2 Konings 6:8-23

2 Konings 6:8-23 AFR20

Die koning van Aram was besig om oorlog te voer teen Israel. Nadat hy met sy amptenare beraadslaag het, sê hy: “By so-en-so 'n plek sal my kamp wees.” Maar die man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Wees versigtig om nie by hierdie plek verby te trek nie, want die Arameërs val daarheen terug. ” Daarom het die koning van Israel 'n boodskap gestuur na die plek wat die man van God vir hom aangewys en waarteen hy hom gewaarsku het. Hulle was daar toe op hulle hoede. Dit het nie net een of twee keer gebeur nie. Die koning van Aram was ontsteld hieroor, en het sy amptenare ontbied en vir hulle gesê: “Kan julle my nie inlig wie van ons vir die koning van Israel is nie?” Een van sy amptenare het geantwoord: “Nie een van ons nie, my heer die koning; maar Elisa, die profeet wat in Israel is, deel die koning van Israel die woorde mee wat u in u slaapkamer praat.” Daarop sê hy: “Gaan kyk waar hy is, sodat ek hom kan laat vang.” Toe daar aan hom berig gebring is, “Kyk, hy is in Dotan! ” het hy perde en strydwaens en 'n sterk mag daarheen gestuur. Hulle het in die nag gekom en die dorp omsingel. Toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar sowaar 'n leërmag met perde en strydwaens om die dorp! Sy dienaar sê toe vir hom: “Ag, my heer, wat moet ons doen?” Maar hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, want hulle wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.” Elisa het toe gebid en gesê: “HERE, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” Daarop het die HERE die dienaar se oë oopgemaak, en hy sien toe – sowaar, die berg rondom Elisa is vol perde, en strydwaens van vuur! Toe die Arameërs na hom afkom, bid Elisa tot die HERE en sê: “Slaan tog hierdie nasie met blindheid!” Die HERE het hulle toe met blindheid geslaan, soos Elisa versoek het. Daarna sê Elisa vir hulle: “Dit is nie die pad hierdie nie, en dit is nie die dorp nie. Volg my, sodat ek julle kan lei na die man na wie julle soek.” Hy het hulle na Samaria gelei, en toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “HERE, maak hierdie mense se oë oop, sodat hulle kan sien.” Die HERE het hulle oë oopgemaak, en hulle sien toe hulle is sowaar binne-in Samaria! Toe hy hulle sien, sê die koning van Israel vir Elisa: “Moet ek aanval? Moet ek aanval, my vader? ” Maar hy antwoord: “Jy mag hulle nie aanval nie. Sou jy dié wat jy met jou swaard en boog gevange geneem het, aanval? Sit vir hulle brood en water voor, sodat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan gaan.” Hy het toe vir hulle 'n groot fees voorgesit. Nadat hulle geëet en gedrink het, het hy hulle weggestuur en hulle het na hulle heer toe gegaan. Die roofbendes van die Arameërs het toe nie meer in die gebied van Israel gekom nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid