HEBREËRS 4:2-6
HEBREËRS 4:2-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: “Toe het Ek in my toorn 'n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: “En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,” terwyl hier weer gesê word: “In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.” Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om weer in sy rus in te gaan.
HEBREËRS 4:2-6 Bybel vir almal (ABA)
Want ons het ook die goeie boodskap gehoor soos daardie mense wat uit Egipte gekom het, dit gehoor het. Maar die boodskap wat hulle gehoor het, het hulle nie gehelp nie omdat hulle nie geglo het nie. Want ons wat glo, gaan in die land in waar ons veilig kan woon en kan rus. Die Here het gesê: Ek was kwaad en Ek het gesê: So seker soos Ek lewe, hulle sal nie kom in die land waar Ek hulle veilig wou laat woon en laat rus nie. God het dit nie gesê omdat Hy nie vir hulle rus kan gee nie. God kan vir mense rus gee, Hy rus self vandat Hy die wêreld gemaak het. Want God het gepraat oor die sewende dag en Hy het gesê: “ God het op die sewende dag gerus, Hy het nie gewerk nie.” En ons lees ook dat God sê: “ Hulle sal nie kom in die land waar Ek hulle veilig wou laat woon en laat rus nie.” Die mense wat voorheen die goeie boodskap gehoor het dat God vir hulle rus sal gee, het nie ingegaan in die plek waar hulle kan rus soos God vir hulle belowe het nie. Hulle het nie ingegaan nie omdat hulle ongehoorsaam was. Maar party mense sal kan ingaan in die plek waar hulle veilig kan wees en kan rus, soos God belowe het.
HEBREËRS 4:2-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie — alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie
HEBREËRS 4:2-6 Die Boodskap (DB)
Ons het ook die boodskap van God se redding gehoor, net soos die Israeliete van ouds. Hulle het hulle egter nie daaraan gesteur nie, en daarom was dit niks vir hulle werd nie. Hulle het dit gehoor, maar wou dit nie glo nie. Dit is net ons wat op God vertrou en sy boodskap glo wat eendag vir ewig saam met God sal rus. God self het mos gesê: “Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.” Hierdie plek waar ons vir ewig saam met God sal rus, is lankal klaar, want alles wat God gedoen het, het Hy klaargemaak toe Hy die wêreld gemaak het. Iewers staan mos oor die sewende dag geskryf: “Op die sewende dag het God gerus toe Hy al sy werk klaar gedoen het.” Maar daar staan tegelyk ook dat mense wat nie na God wou luister nie, nie vir ewig saam met God sal rus nie. Hoe moet ons dié twee uitsprake verstaan? Twee dinge staan vas: daar is nog mense wat vir ewig saam met God sal gaan rus, maar daar is ook mense wat nie vir ewig saam met God sal rus nie. Dit is daardie mense wat wel God se boodskap gehoor het, maar nie wou doen wat Hy van hulle gevra het nie.
HEBREËRS 4:2-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Want hierdie blye boodskap van ’n plek van rus het ons ook ontvang, net soos hulle. Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie. Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan. Ten opsigte van hulle wat nie geglo het nie, het God egter gesê: “Daarom het Ek in my toorn met ’n eed soos volg verklaar: ‘Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.’” Dit is ten spyte van die feit dat God se rusplek alreeds gereed staan van die skepping van die wêreld af. Ons weet dit is so, want die Skrif sê êrens van die sewende dag: “En God het op die sewende dag gerus van alles wat Hy gemaak het.” In die ander gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.” God se plek van rus is dus beskikbaar, maar dié wat destyds die goeie tyding ontvang het, kon as gevolg van hulle ongeloof nie daar ingaan nie.