1 TESSALONISENSE 1:9-10
1 TESSALONISENSE 1:9-10 Bybel vir almal (ABA)
Hierdie mense vertel vir almal dat julle gesê het ons is welkom by julle. Hulle vertel ook dat julle die afgode gelos het en begin doen het wat God wil hê. So het julle begin om die God wat lewe, die ware God, te dien. Julle wag ook dat God se Seun moet terugkom uit die hemel, God het die Seun weer laat lewe. Die Seun is Jesus, Hy sal ons red wanneer God eendag die mense sal oordeel.
1 TESSALONISENSE 1:9-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.
1 TESSALONISENSE 1:9-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.
1 TESSALONISENSE 1:9-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle self vertel oor ons van die besondere ontvangs wat ons by julle gekry het: Hoe julle omgedraai het na God, weg van die afgode, om die lewende en ware God te dien, en om sy Seun wat Hy uit die dode opgewek het, uit die hemel te bly verwag – Jesus, wat ons red uit die oordeel wat kom.
1 TESSALONISENSE 1:9-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want hulle het self aan ons te kenne gegee watter manier van ingaan ons by julle gehad het, en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het om die lewende en ware God te dien; En om te wag op sy Seun uit die hemel, wat Hy uit die dode opgewek het, naamlik Jesus, wat ons van die toekomstige toorn verlos het.
1 TESSALONISENSE 1:9-10 Die Boodskap (DB)
Oral waar ek kom, praat die mense oor hoe hartlik julle ons ontvang het. Hulle vertel vir ons dat julle al julle dooie afgode laat staan het om die lewende en enigste ware God te dien. Die mense vertel ook dat julle baie uitsien na die dag dat Jesus uit die hemel na ons toe sal terugkeer. Jesus is God se eie Seun. God self het Hom uit die dood laat opstaan. Net Jesus kan ons red van die oordeel van God op die laaste dag.
1 TESSALONISENSE 1:9-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
want die mense praat self oor hoe positief julle ons ontvang het en hoe julle van die afgode af weggedraai het na God toe om die lewende en ware God te dien, en om sy Seun uit die hemel te verwag. Hierdie Seun is Jesus wat God uit die dood opgewek het. Dit is Hý wat ons verlos van die oordeel wat kom.