Levitikus 20

20
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“ Vir die Israeliete moet jy sê, ‘Enigiemand onder die Israeliete en onder die •vreemdelinge met tydelike verblyf in Israel wat van sy nageslag aan Moleg afstaan, moet beslis sterf. Die volk van die land moet hom met klippe doodgooi; 3anders sal Ek self teen daardie man draai en hom uit die midde van sy volk verwyder, omdat hy van sy nageslag afgestaan het aan Moleg om so my heiligdom te verontreinig en my heilige Naam te ontheilig. 4Ja, as die volk van die land hulle oë dig sluit vir daardie man en hom nie doodmaak wanneer hy van sy nageslag aan Moleg afstaan nie, 5 sal Ek My teen daardie man en sy familie rig, en Ek sal hom en almal wat agter hom aan hoereer en sodoende agter Moleg aan hoereer, verwyder uit die midde van hulle volk.
6“ ‘ En iemand wat hom wend tot waarsêergeeste en voorvadergeeste om agter hulle aan te hoereer – Ek sal teen so iemand draai en hom uit die midde van sy volk verwyder.
7“ ‘ Sorg dat julle heilig bly; wees heilig, want Ek, die Here, is julle God. 8 Julle moet my vaste voorskrifte nakom en dit uitvoer. Ek is die Here wat julle heilig maak.
9“ ‘ As daar enigiemand is wat sy vader en sy moeder vervloek, moet hy beslis sterf. Hy het sy vader en sy moeder vervloek, sy bloedskuld is op hom. 10 As daar iemand is wat owerspel pleeg met 'n vrou, moet daardie man wat owerspel pleeg met sy naaste se vrou beslis sterf – die owerspeler én die owerspeelster. 11 As daar iemand is wat by sy vader se vrou slaap, het hy naaktheid wat aan sy vader behoort, ontbloot. Hulle moet albei beslis sterf. Hulle bloedskuld is op hulle. 12 As daar iemand is wat by sy skoondogter slaap, moet hulle albei sterf. Hulle het iets skandaligs gedoen. Hulle bloedskuld is op hulle. 13 As daar iemand is wat by 'n manlike persoon slaap soos by 'n vrou, het hulle albei iets afstootliks gedoen. Hulle moet beslis sterf. Hulle bloedskuld is op hulle. 14 As daar iemand is wat met 'n vrou en haar moeder trou, is dit 'n skanddaad. Die mense moet hom en die vroue met vuur verbrand. Daar mag nie so 'n skanddaad onder julle wees nie. 15 As daar 'n man is wat met 'n dier geslagsgemeenskap het, moet hy beslis sterf en die dier moet julle doodmaak. 16As daar 'n vrou is wat na enige dier gaan om daarmee te paar, moet die vrou en die dier doodgemaak word. Hulle moet beslis sterf. Hulle bloedskuld is op hulle. 17 As daar 'n man is wat sy suster, 'n dogter van sy vader of sy moeder, vat, en hy sien haar naaktheid en sy sien sy naaktheid, is dit 'n skande. Hulle moet voor die oë van hulle mense verwyder word. Die naaktheid van sy suster het hy ontbloot; sy skuld moet hy dra. 18 As daar 'n man is wat by 'n vrou slaap wat ongesteld is en hy ontbloot haar naaktheid – hy lê haar bron bloot en sy ontbloot die bron van haar bloeding – dan moet hulle albei verwyder word uit die midde van hulle volk. 19 Die naaktheid van jou moeder se suster of jou vader se suster mag jy nie ontbloot nie. As iemand 'n bloedverwant ontbloot, moet hulle hulle skuld dra. 20As daar 'n man is wat by sy tante slaap, het hy die naaktheid wat aan sy oom behoort, ontbloot. Hulle moet hulle sonde dra: Kinderloos sal hulle sterf. 21 As daar 'n man is wat sy broer se vrou vat, het hy die naaktheid wat aan sy broer behoort, ontbloot – dit is besoedeling. Kinderloos sal hulle wees.
22“ ‘ Julle moet al my vaste voorskrifte en al my beslissings nakom en dit uitvoer sodat die land waarheen Ek julle gaan neem om in te woon, julle nie ook uitspoeg nie. 23Julle mag nie die gebruike volg van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf nie, want hulle het al hierdie dinge gedoen, en Ek het 'n afsku in hulle gehad. 24 Ek het vir julle gesê, “Julle sal hulle grondgebied in besit neem. Ek self gee dit vir julle as besitting – 'n land wat oorloop van melk en heuning.” Ek, die Here, is julle God wat julle van die ander volke afgesonder het.
25“ ‘ Julle moet die rein diere onderskei van •onreines en die rein voëls van onreines. Julle mag nie julleself walglik maak deur diere of voëls of enigiets wat op die grond kruip, wat Ek vir julle as onrein afgesonder het nie. 26 Julle moet vir My heilig wees, want Ek, die Here, is heilig en Ek het julle van die volke afgesonder om aan My te behoort.
27 “ ‘As daar 'n man of 'n vrou is in wie daar 'n waarsêergees of voorvadergees is, moet hulle beslis sterf. Die mense moet hulle met klippe doodgooi. Hulle bloedskuld is op hulle.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid