1 Konings 17:8-24

1 Konings 17:8-24 AFR20

Die woord van die HERE kom toe tot hom: “Maak gereed, gaan na Sarfat, wat aan Sidon behoort, en bly daar. Kyk, Ek het 'n weduwee daar beveel om jou van kos te voorsien.” Hy maak toe gereed en gaan na Sarfat. Toe hy by die ingang van die dorp kom, is 'n weduwee juis daar besig om stukkies hout bymekaar te maak. Hy roep toe na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n bietjie water in 'n houer, sodat ek kan drink.” Terwyl sy gaan om dit te kry, roep hy na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n stukkie brood saam!” Maar sy antwoord: “So waar as die HERE u God leef, ek het niks behalwe 'n hand vol meel in 'n kruik en 'n bietjie olie in 'n fles nie. Ek was juis besig om 'n paar stukkies hout bymekaar te maak; dan gaan ek binnetoe en berei dit voor vir my en my seun, sodat ons dit kan eet en sterf.” Elia sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie! Gaan binnetoe en doen wat jy gesê het. Maar maak net eers vir my 'n klein roosterkoekie daarvan en bring dit vir my. Vir jou en jou seun kan jy daarna iets voorberei. Want so sê die HERE, die God van Israel, ‘Die kruik met meel sal nie leeg raak nie, en die fles met olie sal nie leeg loop nie, tot op die dag dat die HERE reën op die aarde gee.’ ” Sy het toe gegaan en gemaak soos Elia gesê het. En sy het geëet, sy en hy en haar huisgesin, dae lank. Die kruik met meel het nie leeg geraak nie, en die fles met olie het nie leeg geloop nie, ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy by monde van Elia gespreek het. Ná hierdie gebeure het die vrou, die eienares van die huis, se seun siek geword. Sy siekte het so erg geword dat daar nie meer asem in hom oor was nie. Sy sê toe vir Elia: “Wat het jy teen my, man van God? Het jy na my gekom om my sondeskuld bloot te lê en my seun te laat sterf?” Hy het haar geantwoord: “Gee jou seun vir my.” Toe neem hy die seun uit haar arms en dra hom op na die bovertrek waar hy tuisgegaan het. Hy het hom op sy bed neergelê, tot die HERE geroep en gesê: “HERE my God, bring U selfs oor die weduwee by wie ek my as •vreemdeling bevind, onheil deur haar seun te laat sterf?” Toe het hy hom drie keer bo-oor die kind uitgestrek en tot die HERE geroep en gesê: “HERE my God, laat die lewe van hierdie kind asseblief na hom terugkeer.” Die HERE het geluister na Elia se smeekbede, en die lewe van die kind het na hom teruggekeer, en hy het geleef. Elia het die kind geneem, hom uit die bovertrek na die huis afgeneem en hom vir sy moeder gegee. Elia het gesê: “Kyk, jou seun leef!” Daarop sê die vrou vir Elia: “Nou is ek daarvan oortuig dat u 'n man van God is en dat die woord van die HERE uit u mond betroubaar is.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid