Handelinge 17:22-34

Handelinge 17:22-34 AFR20

Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan 'n onbekende god.’ Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie – dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, “ ‘Ons is ook van sy geslag.’ “Aangesien ons dan van God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike wese soos goud of silwer of klip is nie – 'n beeld gevorm deur die vaardigheid en ingewing van 'n mens. God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer. Want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur 'n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.” Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het sommige hom uitgelag, terwyl ander gesê het: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” So het Paulus uit hulle midde vertrek. 'n Paar manne het egter gelowig geword en by hom aangesluit, onder wie Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris, en nog ander saam met hulle.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 17:22-34

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid