Matteus 20

20
Gelykenis van arbeiders in die wingerd
1“Die •koninkryk van die hemele is soos 'n grondeienaar wat reeds vroegoggend uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. 2Nadat hy met die arbeiders op 'n denarius per dag ooreengekom het, het hy hulle na sy wingerd gestuur. 3Teen die derde uur het hy uitgegaan en ander op die markplein gesien wat ledig staan, 4en vir hulle gesê, ‘Gaan julle ook na die wingerd, en ek sal julle 'n billike loon betaal.’ 5En hulle het gegaan. Teen die sesde en die negende uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. 6Teen die elfde uur het hy uitgegaan en ander gekry wat rondstaan, en vir hulle gesê, ‘Waarom staan julle die hele dag hier ledig rond?’ 7Hulle antwoord hom, ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy sê toe vir hulle, ‘Gaan julle ook na die wingerd.’ 8Teen die aand sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman, ‘Roep die arbeiders en betaal hulle die loon; begin by die laastes, tot by die eerstes.’ 9Dié wat teen die elfde uur gehuur is, het gekom en elk 'n denarius gekry. 10Toe die eerstes kom, het hulle gedink dat hulle meer sal kry, maar ook hulle het elk 'n denarius gekry. 11Hulle het dit geneem, maar by die grondeienaar gaan mor, 12‘Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle dieselfde behandel as ons, ons wat die dag se werklas en die hitte moes verduur.’ 13Maar hy het een van hulle geantwoord, ‘Vriend, ek doen jou nie 'n onreg aan nie. Het jy nie met my op 'n denarius ooreengekom nie? 14Neem wat joune is en gaan. Ek verkies om vir hierdie laaste een dieselfde te gee as vir jou. 15Mag ek nie met my goed maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is? ’ 16 So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”
Derde lydensaankondiging
(Mark 10:32-34; Luk 18:31-34)
17Jesus het opgegaan na Jerusalem. Onderweg het Hy die twaalf dissipels opsy geneem en vir hulle gesê: 18“ Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal oorgelewer word aan die leierpriesters en skrifkenners. Hulle sal Hom ter dood veroordeel, 19en Hom aan die heidene oorlewer om Hom te bespot, te gesel en te kruisig; maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ”
Versoek oor Jakobus en Johannes
(Mark 10:35-45; Luk 22:24-27)
20Toe het die moeder van die seuns van Sebedeus met haar seuns na Hom gekom. Sy het gekniel om Hom iets te vra. 21Hy het vir haar gevra: “Wat wil jy dan hê?” Sy antwoord Hom: “Beveel dat in u •koninkryk hierdie twee seuns van my, een aan u regterhand en een aan u linkerhand, sal sit. ” 22Jesus het geantwoord: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek moet drink? ” Hulle antwoord Hom: “Ons kan.” 23Hy sê vir hulle: “Julle sal inderdaad my beker drink, maar om aan my regterhand en my linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie. Daardie plekke behoort aan hulle vir wie my Vader dit voorberei het.” 24Toe die tien hiervan te hore kom, was hulle verontwaardig oor die twee broers. 25 Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 26 So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 27en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. 28 Net so het die •Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee. ”
Genesing van twee blindes
(Mark 10:46-52; Luk 18:35-43)
29 Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot skare Hom gevolg. 30En kyk, daar het twee blindes langs die pad gesit, en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, het hulle begin uitroep: “Ontferm U oor ons, Here, •Seun van Dawid!” 31Die skare het hulle berispe, dat hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder uitgeroep: “Ontferm U oor ons, Here, Seun van Dawid!” 32Toe gaan staan Jesus, roep hulle en vra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” 33Hulle antwoord Hom: “Here, dat ons oë geopen mag word!” 34Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. En hulle kon onmiddellik sien en het Hom gevolg.

Tans Gekies:

Matteus 20: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid