Matteus 2:1-12

Matteus 2:1-12 AFR20

Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf, “ ‘En jy, Betlehem, in die grondgebied van Juda, jy is glad nie die geringste onder die regeerders van Juda nie; want uit jou sal daar 'n leier kom wat my volk Israel as herder sal lei. ’ ” Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.” Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, het hulle 'n onbeskryflike groot vreugde ervaar. Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. En omdat hulle in 'n droom 'n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met 'n ander pad langs na hulle land teruggegaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid