1 Konings 17

17
Elia die profeet
1 Elia, 'n man uit Tisbe, een van die nedersetters in Gilead, het vir Agab gesê: “So waar as die Here, die God van Israel, in wie se diens ek staan, leef, daar sal in die komende jare geen dou of reën wees nie, behalwe op gesag van my woord.”
2Die woord van die Here kom toe daarna tot hom: 3“Gaan weg hiervandaan; draai oos en gaan kruip weg by die spruit Krit, wat oos van die Jordaan is. 4Uit die spruit kan jy drink, en vir die kraaie sal Ek opdrag gee om jou daar van kos te voorsien.” 5Hy het gegaan en gemaak soos die Here gesê het. Hy het by die spruit Krit gaan bly wat oos van die Jordaan is. 6Die kraaie het telkens vir hom brood en vleis in die oggend gebring, en brood en vleis teen die aand; en uit die spruit kon hy drink. 7Maar ná verloop van baie dae het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land nie. 8Die woord van die Here kom toe tot hom: 9 “Maak gereed, gaan na Sarfat, wat aan Sidon behoort, en bly daar. Kyk, Ek het 'n weduwee daar beveel om jou van kos te voorsien.”
10Hy maak toe gereed en gaan na Sarfat. Toe hy by die ingang van die dorp kom, is 'n weduwee juis daar besig om stukkies hout bymekaar te maak. Hy roep toe na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n bietjie water in 'n houer, sodat ek kan drink.” 11Terwyl sy gaan om dit te kry, roep hy na haar en sê: “Bring asseblief vir my 'n stukkie brood saam!” 12Maar sy antwoord: “So waar as die Here u God leef, ek het niks behalwe 'n hand vol meel in 'n kruik en 'n bietjie olie in 'n fles nie. Ek was juis besig om 'n paar stukkies hout bymekaar te maak; dan gaan ek binnetoe en berei dit voor vir my en my seun, sodat ons dit kan eet en sterf.” 13Elia sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie! Gaan binnetoe en doen wat jy gesê het. Maar maak net eers vir my 'n klein roosterkoekie daarvan en bring dit vir my. Vir jou en jou seun kan jy daarna iets voorberei. 14Want so sê die Here, die God van Israel, ‘Die kruik met meel sal nie leeg raak nie, en die fles met olie sal nie leeg loop nie, tot op die dag dat die Here reën op die aarde gee.’ ” 15Sy het toe gegaan en gemaak soos Elia gesê het. En sy het geëet, sy en hy en haar huisgesin, dae lank. 16Die kruik met meel het nie leeg geraak nie, en die fles met olie het nie leeg geloop nie, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy by monde van Elia gespreek het.
17 Ná hierdie gebeure het die vrou, die eienares van die huis, se seun siek geword. Sy siekte het so erg geword dat daar nie meer asem in hom oor was nie. 18 Sy sê toe vir Elia: “Wat het jy teen my, man van God? Het jy na my gekom om my sondeskuld bloot te lê en my seun te laat sterf?” 19Hy het haar geantwoord: “Gee jou seun vir my.” Toe neem hy die seun uit haar arms en dra hom op na die bovertrek waar hy tuisgegaan het. Hy het hom op sy bed neergelê, 20tot die Here geroep en gesê: “Here my God, bring U selfs oor die weduwee by wie ek my as •vreemdeling bevind, onheil deur haar seun te laat sterf?” 21 Toe het hy hom drie keer bo-oor die kind uitgestrek en tot die Here geroep en gesê: “Here my God, laat die lewe van hierdie kind asseblief na hom terugkeer.” 22Die Here het geluister na Elia se smeekbede, en die lewe van die kind het na hom teruggekeer, en hy het geleef. 23 Elia het die kind geneem, hom uit die bovertrek na die huis afgeneem en hom vir sy moeder gegee. Elia het gesê: “Kyk, jou seun leef!” 24Daarop sê die vrou vir Elia: “Nou is ek daarvan oortuig dat u 'n man van God is en dat die woord van die Here uit u mond betroubaar is.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid