2 Konings 6:8-23

2 Konings 6:8-23 DB

Die Arameërs was in ’n oorlog met Israel gewikkel. Dit het telkens gebeur dat die Aramese koning met sy bevelvoerders vergader het en dat hulle besluit het om op ’n sekere plek aan te val. Dan het Elisa dadelik ’n boodskap na Israel se koning gestuur om hom te waarsku oor die betrokke plek. Hy sou vir hom laat weet: “Vermy hierdie plek, want dit is waar die Arameërs julle gaan aanval.” Die koning sou dan dadelik ’n boodskap na die betrokke plek toe stuur om die mense daar te waarsku om versigtig te wees. Dit het ’n hele paar keer gebeur. Die Aramese koning het al hoe onrustiger geraak omdat hulle geheime so uitgelek het. Hy het die leiersgroep byeengeroep en gesê: “Dis duidelik dat iemand uit die binnekring ons geheime aan die Israeliete verklap. Ek eis om te weet wie dit is!” “Dis nie een van ons nie, o koning,” het een van die offisiere geantwoord. “Dis Elisa, die profeet van Israel, wat alles weet. Hy kan selfs vir sy koning vertel wat u in u slaapkamer sê!” “Nou gaan kyk waar hy is,” het die koning gesê, “sodat ons hom kan vang.” Hulle het vir die koning laat weet dat Elisa in die dorp Dotan is. Toe het die Aramese koning op ’n dag ’n klomp soldate met perde en strydwaens na Dotan toe gestuur. Hulle het in die nag daar aangekom en die dorp omsingel. Die volgende oggend vroeg is Elisa se assistent uit buitentoe. Hy kon sy oë nie glo nie! Reg rondom die stad het daar Aramese soldate, strydwaens en perde reggestaan om te veg. Hy het ingestorm en bang uitgeroep: “Ag tog, Meneer! Wat gaan ons nou doen?” Elisa het geantwoord: “Moenie bekommerd wees omdat hulle so baie is nie. Dié aan ons kant is baie meer as hulle soldate!” Elisa bid toe: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy ook kan sien wat ek sien.” Skielik het die assistent gesien dat die heuwels rondom Elisa vol perde en strydwaens van vuur was. Toe die Aramese soldate vir Elisa bestorm, het hy gebid: “Here, maak hulle asseblief blind!” En die Here het dit gedoen. Elisa sê toe vir die klomp soldate: “Julle is op die verkeerde pad. Hierdie is nie die stad wat julle soek nie. Volg my, dan neem ek julle na die man toe wat julle soek.” Elisa het hulle toe reguit na Samaria toe gelei. Daar aangekom, het Elisa weer gebid: “Here, laat hulle weer sien, asseblief.” Toe hulle hulle oë oopmaak, was hulle in die middel van die stad Samaria! Die koning van Israel was stomverbaas en het vir Elisa gevra: “My vader, moet ek hulle almal doodmaak?” “Natuurlik nie!” het Elisa geantwoord. “Jy sal tog nie krygsgevangenes wat jy gevang het, sommer doodmaak nie. Nee, gee vir hulle iets om te eet en te drink en stuur hulle terug na hulle koning toe.” Die koning het toe vir hulle ’n groot ete voorberei. Toe die Aramese soldate klaar geëet het, het hy hulle na hulle koning toe laat teruggaan. Daarna het die Aramese bendes opgehou om rooftogte op Israelitiese grondgebied uit te voer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid