Hebreërs 4:2-6

Hebreërs 4:2-6 DB

Ons het ook die boodskap van God se redding gehoor, net soos die Israeliete van ouds. Hulle het hulle egter nie daaraan gesteur nie, en daarom was dit niks vir hulle werd nie. Hulle het dit gehoor, maar wou dit nie glo nie. Dit is net ons wat op God vertrou en sy boodskap glo wat eendag vir ewig saam met God sal rus. God self het mos gesê: “Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.” Hierdie plek waar ons vir ewig saam met God sal rus, is lankal klaar, want alles wat God gedoen het, het Hy klaargemaak toe Hy die wêreld gemaak het. Iewers staan mos oor die sewende dag geskryf: “Op die sewende dag het God gerus toe Hy al sy werk klaar gedoen het.” Maar daar staan tegelyk ook dat mense wat nie na God wou luister nie, nie vir ewig saam met God sal rus nie. Hoe moet ons dié twee uitsprake verstaan? Twee dinge staan vas: daar is nog mense wat vir ewig saam met God sal gaan rus, maar daar is ook mense wat nie vir ewig saam met God sal rus nie. Dit is daardie mense wat wel God se boodskap gehoor het, maar nie wou doen wat Hy van hulle gevra het nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid