II KONINGS 6:8-23

II KONINGS 6:8-23 AFR53

Terwyl die koning van Aram besig was om oorlog te voer teen Israel, het hy met sy dienaars beraadslaag en gesê: Op dié en dié plek sal my laer staan. Maar die man van God het die koning van Israel laat weet: Pas op dat u nie deur daardie plek trek nie, want die Arameërs trek daarheen af. Daarom het die koning van Israel na die plek gestuur waarvan die man van God met hom gespreek en waarvoor hy hom gewaarsku het. En hy was daar op sy hoede, nie net een maal of twee maal nie. Toe word die hart van die koning van Aram hieroor onrustig, en hy roep sy dienaars en sê vir hulle: Kan julle my nie te kenne gee wie van ons mense vir die koning van Israel is nie? En een van sy dienaars antwoord: Nee, my heer die koning, maar Elísa, die profeet wat in Israel is, kan die koning van Israel die woorde te kenne gee wat u in u slaapkamer spreek. En hy sê: Gaan kyk waar hy is, dat ek hom kan laat vang. En daar is aan hom te kenne gegee en gesê: Hy is daar in Dotan. So het hy dan daarheen perde en strydwaens en 'n swaar leër gestuur, en hulle het in die nag gekom en die stad omsingel. En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar 'n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak? Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa. En toe hulle na hom afkom, het Elísa tot die HERE gebid en gesê: Slaan tog hierdie mense met blindheid. En Hy het hulle op die woord van Elísa met blindheid geslaan. Daarop sê Elísa vir hulle: Dit is nie die weg, en dit is nie die stad nie; volg my, dan sal ek julle lei na die man wat julle soek; en hy het hulle na Samaría gelei. En by hulle aankoms in Samaría, sê Elísa: HERE, open hulle oë, dat hulle kan sien. En die HERE het hulle oë geopen, dat hulle kon sien, en daar was hulle binne-in Samaría! En die koning van Israel sê vir Elísa toe hy hulle sien: Moet ek verslaan, moet ek verslaan, my vader? Maar hy antwoord: U mag nie verslaan nie. Sou u dan verslaan die wat u met u swaard en u boog as gevangenes weggevoer het? Sit aan hulle brood en water voor, dat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan trek. En hy het hulle 'n groot maaltyd berei; en nadat hulle geëet en gedrink het, laat hy hulle gaan; en hulle het na hul heer getrek. En die bendes van die Arameërs het verder nie meer in die land van Israel gekom nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid