HANDELINGE 17:22-34

HANDELINGE 17:22-34 NLV

Paulus het toe in die middel van die Areopagusraad stelling ingeneem en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte nogal regtig godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die voorwerpe wat julle aanbid, het ek ook ’n altaar gesien met die inskripsie: ‘Aan ’n onbekende god.’ Nou ja, hierdie God wat julle aanbid sonder om Hom te ken, Hóm verkondig ek aan julle. “Hy is die God wat die wêreld met alles daarin gemaak het. Hy is die Here van hemel en aarde, en daarom woon Hy nie in tempels wat met mensehande gebou is nie. Mensehande kan nie na sy behoeftes omsien nie, want Hy het aan niks behoefte nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee. Uit een mens het Hy elke nasie van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon. Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek. “God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie. Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons is sy nageslag.’ Ons moet dus nie aan God dink in terme van beelde van goud, silwer of klip nie. Ons is dan self sy nageslag. Sulke beelde is bloot skeppings van mense se vaardigheid en verbeelding. God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer. Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.” Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het party hom uitgelag, maar ander het gesê: “Ons wil graag later meer hieroor van jou hoor.” Daarmee het Paulus uit hulle midde vertrek.’n Paar persone het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagusraad, en Damaris, ’n vrou, en nog ’n paar saam met hulle.

Gratis leesplanne en oordenkings oor HANDELINGE 17:22-34

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid