Levitikus 21

21
Voorskrifte vir priesters
1 Die Here het vir Moses gesê: “Praat met die priesters, die seuns van Aäron, en sê vir hulle, ‘'n Priester mag hom nie met 'n dooie persoon onder sy mense verontreinig nie, 2 behalwe iemand wat sy naby bloedverwant is: sy moeder en vader, sy seun en dogter, sy broer 3en sy maagdelike suster wat 'n naby bloedverwant is, wat nie 'n man het nie. Met hulle mag hy hom verontreinig. 4 As eggenoot mag hy homself nie verontreinig onder sy mense om homself so te ontheilig nie.
5“ ‘ Priesters mag nie 'n kaal kol op hulle koppe skeer nie; die kante van hulle baarde mag hulle nie afskeer en aan hulle liggame mag hulle nie snye maak nie. 6 Hulle moet heilig wees vir hulle God en nie die Naam van hulle God ontheilig nie. Omdat hulle die offergawes aan die Here, die voedsel van hulle God, by die altaar aanbied, moet hulle heilig wees.
7“ ‘ Hulle mag nie vroue neem wat hoereer en nie meer maagde is nie. Vroue wat deur hulle mans verstoot is, mag hulle ook nie neem nie; want 'n priester is heilig vir sy God. 8 Erken 'n priester se heiligheid, want hy bied die voedsel van jou God by die altaar aan. Hy moet vir jou heilig wees, want Ek, die Here, wat julle heilig, is heilig. 9 As die dogter van 'n priester haarself verontreinig deur hoerery, verontreinig sy ook haar vader. Sy moet met vuur verbrand word.
10“ ‘ Die priester wat die grootste onder sy broers is, op wie se kop die salfolie gegiet is, wat gewy is om die priesterklere aan te trek – die hare op sy kop mag hy nie laat loshang nie en sy klere mag hy nie skeur nie. 11 By geen dooie mag hy kom nie; selfs deur sy vader of sy moeder mag hy hom nie verontreinig nie. 12 Hy mag nie eers by die heiligdom uitgaan en so die heiligdom van sy God ontheilig nie. Die wyding met die salfolie van sy God rus immers op hom. Ek is die Here.
13“ ‘ Hy mag net met 'n maagd trou. 14'n Weduwee, 'n geskeide vrou, iemand wat nie meer 'n maagd is nie en 'n hoer, mag hy nie as vrou neem nie. Slegs 'n maagd uit sy eie mense mag hy as vrou neem. 15Hy mag nie sy nageslag onder sy mense ontheilig nie, want Ek, die Here heilig hom.’ ”
16Die Here het met Moses gepraat en gesê: 17“Praat met Aäron en sê vir hom, ‘Niemand uit jou nageslag aan wie daar 'n liggaamsgebrek is, mag tot in alle geslagte nader kom om die voedsel van sy God by die altaar aan te bied nie. 18Ja, niemand met 'n liggaamsgebrek mag nader kom nie: nie 'n man wat blind of mank is, met 'n haaslip of 'n abnormale ledemaat, 19of 'n man wat 'n breuk aan sy voet of hand gehad het, 20 of wat 'n boggelrug het, of 'n dwerg is, of met 'n pêrel op sy oog of 'n swerende uitslag of skurfsiekte of vergruisde testikels nie. 21Niemand uit die nageslag van Aäron, die priester, aan wie daar 'n liggaamsgebrek is, mag nader kom om die offergawes vir die Here aan te bied nie. Hy het 'n liggaamsgebrek, hy mag nie nader kom om voedsel aan sy God aan te bied nie. 22 Die voedsel van sy God uit die •besonder heilige gawes en uit die •heilige gawes mag hy eet; 23maar na die voorhangsel mag hy nie gaan nie en by die altaar mag hy nie kom nie, want hy het 'n liggaamsgebrek. Hy mag nie my heilige voorwerpe ontheilig nie, want Ek, die Here, heilig dit.’ ”
24Moses het toe met Aäron en met sy seuns en met al die Israeliete gepraat.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid