Matteus 18

18
Belangrikste in die koninkryk
(Mark 9:33-37; Luk 9:46-48)
1 In daardie tyd het die dissipels na Jesus gekom en gesê: “Wie is nou eintlik die belangrikste in die •koninkryk van die hemele?” 2 Hy het toe 'n kindjie nader geroep, hom tussen hulle laat staan 3en gesê: “•Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie. 4 Wie homself dus gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele. 5 En wie een so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.”
Waarskuwing teen struikelblokke
(Mark 9:42-47; Luk 17:1-2)
6“Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat 'n maalklip van 'n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. 7Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom; nogtans, wee die mens deur wie die struikelblok kom. 8 As jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg! Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gegooi te word. 9En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou weg! Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om twee oë te hê en in Gehenna met sy vuur gegooi te word.”
Gelykenis van die verlore skaap
(Luk 15:3-7)
10“Pasop dat julle nie neersien op een van hierdie kleintjies nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele voortdurend die aangesig van my Vader in die hemele aanskou. 12Wat dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle raak weg, sal hy nie die nege-en-negentig in die berge los, en die een wat weggeraak het, gaan soek nie? 13En as hy hom wel kry, •amen, Ek sê vir julle, dan is hy baie blyer oor hom as oor die nege-en-negentig wat nie weggeraak het nie. 14So is dit nie die wil van julle Vader in die hemele dat een van hierdie kleintjies verlore raak nie.”
Liefdevolle uitreik na 'n sondaar
(Luk 17:3)
15“ As jou broer teen jou sondig, moet jy hom teregwys waar julle twee alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16As hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke saak bevestig mag word. 17As hy weier om na hulle te luister, sê dit vir die •gemeente. En as hy ook weier om na die gemeente te luister, laat hy vir jou wees soos die heiden en die •tollenaar.
18 “•Amen, Ek sê vir julle: Wat julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees, en wat julle ook al op aarde ontbind, sal in die hemel ontbind wees. 19Verder, amen, Ek sê vir julle: As twee van julle op aarde saamstem oor enigiets wat julle vra, sal my Vader in die hemele dit aan julle toestaan. 20Want waar twee of drie in my Naam byeen is, daar is Ek in hulle midde. ”
Herhaaldelike vergifnis
21Toe het •Petrus nader gekom en Hom gevra: “Here, hoeveel keer sal my broer teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe keer toe?” 22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie tot sewe keer nie, maar tot sewentig maal sewe keer.
23“Daarom is die •koninkryk van die hemele soos 'n koning wat rekenskap van sy slawe wou eis. 24Toe hy hulle skuld begin nagaan, is een wat tienduisend talent verskuldig was, na hom gebring. 25Omdat hy nie kon terugbetaal nie, het die heer beveel dat hy, asook sy vrou en kinders en alles wat hy besit, verkoop word en dat die skuld so terugbetaal moes word. 26Die slaaf het toe voor hom op die grond neergeval, laag voor hom gebuig en gesê, ‘Wees geduldig met my, en ek sal u alles terugbetaal.’ 27 Die heer van daardie slaaf het hom innig jammer gekry, hom vrygelaat en sy skuld vir hom kwytgeskeld. 28Maar toe daardie slaaf uitgaan, het hy een van sy medeslawe gekry wat hom honderd denarius geskuld het. Hy het hom aan die keel gegryp, gewurg en gesê, ‘Betaal terug wat jy skuld!’ 29Sy medeslaaf val toe neer en smeek hom, ‘Wees geduldig met my, en ek sal jou terugbetaal.’ 30Maar hy wou nie – inteendeel, hy het weggegaan en hom in die tronk laat gooi, totdat hy die verskuldigde bedrag sou terugbetaal.
31“Toe sy medeslawe sien wat gebeur het, was hulle baie ontsteld en het vir hulle heer alles gaan vertel wat gebeur het. 32Daarop ontbied sy heer hom en sê vir hom, ‘Jou slegte slaaf! Al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. 33Moes jy nie ook jou medeslaaf begenadig soos ek jou begenadig het nie?’ 34En sy heer het kwaad geword en hom aan die folteraars oorgegee totdat hy al die skuld sou terugbetaal. 35 So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Tans Gekies:

Matteus 18: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid