hulle midde vertrek.’n Paar persone het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagusraad, en Damaris, ’n vrou, en nog ’n paar saam met hulle.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid