1 KONINGS 17:8-24

1 KONINGS 17:8-24 NLV

Toe sê die HERE vir Elia: “Gaan bly in die dorp Sarfat naby die stad Sidon. Daar woon ’n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg.” Elia het na Sarfat toe gegaan. By die poort van die dorp aangekom, sien hy ’n weduwee wat hout bymekaarmaak. Hy vra haar: “Bring tog asseblief vir my ’n bietjie water om te drink!” Terwyl sy wegloop om dit te gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring tog ook vir my ’n stukkie brood!” Maar sy antwoord hom: “Ek verseker jou voor die HERE jou God dat ek nie ’n stukkie brood in my huis het nie. Ek het net ’n hand vol meel oor in die kruik en ’n klein bietjie kookolie in die erdekan. Ek was juis besig om hout bymekaar te maak om hierdie laaste maaltyd vir my en my seun gaar te maak. Daarna moet ons maar sterf.” Elia sê vir haar: “Moenie bekommerd wees nie! Gaan aan en doen soos jy sê, maar bak eers vir my ’n roosterkoek en bring dit vir my. Daarna kan jy vir jou en jou seun sorg. So sê die HERE die God van Israel: ‘Die meel in die kruik sal nie opraak nie en die olie in die erdekan sal nie minder word nie totdat die HERE weer oor die land laat reën het.’” Sy het gedoen soos Elia gesê het. Voortaan het hulle al drie elke dag genoeg gehad om te eet. Die kruik was altyd vol meel en die olie in die erdekan het nie opgeraak nie. Dit was net soos die HERE deur Elia beloof het. ’n Tyd later het die vrou se seun siek geword. Hy het al sieker geword en gesterf. Sy sê toe vir Elia: “Man van God, kyk wat het jy aan my gedoen! Het jy gekom om my aan my sondes te herinner en om my seun dood te maak?” Maar Elia antwoord: “Gee jou seun vir my.” Hy het die seun uit haar arms geneem en hom na die bokamer waar hy gebly het, geneem en op sy bed neergelê. Elia pleit toe by die HERE: “O HERE my God, moes U hierdie ramp oor die vrou bring by wie ek bly en haar seun laat sterf?” Hy het homself drie keer oor die kind uitgestrek en by die HERE gepleit: “O HERE my God, laat hierdie kind tog weer lewe.” Die HERE het Elia se gebed verhoor en die kind het weer lewendig geword. Toe bring Elia die kind uit die bokamer af ondertoe en gee hom terug vir sy ma en sê: “Kyk, jou seun lewe!” Die weduwee sê toe vir Elia: “Nou weet ek vir seker dat jy ’n man van God is en dat die HERE regtig die waarheid deur jou praat.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid