Lukas 12:22-34

Lukas 12:22-34 DB

Daarna het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Hou op om julle van vroeg tot laat te loop en bekommer. Julle wonder gedurig: ‘Waar gaan ons geld kry om kos te koop?’ of: ‘Hoe gaan ons geld vir klere in die hande kry?’ Dié dinge is tog nie die belangrikste in die lewe nie. Die lewe gaan oor baie meer as dit. Kyk net ’n bietjie om julle, dan sien julle wat Ek bedoel. “Kyk maar net na die voëls. Hulle het nie groot lande waar hulle hul kos aanplant nie. Daar is ook nie groot bêreplek vir kos in hulle neste nie. En tog gaan slaap hulle nooit een aand honger nie. God sorg vir hulle. Besef julle nie dat julle vir God baie meer werd is as al die voëls nie? Vir wat bekommer julle julle dan so? Dit help in elk geval niks nie. Met julle bekommernis kan julle jul lewens nie eens met ’n enkele sekonde verleng nie. Hou dadelik op daarmee! “Gaan kyk ook ’n slag na al die lelies wat buite in die veld groei. Hulle word nooit natgegooi of versorg nie. En tog groei hulle pragtig. Selfs nie eens koning Salomo met al sy rykdom en blink klere was so indrukwekkend soos een van hulle nie. As God dan die veldgras so mooi versorg, wat nog vandag daar is en môre dood is, wat sal Hy nie alles vir julle doen nie, julle spul kleingelowiges? “Ek sê weer: hou op om julle heeltyd te bekommer oor dinge soos kos en klere. En moenie so angstig wees oor alles nie. Dit is goed waaroor al die nasies van die wêreld wat nie in God glo nie hulle bekommer. Maar julle het ’n Vader in die hemel. Hy is baie lief vir julle en Hy weet presies wat julle nodig het. Al wat julle moet doen, is om heeltyd sy koninkryk eerste te stel. Leef dag en nag soos burgers van sy nuwe wêreld. En los die res vir Hom. Hy sal wel sorg dat julle alles kry wat julle elke dag nodig het. “Hou op om so bang en benoud te wees, my klein ou groepie volgelinge. Julle Vader gee verskriklik baie vir julle om. Weet julle hoe bly dit Hom gemaak het om vir julle elkeen ’n plek in sy nuwe wêreld te gee? Daarom sal Hy elke dag vir julle sorg. “Julle moet op ’n nuwe manier gaan leef. Verkoop julle besittings. Deel wat julle het met dié wat minder as julle het. Maak vir julle ’n bankrekening in die hemel oop. God self sal dit oppas. Geen dief kan daar by Hom inbreek nie. En niks word ooit oud daar nie. “Onthou, die dinge waarmee jy jou van vroeg tot laat besig hou, sê wat die belangrikste in jou lewe is. Jou lewe wys waar jy jou ‘rekening’ oopgemaak het.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid