2 Korintiërs 5:14-21

2 Korintiërs 5:14-21 DB

Ek weet dat Christus se liefde ons almal aanvuur. Ons weet dat een Man ter wille van ons almal gesterf het. Daarom is ons almal nou ook dood. Ons is bevry van die mag van die sonde en die dood. Ons behoort nou net aan Christus. Daarom mag ons nie langer vir onsself leef nie. Nee, ons moet nou leef tot eer van Hom wat in ons plek doodgegaan het en deur God lewendig gemaak is. Noudat ek op ’n nuwe manier leef, dink ek ook op ’n nuwe manier oor ander mense en oor Christus. Vroeër, toe ek nog nie ’n Christen was nie, het ek heeltemal verkeerd oor Christus gedink. Toe het ek glad nie in Hom geglo nie. Maar nou dink ek op die regte manier oor Hom. Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy ’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine. Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan is die nuwe lewe hier! Dit alles is God se werk. Hy het die vyandskap tussen ons en Hom uit die pad gevat toe Christus aan die kruis dood is. God het my nou in sy diens geneem om vir mense te vertel van sy versoening. Deur Christus se sterwe het God vrede tussen Hom en die wêreld kom maak omdat Hy nie langer mense se sondes teen hulle hou nie. Dit is die goeie nuus wat ek nou oral bekendmaak. Ek is Christus se ambassadeur hier op aarde. Ek verteenwoordig Hom op elke plek waar ek kom. God praat deur my met julle almal. Ek smeek julle in die Naam van Christus, laat toe dat God die vyandskap tussen Hom en julle wegvat. Aanvaar hierdie versoening as ’n geskenk uit sy hand. Christus het nooit enige sondes gedoen nie. Maar God het Hom aan die kruis in ons plek in sonde verander. Hy het al ons sondes daar op Christus afgelaai sodat ons wat in Hom glo se verhouding met God nou herstel is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid