Matteus 19

19
Huwelik en egskeiding
(Mark 10:1-12)
1Toe Jesus sy redevoering voltooi het, het Hy van Galilea af vertrek en na die gebied van Judea oorkant die Jordaan gegaan. 2'n Groot skare het Hom gevolg, en Hy het hulle daar gesond gemaak. 3Die •Fariseërs het na Hom gekom, en om Hom te toets, gevra: “Is dit toelaatbaar dat 'n man om enige rede van sy vrou skei?” 4Hy antwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af manlik en vroulik gemaak het nie? ” 5Verder sê Hy: “ ‘Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een liggaam wees,’ 6sodat hulle nie meer twee is nie, maar een liggaam. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.” 7Toe vra hulle Hom: “Waarom het Moses dan bepaal dat 'n man sy vrou 'n skeibrief moet gee om sodoende van haar te skei?” 8Hy antwoord hulle: “Moses het julle weens julle harde harte toegelaat om van julle vroue te skei, maar van die begin af was dit nie so nie. 9 Ek sê vir julle dat wie van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, en met 'n ander trou, egbreuk pleeg.” 10Sy dissipels sê toe vir Hom: “As dit die stand van sake tussen man en vrou is, is dit beter om nie te trou nie. ” 11Hy het egter vir hulle gesê: “Nie almal kan hierdie saak begryp nie – slegs hulle aan wie dit gegee is. 12Daar is inderdaad eunugs wat so gebore is, daar is eunugs wat deur mense so gemaak is, en daar is eunugs wat hulleself so gemaak het ter wille van die •koninkryk van die hemele. Laat enigeen wat kan, dit begryp.”
Kindertjies geseën
(Mark 10:13-16; Luk 18:15-17)
13Toe is kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle die hande kon oplê en vir hulle bid. Maar die dissipels het hulle berispe. 14Jesus het egter gesê: “Laat die kindertjies begaan, en moet hulle nie langer verhinder om na My te kom nie, want die •koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle.” 15Hy het hulle toe die hande opgelê en daarvandaan vertrek.
Die ryk jong man
(Mark 10:17-31; Luk 18:18-30)
16En kyk, iemand het na Jesus gekom en gevra: “Meester, watter goeie ding moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan verkry?” 17Hy het hom geantwoord: “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. As jy die lewe wil binnegaan, moet jy die gebooie nakom. ” 18Hy vra Hom: “Watter?” Jesus antwoord: “Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuig nie, 19eer jou vader en jou moeder,” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” 20Die jong man sê vir Hom: “Dit alles het ek nagekom – wat kom ek dan nog kort?” 21Jesus het vir hom gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” 22Toe die jong man egter hierdie antwoord hoor, het hy bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.
23Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: 'n Ryke sal moeilik in die •koninkryk van die hemele ingaan. 24Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die •koninkryk van God in te gaan.” 25Toe die dissipels dit hoor, was hulle heeltemal uit die veld geslaan en het gesê: “Wie kan dan gered word?” 26Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik. ” 27Toe vra •Petrus Hom: “Kyk, ons het alles agtergelaat en U gevolg. Wat sal ons dan daarvoor kry?” 28 Jesus het vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: In die nuwe bedeling, wanneer die •Seun van die Mens op sy glansryke troon sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regspreek. 29En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam, sal honderd maal soveel ontvang, en die ewige lewe erf. 30 Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Tans Gekies:

Matteus 19: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid