2 Konings 6:8-23

2 Konings 6:8-23 ABA

Die koning van Aram het oorlog gemaak teen Israel. Hy het saam met sy offisiere planne gemaak en hy het besluit om sy tente op 'n plek op te slaan. Maar die man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Pasop dat julle nie by daardie plek verbygaan nie, want die Arameërs gaan daarnatoe.” Die koning van Israel het 'n boodskap gestuur en hy het die mense wat daar was, gewaarsku. Dit het meer as een maal gebeur. Die koning van Aram het bekommerd geword daaroor en hy het sy offisiere geroep en vir hulle gesê: “Julle moet vir my sê wie van ons manne vertel vir die koning van Israel van ons planne.” Een van sy offisiere het gesê: “Nee, Meneer die koning, dit is nie een van ons manne nie, dit is die profeet Elisa wat daar in die land Israel is. Hy weet alles en hy kan vir sy koning ook die dinge sê wat jy in jou slaapkamer praat.” Die koning van Aram het gesê hulle moet uitvind waar Elisa is, sodat hy mense kan stuur om vir Elisa te vang. Die koning hoor toe dat Elisa in die stad Dotan is. Die koning van Aram stuur toe perde en oorlogkarre en baie manne na Dotan. Hulle het in die nag daar gekom en hulle het rondom die stad gaan staan. Die volgende oggend het die bediende van Elisa, die man van God, vroeg opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy al die manne en die perde en die oorlogkarre rondom die stad. Hy het vir Elisa gesê: “Ag, Meneer, wat moet ons doen?” Elisa het vir die bediende gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie, daar is meer by ons as by hulle.” Elisa het gebid en gevra: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy kan sien.” Die Here het die oë van die jongman oopgemaak, en toe sien hy dat die berge rondom Elisa vol perde en oorlogkarre van vuur is. Toe die Arameërs nader kom, het Elisa tot die Here gebid en gevra: “Here, laat hierdie mense asseblief blind word.” Die Here het gedoen wat Elisa gevra het, en die Arameërs het blind geword. Elisa het vir hulle gesê: “Julle is op die verkeerde pad en by die verkeerde stad. Kom saam met my, dan sal ek julle bring in die stad wat julle soek.” En toe bring Elisa die Arameërs na die stad Samaria. Toe hulle in Samaria kom, het Elisa gebid: “Here, maak nou hierdie manne se oë oop sodat hulle kan sien.” Die Here het dit gedoen, en toe hulle kyk, was hulle binne-in Samaria. Die koning van Israel het vir Elisa gevra: “Meneer, moet ek hierdie Arameërs doodmaak?” Maar Elisa het gesê: “Nee, jy moenie vir hulle doodmaak nie. Jy het hulle nie in 'n oorlog gevang nie, daarom mag jy hulle nie doodmaak nie. Gee vir hulle kos en water sodat hulle kan eet en kan teruggaan na hulle koning toe.” Die koning van Israel het toe vir hulle 'n groot fees-ete gegee, en nadat die Arameërs geëet en gedrink het, het hy hulle laat gaan. Hulle het teruggegaan na hulle koning toe, en die Arameërs het nie gou weer die stede in die land Israel kom aanval nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid