Lukas 2:8-20

Lukas 2:8-20 AFR20

Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. 'n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal 'n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” Skielik was daar saam met die engel 'n hemelse menigte wat God loof: “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het! ” Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: “Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.” Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref. Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. Almal wat hiervan gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het, maar Maria het al hierdie woorde gekoester en in haar hart daaroor bly nadink. Die skaapwagters het teruggekeer, terwyl hulle God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het – presies soos dit aan hulle meegedeel is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid