Lukas 2

2
Geboorte van Jesus
(Matt 1:18-25)
1In daardie tyd het keiser Augustus 'n dekreet uitgevaardig dat die bevolking van die hele ryk geregistreer moet word. 2Dit was die eerste volkstelling wat gehou is toe Sirenius prokurator van Sirië was. 3Almal het gegaan om hulle te laat registreer, elkeen na sy eie dorp. 4Josef het ook gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea gegaan, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was. 5Hy het saam met sy verloofde, Maria, wat swanger was, gegaan om hom te laat registreer. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, 7en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, 'n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar nie vir hulle plek in die herberg was nie.
Goeie boodskap aan die skaapwagters
8Daar was skaapwagters in dieselfde omgewing wat in die oop veld gebly en snags hulle skaaptroppe opgepas het. 9'n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here. 12 Dit sal vir julle die teken wees: Julle sal 'n pasgebore kind vind wat in doeke toegedraai is en in 'n krip lê.” 13Skielik was daar saam met die engel 'n hemelse menigte wat God loof:
14“Eer aan God in die hoogste,
en vrede op aarde vir die mense
in wie God 'n welbehae het! ”
15Nadat die engele van hulle af na die hemel weggegaan het, sê die skaapwagters toe vir mekaar: “Kom ons gaan reguit na Betlehem en gaan kyk na wat gebeur het en wat die Here aan ons bekend gemaak het.”
16Hulle het toe haastig daarheen vertrek en Maria en Josef en die Kindjie wat in die krip lê, daar aangetref. 17Nadat hulle Hom gesien het, het hulle aan almal gaan vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is.
18Almal wat hiervan gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters aan hulle vertel het, 19 maar Maria het al hierdie woorde gekoester en in haar hart daaroor bly nadink. 20Die skaapwagters het teruggekeer, terwyl hulle God verheerlik en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het – presies soos dit aan hulle meegedeel is.
Besnydenis van Jesus
21Ná verloop van agt dae moes die Kindjie besny word. En Hy is Jesus genoem, die naam wat deur die engel aangedui is voordat Hy in die moederskoot ontvang is.
Wyding van Jesus aan die Here
22Ná afloop van hulle reinigingstyd wat die Wet van Moses voorskryf, het hulle Hom na Jerusalem geneem om Hom aan die Here te wy. 23Soos daar in die Wet van die Here geskryf staan: “Elke eerstelingseun wat gebore word, moet aan die Here gewy word.” 24Hulle het ook, soos die Wet van die Here voorskryf, 'n offer gebring: “twee tortelduiwe, of twee jong duiwe” .
Simeon en Anna by die tempel
25En kyk, in Jerusalem was daar 'n man met die naam Simeon. Hierdie man was wetsgehoorsaam en toegewyd, en het uitgesien na die herstel van Israel. Die Heilige Gees was met hom. 26Hy het deur die Heilige Gees 'n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27Gelei deur die Gees, het hy na die tempelterrein gegaan. Toe Jesus se ouers die Kindjie inbring, sodat hulle die gebruiklike voorskrif van die wet oor Hom kon nakom, 28het Simeon Hom in sy arms geneem en God geloof:
29“Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf,
soos U gesê het.
30 My oë het inderdaad u verlossing gesien,
31wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het,
32'n lig wat vir die nasies tot openbaring dien,
en eer bring aan u volk Israel.”
33Sy vader en moeder was verstom oor die dinge wat oor Hom gesê is.
34 Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as 'n teken wat betwis word, 35sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.”
36Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel, uit die stam van Aser. Sy was al op gevorderde leeftyd. Sy is as jong meisie getroud, het sewe jaar lank saam met haar man geleef, 37en was nou 'n weduwee van byna vier-en-tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempelterrein af weggebly nie en God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank, en met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat.
39Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die Wet van die Here van hulle verwag, het hulle na Galilea teruggegaan, na hulle tuisdorp Nasaret. 40Die Kindjie het gegroei en sterk geword , en vol wysheid, en die genade van God was met Hom.
Jesus by die tempel
41 Jesus se ouers het elke jaar vir die fees van die Pasga na Jerusalem gegaan. 42Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle oudergewoonte vir die fees daarheen gegaan. 43Ná afloop van die fees het hulle teruggekeer, maar die Kind Jesus het sonder sy ouers se medewete in Jerusalem agtergebly.
44Omdat hulle gedink het dat Hy elders in die reisgeselskap was, was hulle reeds 'n dag lank op pad voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle teruggedraai na Jerusalem om Hom te soek.
46Ná drie dae het hulle Hom op die tempelterrein gekry, waar Hy tussen die leermeesters sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47Almal wat na Hom geluister het, was verstom oor sy insig en sy antwoorde. 48Toe sy ouers Hom sien, was hulle baie ontsteld. Sy moeder sê toe vir Hom: “Kind, hoe kon jy so iets aan ons doen? Kyk, jou vader en ek het angstig na jou gesoek.” 49Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek met die dinge van my Vader besig moet wees nie?” 50Hulle het egter nie verstaan wat Hy vir hulle gesê het nie.
51Toe het Hy saam met sy ouers vertrek en in Nasaret aangekom, en Hy was gehoorsaam aan hulle. Maar sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
52Jesus het steeds wyser en al hoe meer volwasse geword en toegeneem in guns by God en onder die mense.

Tans Gekies:

Lukas 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid