1 KONINGS 17:8-24

1 KONINGS 17:8-24 Bybel vir almal (ABA)

Toe het die Here vir Elia gesê: “Jy moet gereedmaak en na die stad Sarfat gaan in die land van die Sidoniërs. Jy moet daar gaan bly. Ek het vir 'n weduwee daar gesê sy moet vir jou kos gee.” Elia het gereedgemaak en na Sarfat gegaan. Toe hy by die poort van die stad kom, was 'n weduwee daar besig om hout bymekaar te maak. Hy het haar geroep en gevra: “Gee asseblief vir my 'n bietjie water in 'n beker sodat ek dit kan drink.” Toe sy gaan om die water te gaan haal, skree hy vir haar: “Bring asseblief ook vir my 'n stukkie brood saam.” Sy het gesê: “So seker soos jou God die Here lewe, ek het niks wat gaar is nie. Ek het nog net 'n handvol meel in 'n kruik en 'n bietjie olyf-olie in 'n bottel. Wanneer ek klaar 'n paar stukkies hout bymekaargemaak het, dan gaan ek vir my en my seun iets maak om te eet. Daarna sal ons sterf.” Elia het vir haar gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie. Gaan doen wat jy wil doen, maar maak eers vir my 'n klein broodjie gaar, daarna kan jy vir jou en jou seun brood gaarmaak. Die Here, die God van Israel, het gesê: Die kruik waarin die meel is, sal nie leeg word nie, en daar sal genoeg olyf-olie in die oliebottel wees tot die dag wanneer die Here dit weer laat reën in die land.” Die weduwee het gegaan en gedoen wat Elia gesê het en sy het elke dag kos gehad om te eet, sy en Elia en haar huisgesin. Die meelkruik het nie leeg geword nie en daar was altyd olyf-olie in die oliebottel, soos die Here gesê het Elia moet sê. Later het die seun van die weduwee siek geword, die weduwee aan wie die huis behoort het. Hy was baie siek en hy het gesterf. Die weduwee het vir Elia gesê: “ Man van God, wat het ek verkeerd gedoen aan jou? Hoekom doen jy dit aan my? Het jy na my toe gekom sodat my seun moet sterf omdat ek sonde gedoen het?” Hy het vir haar gesê: “Gee jou seun vir my.” Elia het die seun uit haar arms geneem en hy het die seun na die bo-kamer gedra. Elia het daar gewoon. Hy het die seun op sy bed neergesit en hy het tot die Here gebid en gesê: “My God die Here, wil U dit sleg laat gaan met hierdie weduwee? Sy het gesê ek mag hier woon, en nou het U haar seun laat sterf.” Toe gaan lê Elia drie maal op die kind en hy bid tot die Here en hy sê: “My God die Here, laat asseblief hierdie kind se lewe terugkom in hom.” Die Here het gedoen wat Elia gevra het. Die lewe van die kind het teruggekom in hom en hy het weer begin lewe. Elia het die kind ondertoe gedra in die huis in. Hy het die kind vir sy ma gegee en vir haar gesê: “Hier is jou kind, hy lewe.” Die vrou het vir Elia gesê: “Nou weet ek jy is regtig 'n man van God. Die dinge wat die Here sê jy moet sê, is die waarheid.”

1 KONINGS 17:8-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan 'n weduwee bevel gegee om jou te onderhou. Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was 'n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my 'n bietjie water in die kan, dat ek kan drink. Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my 'n stukkie brood saam. Maar sy antwoord: So waar as die HERE u God leef, ek het nie 'n broodkoek nie, net maar 'n handvol meel in die pot en 'n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou 'n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe. En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my 'n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóú en jou seun iets klaarmaak. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde sal gee. En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet — sy en hy en haar gesin dae lank: die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het. Ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek geword; en sy siekte was baie ernstig, totdat daar geen asem meer in hom oorgebly het nie. Toe sê sy vir Elía: Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring en my seun dood te maak! Maar hy antwoord haar: Gee jou seun vir my. En hy het hom van haar skoot af geneem en hom opgedra na die bo-kamer waar hy self gewoon het, en hom op sy bed neergelê; en hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U selfs oor die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, 'n onheil gebring deur haar seun te laat sterwe? Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, laat die siel van hierdie kind tog in hom terugkeer. En die HERE het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het. Daarop neem Elía die kind en bring hom af uit die bo-kamer in die huis en gee hom aan sy moeder; en Elía sê: Kyk, jou seun lewe! En die vrou sê vir Elía: Nou weet ek dit dat u 'n man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.

1 KONINGS 17:8-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê: “Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het 'n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar 'n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief 'n bekertjie water om te drink.” Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief 'n stukkie brood saam.” Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net 'n handvol meel in die kruik en 'n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar 'n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my 'n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg. So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.” Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin. Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het. In dié tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het. Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?” Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bokamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, 'n ramp bring deur haar kind te laat sterf?” Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.” Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe. Toe bring Elia die kind van die bokamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!” Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u 'n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”

1 KONINGS 17:8-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE kom toe tot hom: “Maak gereed, gaan na Sarfat, wat aan Sidon behoort, en bly daar. Kyk, Ek het 'n weduwee daar beveel om jou van kos te voorsien.” Hy maak toe gereed en gaan na Sarfat. Toe hy by die ingang van die dorp kom, is 'n weduwee juis daar besig om stukkies hout bymekaar te maak. Hy roep toe na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n bietjie water in 'n houer, sodat ek kan drink.” Terwyl sy gaan om dit te kry, roep hy na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n stukkie brood saam!” Maar sy antwoord: “So waar as die HERE u God leef, ek het niks behalwe 'n hand vol meel in 'n kruik en 'n bietjie olie in 'n fles nie. Ek was juis besig om 'n paar stukkies hout bymekaar te maak; dan gaan ek binnetoe en berei dit voor vir my en my seun, sodat ons dit kan eet en sterf.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie! Gaan binnetoe en doen wat jy gesê het. Maar maak net eers vir my 'n klein roosterkoekie daarvan en bring dit vir my. Vir jou en jou seun kan jy daarna iets voorberei. Want so sê die HERE, die God van Israel, ‘Die kruik met meel sal nie leeg raak nie, en die fles met olie sal nie leeg loop nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde gee.’ ” Sy het toe gegaan en gemaak soos Elia gesê het. En sy het geëet, sy en hy en haar huisgesin, dae lank. Die kruik met meel het nie leeg geraak nie, en die fles met olie het nie leeg geloop nie, ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy by monde van Elia gespreek het. Ná hierdie gebeure het die vrou, die eienares van die huis, se seun siek geword. Sy siekte het so erg geword dat daar nie meer asem in hom oor was nie. Sy sê toe vir Elia: “Wat het jy teen my, man van God? Het jy na my gekom om my sondeskuld bloot te lê en my seun te laat sterf?” Hy het haar geantwoord: “Gee jou seun vir my.” Toe neem hy die seun uit haar arms en dra hom op na die bovertrek waar hy tuisgegaan het. Hy het hom op sy bed neergelê, tot die HERE geroep en gesê: “HERE my God, bring U selfs oor die weduwee by wie ek my as •vreemdeling bevind, onheil deur haar seun te laat sterf?” Toe het hy hom drie keer bo-oor die kind uitgestrek en tot die HERE geroep en gesê: “HERE my God, laat die lewe van hierdie kind asseblief na hom terugkeer.” Die HERE het geluister na Elia se smeekbede, en die lewe van die kind het na hom teruggekeer, en hy het geleef. Elia het die kind geneem, hom uit die bovertrek na die huis afgeneem en hom vir sy moeder gegee. Elia het gesê: “Kyk, jou seun leef!” Daarop sê die vrou vir Elia: “Nou is ek daarvan oortuig dat u 'n man van God is en dat die woord van die HERE uit u mond betroubaar is.”

1 KONINGS 17:8-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: Staan op, gaan na Sarfat wat aan Sidon behoort, en woon daar; kyk, Ek het 'n weduwee daar bevel gegee om jou te onderhou. Hy het toe opgestaan en na Sarfat gegaan. En toe hy by die poort van die stad kom, was die weduwee daar besig om stokke bymekaar te maak; en hy het na haar geroep en gesê: Haal tog vir my 'n bietjie water in 'n houer, dat ek kan drink. En terwyl sy dit gaan haal, roep hy haar en sê: Bring tog vir my 'n stukkie brood in jou hand. Toe sê sy: So waar as die HERE jou God leef, ek het nie 'n koek nie, maar 'n handvol meel in 'n vat en 'n bietjie olie in 'n kruik; en kyk, ek maak twee stokke bymekaar om in te gaan en maak dit vir my en my seun gereed, dat ons dit kan eet en sterf. En Elía sê vir haar: Moenie vrees nie; gaan en doen soos jy gesê het; maar maak eers vir my 'n koekie daarvan en bring dit vir my en maak daarna vir jou en vir jou seun. Want so sê die HERE, die God van Israel: Die meel in die vat sal nie opraak nie, en die oliekruis sal nie opraak nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde gee. En sy het gegaan en gedoen volgens die woord van Elía, en sy en hy en haar huis het baie dae geëet. En die meel in die vat het nie vergaan nie, en die olie in die kruik het nie opgehou nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het. En ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die meesteres van die huis, siek geword; en sy siekte was so erg dat daar geen asem in hom oorgebly het nie. En sy sê vir Elía: Wat het ek met jou te doen, man van God? kom jy na my toe om my sonde in gedagtenis te bring en my seun dood te maak? En hy sê vir haar: Gee my jou seun. En hy het hom uit haar boesem geneem en hom opgedra na die hok waar hy gebly het, en hom op sy eie bed neergelê. En hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U ook die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, onheil gebring deur haar seun dood te maak? En hy het hom drie maal oor die kind uitgestrek en die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, laat tog die siel van hierdie kind weer in hom kom. En die HERE het die stem van Elía gehoor; en die siel van die kind het weer in hom gekom, en hy het lewend geword. En Elía het die seun geneem en hom uit die kamer in die huis afgebring en hom aan sy moeder oorgegee; en Elía het gesê: Kyk, jou seun leef. Toe sê die vrou vir Elia: Nou weet ek hieraan dat jy 'n man van God is en dat die woord van die HERE in jou mond waarheid is.

1 KONINGS 17:8-24 Die Boodskap (DB)

Toe het die Here vir hom gesê: “Gaan na Sarfat toe, naby Sidon. Bly ’n rukkie daar. In Sarfat sal ’n weduwee elke dag vir jou sorg.” Elia is toe na Sarfat toe. Net toe hy die stad binnekom, sien hy ’n weduwee wat hout kap. Hy het haar nader geroep en gesê: “Gaan haal asseblief vir my ’n bietjie water.” Terwyl sy wegstap, het Elia bygevoeg: “En sommer ook ’n stukkie brood, asseblief.” Maar die vrou het geantwoord: “Meneer, ek sweer voor God dat ek niks brood het nie. Daar is nog net ’n bietjie meel in die blik en ’n paar druppels olie in die kan. Ek het hierheen gekom om ’n paar stukkies hout vir ’n vuurtjie te kap sodat ek vir my en my seun ’n laaste stukkie brood kan maak. As dit klaar is, is daar niks meer nie. Dan moet ons maar op die dood wag.” “Moenie bekommerd wees nie,” het Elia gesê. “Gaan bak maar die brood en as dit klaar is, bring eers vir my ’n klein stukkie. Jy en jou seun kan dan die res kry. Moenie bang wees nie, want die Here het vir my gesê dat jou meelblik en jou oliekan nie sal leeg word nie totdat Hy weer reën gestuur het.” Die weduwee het gedoen soos Elia gesê het. Daar was elke dag oorgenoeg kos vir hulle al drie. Soos die Here belowe het, was die meelblik nooit leeg nie en was daar altyd olie in die kan. Na ’n ruk het die weduwee se seun baie siek geword. Sy koors het erger geword en later is hy dood. “Meneer, wat het u my aangedoen?” het die vrou gesê. “Ek het u in my huis ingenooi, maar toe het u vir God van al my sondes vertel; daarom is my kind dood.” “Gee die kind vir my,” het Elia gesê. Toe het Elia die kind van haar skoot af opgetel, hom na sy kamer op die boonste verdieping gedra en op sy bed neergelê. Elia het gekniel en toe hardop gebid: “Here my God, waarom het U dit laat gebeur? Hierdie vrou was baie goed vir my. Sy het nog elke dag vir my gesorg. Waarom het U haar kind laat sterf?” Elia het toe drie keer op die kind gaan lê en gebid: “Here my God, ek smeek U, laat die kind tog leef.” Die Here het toe Elia se gebed verhoor en die kind het weer begin leef. Elia het die kind aan die hand gevat en hulle is met die trap af tot by die weduwee. Elia het vir haar gesê: “Mevrou, hier is jou kind. Hy leef.” “Nou weet ek dat die Here u gestuur het en dat Hy deur u praat,” het die weduwee gesê.

1 KONINGS 17:8-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe sê die HERE vir Elia: “Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ’n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Elia het na Sarfat toe gegaan. By die poort van die dorp aangekom, sien hy ’n weduwee wat hout bymekaarmaak. Hy vra haar: “Bring tog asseblief vir my ’n bietjie water om te drink!” Terwyl sy wegloop om dit te gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring tog ook vir my ’n stukkie brood!” Maar sy antwoord hom: “Ek verseker jou voor die HERE jou God dat ek nie ’n stukkie brood in my huis het nie. Ek het net ’n hand vol meel oor in die kruik en ’n klein bietjie kookolie in die erdekan. Ek was juis besig om hout bymekaar te maak om hierdie laaste maaltyd vir my en my seun gaar te maak. Daarna moet ons maar sterf.” Elia sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie! Gaan aan en doen soos jy sê, maar bak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit vir my. Daarna kan jy vir jou en jou seun sorg. So sê die HERE die God van Israel: ‘Die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die erdekan sal nie minder word nie totdat die HERE weer oor die land laat reën het.’” Sy het gedoen soos Elia gesê het. Voortaan het hulle al drie elke dag genoeg gehad om te eet. Die kruik was altyd vol meel en die olie in die erdekan het nie opgeraak nie. Dit was net soos die HERE deur Elia beloof het. ’n Tyd later het die vrou se seun siek geword. Hy het al sieker geword en gesterf. Sy sê toe vir Elia: “Man van God, kyk wat het jy aan my gedoen! Het jy gekom om my aan my sondes te herinner en om my seun dood te maak?” Maar Elia antwoord: “Gee jou seun vir my.” Hy het die seun uit haar arms geneem en hom na die bokamer waar hy gebly het, geneem en op sy bed neergelê. Elia pleit toe by die HERE: “O HERE my God, moes U hierdie ramp oor die vrou bring by wie ek bly en haar seun laat sterf?” Hy het homself drie keer oor die kind uitgestrek en by die HERE gepleit: “O HERE my God, laat hierdie kind tog weer lewe.” Die HERE het Elia se gebed verhoor en die kind het weer lewendig geword. Toe bring Elia die kind uit die bokamer af ondertoe en gee hom terug vir sy ma en sê: “Kyk, jou seun lewe!” Die weduwee sê toe vir Elia: “Nou weet ek vir seker dat jy ’n man van God is en dat die HERE regtig die waarheid deur jou praat.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid