LUKAS 12:22-34

LUKAS 12:22-34 NLV

Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daarom sê Ek vir julle, moenie julle oor die alledaagse lewe bekommer – of julle genoeg kos het om te eet of klere om te dra nie. Want die lewe bestaan uit veel meer as kos en die liggaam is veel meer as klere. Kyk na die kraaie. Hulle saai en oes nie, hulle het geen spens of skuur waarin hulle voorrade bêre nie, en tog sorg God vir hulle. En julle is baie waardevoller vir Hom as enige voëls! Kan al julle bekommernisse ’n enkele sekonde tot julle lewe toevoeg? Natuurlik nie! En as kommer nie eers sulke klein dingetjies kan regkry nie, wat is die nut van kommer oor groter dinge? “Kyk na die lelies en hoe hulle groei. Hulle werk nie en maak nie klere nie, en selfs Salomo in al sy prag was nie so mooi geklee soos hulle nie. As God só wonderlik sorg vir die blomme wat vandag hier is en môre weg is, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Julle het so min geloof! “En moenie oor kos bekommerd wees nie – oor wat om te eet en wat om te drink nie. Moenie bekommerd wees nie. Hierdie dinge domineer die gedagtes van die nasies van hierdie wêreld. Maar julle Vader ken alreeds julle behoeftes. Beywer julle allereers vir sy koningsheerskappy en Hy sal vir julle hierdie dinge nog daarby gee. “Moet dus nie bang wees nie, klein kuddetjie. Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee. “Verkoop wat julle het, en gee vir dié wat behoeftig is. Dit sal vir julle ’n skat in die hemel opberg! En die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Julle skat sal veilig wees – geen dief kan dit steel en geen mot dit vernietig nie. “Waar jou skat is, dáár sal jou hart en gedagtes ook wees.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid