Kolossense 1:1-29

Kolossense 1:1-29 AFR20

Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, aan die heiliges in Kolosse, gelowige broers in Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader! Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus •Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die •heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. Dit het julle geleer by Epafras, ons geliefde medewerker, wat ter wille van julle 'n getroue dienskneg van Christus is. Dit was ook hy wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om 'n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig. God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die •koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het. Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die •Eersgeborene oor die hele skepping; want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het. Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van die verdrukkinge van •Christus aan, tot voordeel van sy liggaam, die •kerk, waarvan ek 'n dienaar geword het, ooreenkomstig die bedieningstaak wat God aan my toevertrou het, om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy •heiliges bekend gemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid