Handelinge 17:22-34

Handelinge 17:22-34 ABA

Paulus het toe voor die vergadering op die Areopagus gaan staan en hy het gesê: “Mense van Atene, ek sien dat julle aanhou om julle gode te dien saam met alles wat julle in julle lewe doen. Ek het deur julle stad geloop en ek het gekyk na die plekke waar julle al julle gode aanbid. Toe het ek ook 'n altaar gekry en op die altaar is daar geskryf: ‘Hierdie altaar is vir die god wat ons nie ken nie.’ Ek wil vir julle vertel van hierdie God, julle ken Hom nie, maar julle aanbid Hom. Hierdie God het die wêreld gemaak en ook alles wat daarin is. Hý is die Here van die hemel en die aarde, en Hy woon nie in tempels wat mense gemaak het nie. Mense moenie vir hierdie God sorg nie, dit is nie nodig nie. Hy is die Een wat vir al die mense lewe gee, Hy laat hulle asemhaal, en Hy gee alles vir hulle. God het een mens, Adam, gemaak, en al die volke kom van Adam. God het gesê die mense moet op die hele aarde woon en Hy het besluit hoe lank en waar hulle sal woon. God het dit gedoen sodat die mense vir Hom sal probeer soek soos mense wat rondvoel in die donker om Hom te probeer kry. Maar Hy is nie ver van elkeen van ons nie. “Want “ God laat ons lewe, Hy laat ons doen wat ons doen, Hy laat ons aanhou lewe. “Party van julle skrywers het ook gesê: “ Ook ons is sy nageslag. “Omdat ons die nageslag van God is, moet ons nie dink dat God lyk soos 'n beeld van goud of silwer of klip nie. Mense dink God lyk so, en dan maak hulle so 'n beeld. Dit is waar dat God nie die mense gestraf het in die tyd toe hulle Hom nie geken het nie, maar Hy sê vir al die mense op al die plekke dat hulle nou hulle lewe moet verander en moet lewe soos Hy wil hê. Hulle moet dit doen omdat Hy gesê dat daar 'n dag sal kom wanneer Hy sal doen wat reg is, Hy sal al die mense van die wêreld dan oordeel. God het vir Jesus gekies om dit te doen. God het ook vir almal gewys dat dit waarlik sal gebeur, want Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe.” Toe hulle hoor dat Paulus sê dat God mense wat dood is, weer laat lewe, het party mense vir Paulus begin lag en spot, maar party het gesê: “Ons sal weer wil hoor wat jy hieroor sê.” Nadat dit gebeur het, het Paulus toe weggegaan uit die vergadering van die Areopagus. Maar party mense het gedink Paulus is reg en hulle het in Christus begin glo. Dionisius, een van die mans in die vergadering van die Areopagus, en 'n vrou, haar naam was Damaris, en nog ander mense het saam met hulle in Christus begin glo.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 17:22-34

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid