Levitikus 19

19
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“Praat met die hele volksvergadering van die Israeliete en sê vir hulle, ‘Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is heilig. 3 Elkeen van julle moet vir sy moeder en vader ontsag hê, en my Sabbatte moet julle onderhou. Ek is die Here julle God. 4 Moet julle nie tot nikswerd afgode wend nie. Gegote beelde mag julle nie vir julle maak nie. Ek, die Here, is julle God.
5“ ‘ Wanneer julle vir die Here 'n •maaltydoffer slag, moet julle dit so slag dat dit tot julle voordeel strek. 6Op die dag wanneer julle offer, moet dit geëet word, of die dag daarna. Wat tot die derde dag oorbly, moet met vuur verbrand word. 7As dit wel op die derde dag geëet word, is dit iets walgliks. Dit is nie aanvaarbaar nie. 8Die een wat dit eet, sal sy sondeskuld dra, omdat hy dit wat heilig is vir die Here, ontheilig het. Daardie persoon moet uit sy volk verwyder word.
9“ ‘ Wanneer julle die graanoes van julle grond insamel, mag jy nie die kant van jou land skoon afoes nie, en die oesreste mag jy nie optel nie. 10Jy mag nie die naoes van jou wingerd afoes nie, en die trosse wat val, mag jy nie optel nie. Vir die weerlose en die •vreemdeling moet jy dit agterlaat. Ek is die Here julle God.
11“ ‘ Julle mag nie steel nie, julle mag nie lieg nie, en julle mag as volksgenote mekaar nie bedrieg nie. 12 Julle mag nie in my Naam 'n vals eed aflê en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here. 13 Jy mag nie jou naaste uitbuit en beroof nie. Jy mag nie die loon van 'n dagloner deur die nag by jou hou tot die oggend nie. 14 Jy mag 'n dowe nie vervloek nie en voor 'n blinde nie 'n struikelblok lê nie. Jy moet vir jou God ontsag hê. Ek is die Here.
15“ ‘ Julle mag nie onreg pleeg in die regspraak nie. Jy mag nie partydig wees vir armes of voorkeur gee aan belangrikes nie. Oordeel jou volksgenoot regverdig. 16 Jy mag nie as 'n kwaadstoker tussen jou mense rondgaan nie; jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.
17“ ‘ Jy mag nie jou broer in jou hart haat nie. Wys jou volksgenoot openhartig tereg. Jy mag nie 'n misstap teen hom bly hou nie. 18Jy mag nie haatdraend wees en 'n wrok koester teen die kinders van jou volk nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.
19“ ‘ My vaste voorskrifte moet julle nakom. Jy mag onder jou diere nie verskillende soorte laat paar nie. Op jou land mag jy nie verskillende soorte saad saai nie. Klere van verskillende soorte materiaal mag jy nie dra nie.
20“ ‘ Wanneer 'n man by 'n vrou slaap en sy is 'n slavin wat aan 'n ander man toegesê is, maar die vrykooptransaksie is nie afgehandel nie of vryheid is nog nie aan haar toegeken nie, moet daar skadevergoeding wees. Hulle mag nie doodgemaak word nie, want sy was nie vry nie. 21Die man moet sy •hersteloffer vir die Here na die ingang van die •Tent van Ontmoeting bring, 'n ram as hersteloffer. 22Die priester moet met die ram van die hersteloffer vir hom voor die Here versoening doen vir die sonde wat hy gedoen het. Dan sal hy vergewe word vir die sonde wat hy gedoen het.
23“ ‘Wanneer julle in die land aankom en allerhande vrugtebome plant, moet julle die vrugte daarvan as verbode beskou. Vir drie jaar moet dit vir julle verbode wees; dit mag nie geëet word nie. 24In die vierde jaar moet al die vrugte daarvan heilige lofoffers vir die Here wees. 25In die vyfde jaar mag julle die vrugte daarvan eet om die opbrengs daarvan vir julle steeds meer te maak. Ek is die Here julle God.
26“ ‘ Julle mag nie vleis eet met die bloed nog daarin nie. Julle mag nie voorspellings maak uit voortekens nie, en julle mag nie waarsêery beoefen nie. 27 Julle mag nie die hare op julle slape afknip nie. Jy mag nie die kant van jou baard wegsny nie. 28Julle mag nie snye op julle liggame maak vir 'n afgestorwene nie, en julle mag julle nie tatoeëer nie. Ek is die Here.
29“ ‘ Jy mag jou dogter nie onteer deur van haar 'n prostituut te maak nie, sodat hoerery nie in die land posvat en die land vol skanddade word nie.
30“ ‘ My Sabbatte moet julle hou en vir my heiligdom moet julle ontsag hê. Ek is die Here.
31“ ‘ Moet julle nie wend tot waarsêergeeste nie, en by voorvadergeeste moet julle nie hulp soek nie. Dit is net om deur hulle •onrein te word. Ek, die Here, is julle God.
32“ ‘ Vir 'n grysaard moet jy opstaan, eerbied betoon aan 'n bejaarde en ontsag hê vir jou God. Ek is die Here.
33“ ‘ Wanneer 'n vreemdeling by jou verblyf het in julle land, mag julle hom nie verdruk nie. 34 Die vreemdeling wat verblyf by julle het, moet vir julle net soos 'n gebore Israeliet by julle wees. Jy moet vir hom lief wees soos vir jouself. Julle was immers self vreemdelinge in Egipteland. Ek is die Here julle God.
35“ ‘ Julle mag nie onreg pleeg in die regspraak wanneer dit gaan oor lengte, gewig en inhoudsmaat nie. 36Julle moet 'n onvervalste weegskaal, onvervalste gewigte, 'n onvervalste efa en 'n onvervalste hin hê. Ek is die Here julle God, wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. 37 Julle moet al my vaste voorskrifte en al my beslissings nakom; julle moet dit uitvoer. Ek is die Here.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid