2 KONINGS 6:8-23

2 KONINGS 6:8-23 Bybel vir almal (ABA)

Die koning van Aram het oorlog gemaak teen Israel. Hy het saam met sy offisiere planne gemaak en hy het besluit om sy tente op 'n plek op te slaan. Maar die man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Pasop dat julle nie by daardie plek verbygaan nie, want die Arameërs gaan daarnatoe.” Die koning van Israel het 'n boodskap gestuur en hy het die mense wat daar was, gewaarsku. Dit het meer as een maal gebeur. Die koning van Aram het bekommerd geword daaroor en hy het sy offisiere geroep en vir hulle gesê: “Julle moet vir my sê wie van ons manne vertel vir die koning van Israel van ons planne.” Een van sy offisiere het gesê: “Nee, Meneer die koning, dit is nie een van ons manne nie, dit is die profeet Elisa wat daar in die land Israel is. Hy weet alles en hy kan vir sy koning ook die dinge sê wat jy in jou slaapkamer praat.” Die koning van Aram het gesê hulle moet uitvind waar Elisa is, sodat hy mense kan stuur om vir Elisa te vang. Die koning hoor toe dat Elisa in die stad Dotan is. Die koning van Aram stuur toe perde en oorlogkarre en baie manne na Dotan. Hulle het in die nag daar gekom en hulle het rondom die stad gaan staan. Die volgende oggend het die bediende van Elisa, die man van God, vroeg opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy al die manne en die perde en die oorlogkarre rondom die stad. Hy het vir Elisa gesê: “Ag, Meneer, wat moet ons doen?” Elisa het vir die bediende gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie, daar is meer by ons as by hulle.” Elisa het gebid en gevra: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy kan sien.” Die Here het die oë van die jongman oopgemaak, en toe sien hy dat die berge rondom Elisa vol perde en oorlogkarre van vuur is. Toe die Arameërs nader kom, het Elisa tot die Here gebid en gevra: “Here, laat hierdie mense asseblief blind word.” Die Here het gedoen wat Elisa gevra het, en die Arameërs het blind geword. Elisa het vir hulle gesê: “Julle is op die verkeerde pad en by die verkeerde stad. Kom saam met my, dan sal ek julle bring in die stad wat julle soek.” En toe bring Elisa die Arameërs na die stad Samaria. Toe hulle in Samaria kom, het Elisa gebid: “Here, maak nou hierdie manne se oë oop sodat hulle kan sien.” Die Here het dit gedoen, en toe hulle kyk, was hulle binne-in Samaria. Die koning van Israel het vir Elisa gevra: “Meneer, moet ek hierdie Arameërs doodmaak?” Maar Elisa het gesê: “Nee, jy moenie vir hulle doodmaak nie. Jy het hulle nie in 'n oorlog gevang nie, daarom mag jy hulle nie doodmaak nie. Gee vir hulle kos en water sodat hulle kan eet en kan teruggaan na hulle koning toe.” Die koning van Israel het toe vir hulle 'n groot fees-ete gegee, en nadat die Arameërs geëet en gedrink het, het hy hulle laat gaan. Hulle het teruggegaan na hulle koning toe, en die Arameërs het nie gou weer die stede in die land Israel kom aanval nie.

2 KONINGS 6:8-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Terwyl die koning van Aram besig was om oorlog te voer teen Israel, het hy met sy dienaars beraadslaag en gesê: Op dié en dié plek sal my laer staan. Maar die man van God het die koning van Israel laat weet: Pas op dat u nie deur daardie plek trek nie, want die Arameërs trek daarheen af. Daarom het die koning van Israel na die plek gestuur waarvan die man van God met hom gespreek en waarvoor hy hom gewaarsku het. En hy was daar op sy hoede, nie net een maal of twee maal nie. Toe word die hart van die koning van Aram hieroor onrustig, en hy roep sy dienaars en sê vir hulle: Kan julle my nie te kenne gee wie van ons mense vir die koning van Israel is nie? En een van sy dienaars antwoord: Nee, my heer die koning, maar Elísa, die profeet wat in Israel is, kan die koning van Israel die woorde te kenne gee wat u in u slaapkamer spreek. En hy sê: Gaan kyk waar hy is, dat ek hom kan laat vang. En daar is aan hom te kenne gegee en gesê: Hy is daar in Dotan. So het hy dan daarheen perde en strydwaens en 'n swaar leër gestuur, en hulle het in die nag gekom en die stad omsingel. En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar 'n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak? Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa. En toe hulle na hom afkom, het Elísa tot die HERE gebid en gesê: Slaan tog hierdie mense met blindheid. En Hy het hulle op die woord van Elísa met blindheid geslaan. Daarop sê Elísa vir hulle: Dit is nie die weg, en dit is nie die stad nie; volg my, dan sal ek julle lei na die man wat julle soek; en hy het hulle na Samaría gelei. En by hulle aankoms in Samaría, sê Elísa: HERE, open hulle oë, dat hulle kan sien. En die HERE het hulle oë geopen, dat hulle kon sien, en daar was hulle binne-in Samaría! En die koning van Israel sê vir Elísa toe hy hulle sien: Moet ek verslaan, moet ek verslaan, my vader? Maar hy antwoord: U mag nie verslaan nie. Sou u dan verslaan die wat u met u swaard en u boog as gevangenes weggevoer het? Sit aan hulle brood en water voor, dat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan trek. En hy het hulle 'n groot maaltyd berei; en nadat hulle geëet en gedrink het, laat hy hulle gaan; en hulle het na hul heer getrek. En die bendes van die Arameërs het verder nie meer in die land van Israel gekom nie.

2 KONINGS 6:8-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die koning van Aram was in oorlog met Israel gewikkel en het telkens met sy offisiere afgespreek dat hy op 'n sekere plek sou kamp opslaan. Die man van God het dan aan die koning van Israel die volgende boodskap gestuur: “Pas op dat u nie na daardie plek toe optrek nie, want die Arameërs trek soontoe op.” Gevolglik het die koning van Israel boodskappe deurgestuur na die plek toe wat die man van God aan hom genoem het en hom voor gewaarsku het. Die mense daar was dan keer op keer voorbereid. Die koning van Aram het baie onrustig geword hieroor. Hy het sy offisiere laat roep en vir hulle gesê: “Ek wil van julle weet wie van ons dra nuus oor aan die koning van Israel.” Een van sy offisiere het geantwoord: “Nie een van ons nie, U Majesteit, maar die profeet Elisa daar in Israel kan vir die koning van Israel vertel selfs wat u in u slaapkamer sê.” Die koning van Aram het gesê: “Gaan vind uit waar hy is, dan stuur ek manne om hom te vang.” Die koning is meegedeel: “Hy is in Dotan.” Die koning stuur toe perde, strydwaens en 'n sterk mag daarheen. Hulle het in die nag gekom en die stad omsingel. Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy 'n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. “Ag, Meneer!” sê die slaaf vir Elisa, “wat gaan ons nou maak?” Hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur. Toe die Arameërs op hom afstorm, het Elisa tot die Here gebid: “Slaan tog hierdie mense met blindheid!” Die Here het hulle met blindheid geslaan net soos Elisa gevra het. Elisa sê toe vir hulle: “Dis nie die regte pad nie en dis nie die regte stad hierdie nie. Kom agter my aan, dan lei ek julle tot by die man vir wie julle soek.” Hy het hulle na Samaria toe gelei. Toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “Here, maak hierdie mense se oë oop dat hulle kan sien.” Toe die Here hulle oë oopmaak en hulle kyk, toe is hulle binne-in Samaria! Toe die koning van Israel hulle sien, vra hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, Meneer, moet ek hulle doodmaak?” “Nee, moet hulle nie doodmaak nie,” was sy antwoord. “Sou jý mense doodmaak wat jy met jou eie swaard en jou pyl en boog krygsgevange geneem het? Sit vir hulle eet- en drinkgoed voor, dat hulle kan eet voordat hulle teruggaan na hulle koning toe.” Die koning van Israel het vir hulle 'n groot feesmaal gegee. Nadat hulle geëet het, het hy hulle laat gaan, terug na hulle koning toe. Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie.

2 KONINGS 6:8-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die koning van Aram was besig om oorlog te voer teen Israel. Nadat hy met sy amptenare beraadslaag het, sê hy: “By so-en-so 'n plek sal my kamp wees.” Maar die man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Wees versigtig om nie by hierdie plek verby te trek nie, want die Arameërs val daarheen terug. ” Daarom het die koning van Israel 'n boodskap gestuur na die plek wat die man van God vir hom aangewys en waarteen hy hom gewaarsku het. Hulle was daar toe op hulle hoede. Dit het nie net een of twee keer gebeur nie. Die koning van Aram was ontsteld hieroor, en het sy amptenare ontbied en vir hulle gesê: “Kan julle my nie inlig wie van ons vir die koning van Israel is nie?” Een van sy amptenare het geantwoord: “Nie een van ons nie, my heer die koning; maar Elisa, die profeet wat in Israel is, deel die koning van Israel die woorde mee wat u in u slaapkamer praat.” Daarop sê hy: “Gaan kyk waar hy is, sodat ek hom kan laat vang.” Toe daar aan hom berig gebring is, “Kyk, hy is in Dotan! ” het hy perde en strydwaens en 'n sterk mag daarheen gestuur. Hulle het in die nag gekom en die dorp omsingel. Toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar sowaar 'n leërmag met perde en strydwaens om die dorp! Sy dienaar sê toe vir hom: “Ag, my heer, wat moet ons doen?” Maar hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, want hulle wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.” Elisa het toe gebid en gesê: “HERE, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” Daarop het die HERE die dienaar se oë oopgemaak, en hy sien toe – sowaar, die berg rondom Elisa is vol perde, en strydwaens van vuur! Toe die Arameërs na hom afkom, bid Elisa tot die HERE en sê: “Slaan tog hierdie nasie met blindheid!” Die HERE het hulle toe met blindheid geslaan, soos Elisa versoek het. Daarna sê Elisa vir hulle: “Dit is nie die pad hierdie nie, en dit is nie die dorp nie. Volg my, sodat ek julle kan lei na die man na wie julle soek.” Hy het hulle na Samaria gelei, en toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “HERE, maak hierdie mense se oë oop, sodat hulle kan sien.” Die HERE het hulle oë oopgemaak, en hulle sien toe hulle is sowaar binne-in Samaria! Toe hy hulle sien, sê die koning van Israel vir Elisa: “Moet ek aanval? Moet ek aanval, my vader? ” Maar hy antwoord: “Jy mag hulle nie aanval nie. Sou jy dié wat jy met jou swaard en boog gevange geneem het, aanval? Sit vir hulle brood en water voor, sodat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan gaan.” Hy het toe vir hulle 'n groot fees voorgesit. Nadat hulle geëet en gedrink het, het hy hulle weggestuur en hulle het na hulle heer toe gegaan. Die roofbendes van die Arameërs het toe nie meer in die gebied van Israel gekom nie.

2 KONINGS 6:8-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het die koning van Aram teen Israel oorlog gevoer en met sy dienaars beraadslaag en gesê: Op daardie en daardie plek sal my laer wees. En die man van God het na die koning van Israel gestuur om te sê: Pas op dat jy nie so 'n plek verbygaan nie; want daar het die Arameërs afgekom. En die koning van Israel het na die plek gestuur wat die man van God hom aangewys het en hom waarsku, en hom daar gered, nie een of twee keer nie. Daarom was die hart van die koning van Aram erg ontsteld oor hierdie saak; en hy het sy dienaars geroep en vir hulle gesê: Sal julle my nie wys wie van ons vir die koning van Israel is nie? Toe sê een van sy dienaars: Nie een nie, my heer die koning, maar Elisa, die profeet wat in Israel is, vertel die koning van Israel die woorde wat jy in jou slaapkamer spreek. En hy sê: Gaan kyk waar hy is, dat ek hom kan stuur en haal. En dit is aan hom meegedeel en gesê: Kyk, hy is in Dotan. Daarom het hy perde en strydwaens en 'n groot leër daarheen gestuur, en hulle het in die nag gekom en die stad omsingel. En toe die dienaar van die man van God vroeg opgestaan en uitgegaan het, kyk, daar het 'n leër die stad omsingel, met perde en strydwaens. En sy dienaar sê vir hom: Wee, my heer! hoe sal ons maak? En hy antwoord: Moenie vrees nie, want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van die jongman geopen; en hy het gesien, en kyk, die berg was vol perde en strydwaens van vuur rondom Elisa. En toe hulle by hom afkom, het Elísa tot die HERE gebid en gesê: Slaan tog hierdie volk met blindheid. En hy het hulle met blindheid geslaan volgens die woord van Elísa. Toe sê Elísa vir hulle: Dit is nie die weg nie, en dit is nie die stad nie; volg my, en ek sal julle bring na die man na wie julle soek. Maar hy het hulle na Samaria gelei. En toe hulle in Samaria aankom, het Elísa gesê: HERE, open die oë van hierdie manne, dat hulle kan sien. En die HERE het hulle oë geopen, en hulle sien; en kyk, hulle was in die middel van Samaria. Toe sê die koning van Israel vir Elísa toe hy hulle sien: My vader, moet ek hulle verslaan? sal ek hulle slaan? En hy antwoord: Jy mag hulle nie slaan nie; wil jy die wat jy gevange geneem het met jou swaard en met jou boog slaan? sit brood en water voor hulle, dat hulle kan eet en drink en na hulle heer gaan. En hy het vir hulle groot kos berei, en nadat hulle geëet en gedrink het, het hy hulle weggestuur, en hulle het na hul heer gegaan. So het die bendes van Aram nie meer in die land van Israel gekom nie.

2 KONINGS 6:8-23 Die Boodskap (DB)

Die Arameërs was in ’n oorlog met Israel gewikkel. Dit het telkens gebeur dat die Aramese koning met sy bevelvoerders vergader het en dat hulle besluit het om op ’n sekere plek aan te val. Dan het Elisa dadelik ’n boodskap na Israel se koning gestuur om hom te waarsku oor die betrokke plek. Hy sou vir hom laat weet: “Vermy hierdie plek, want dit is waar die Arameërs julle gaan aanval.” Die koning sou dan dadelik ’n boodskap na die betrokke plek toe stuur om die mense daar te waarsku om versigtig te wees. Dit het ’n hele paar keer gebeur. Die Aramese koning het al hoe onrustiger geraak omdat hulle geheime so uitgelek het. Hy het die leiersgroep byeengeroep en gesê: “Dis duidelik dat iemand uit die binnekring ons geheime aan die Israeliete verklap. Ek eis om te weet wie dit is!” “Dis nie een van ons nie, o koning,” het een van die offisiere geantwoord. “Dis Elisa, die profeet van Israel, wat alles weet. Hy kan selfs vir sy koning vertel wat u in u slaapkamer sê!” “Nou gaan kyk waar hy is,” het die koning gesê, “sodat ons hom kan vang.” Hulle het vir die koning laat weet dat Elisa in die dorp Dotan is. Toe het die Aramese koning op ’n dag ’n klomp soldate met perde en strydwaens na Dotan toe gestuur. Hulle het in die nag daar aangekom en die dorp omsingel. Die volgende oggend vroeg is Elisa se assistent uit buitentoe. Hy kon sy oë nie glo nie! Reg rondom die stad het daar Aramese soldate, strydwaens en perde reggestaan om te veg. Hy het ingestorm en bang uitgeroep: “Ag tog, Meneer! Wat gaan ons nou doen?” Elisa het geantwoord: “Moenie bekommerd wees omdat hulle so baie is nie. Dié aan ons kant is baie meer as hulle soldate!” Elisa bid toe: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy ook kan sien wat ek sien.” Skielik het die assistent gesien dat die heuwels rondom Elisa vol perde en strydwaens van vuur was. Toe die Aramese soldate vir Elisa bestorm, het hy gebid: “Here, maak hulle asseblief blind!” En die Here het dit gedoen. Elisa sê toe vir die klomp soldate: “Julle is op die verkeerde pad. Hierdie is nie die stad wat julle soek nie. Volg my, dan neem ek julle na die man toe wat julle soek.” Elisa het hulle toe reguit na Samaria toe gelei. Daar aangekom, het Elisa weer gebid: “Here, laat hulle weer sien, asseblief.” Toe hulle hulle oë oopmaak, was hulle in die middel van die stad Samaria! Die koning van Israel was stomverbaas en het vir Elisa gevra: “My vader, moet ek hulle almal doodmaak?” “Natuurlik nie!” het Elisa geantwoord. “Jy sal tog nie krygsgevangenes wat jy gevang het, sommer doodmaak nie. Nee, gee vir hulle iets om te eet en te drink en stuur hulle terug na hulle koning toe.” Die koning het toe vir hulle ’n groot ete voorberei. Toe die Aramese soldate klaar geëet het, het hy hulle na hulle koning toe laat teruggaan. Daarna het die Aramese bendes opgehou om rooftogte op Israelitiese grondgebied uit te voer.

2 KONINGS 6:8-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die koning van die Arameërs was in ’n oorlog teen Israel gewikkel. Hy het met sy offisiere beraadslaag en gesê: “Ons sal ons kamp op dié en dié plek opslaan.” Elisa, die man van God, het egter dadelik die koning van Israel gewaarsku: “Moenie naby daardie plek gaan nie, want die Arameërs trek daarheen op.” Dan het die koning boodskappers na die plek gestuur waarvan die man van God gepraat het en die mense gewaarsku. Hulle was dus op hulle hoede. Dit het etlike kere gebeur. Hieroor was die koning van Aram baie ontsteld. Hy roep toe sy offisiere en vra hulle: “Wie van julle is die verraaier? Wie is dit wat die koning van Israel oor my planne inlig?” “Dis nie ons nie, o Koning,” antwoord een van die offisiere. “Elisa, die profeet in Israel, vertel alles aan die koning van Israel. Selfs wat u in u slaapkamer sê, is aan hom bekend!” Die koning van Aram beveel hulle toe: “Gaan en stel vas waar Elisa is. Dan stuur ek troepe om hom te vang.” Hy kry toe berig: “Elisa is in Dotan.” Een nag stuur die koning van Aram toe ’n groot leër en baie perde en strydwaens om die dorp te omsingel. Toe die dienaar van die man van God die volgende môre vroeg opstaan en buitentoe gaan, sien hy oral net troepe, perde en strydwaens. Benoud roep hy vir Elisa: “Ag, Meneer, wat moet ons nou maak?” “Moenie bang wees nie!” sê Elisa vir hom. “Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!” Toe bid Elisa: “HERE, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die HERE het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was. Toe die Aramese leër naderkom, bid Elisa: “HERE, slaan hulle tog met blindheid!” Die HERE het gedoen soos Elisa gevra het. Elisa sê toe vir hulle: “Julle is op die verkeerde pad! Dis ook nie die regte stad nie! Volg my en ek sal julle neem na die man vir wie julle soek.” So het hy hulle na Samaria toe gelei. Net toe hulle Samaria binnegaan, bid Elisa: “HERE, laat hulle weer sien.” Die HERE het hulle oë oopgemaak en toe hulle opkyk, is hulle binne-in Samaria! Toe die koning van Israel hulle sien, roep hy vir Elisa: “Moet ek hulle doodmaak, my vader, moet ek hulle doodmaak?” “Natuurlik nie!” sê Elisa vir hom. “Maak jy die krygsgevangenes dood wat jy met jou swaard en boog gevang het? Gee vir hulle kos en iets om te drink sodat hulle kan teruggaan na hulle koning toe.” Die koning het toe ’n groot fees vir hulle voorgesit en hulle toe teruggestuur na hulle koning toe. Daarna het die Aramese plunderaars nie weer die land Israel binnegeval nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid