KOLOSSENSE 1:1-29

KOLOSSENSE 1:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Paulus wat deur God gekies is om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my. Ons skryf aan God se mense in Kolosse, gelowige broers en susters wat aan God verbonde is. Mag die genade en vrede van God ons Vader met julle wees. In al ons gebede dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus, vir julle, want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en van julle liefde vir al God se mense. Julle doen dit omdat julle hoop om dit te ontvang wat in die hemel vir julle gereed lê. Julle het daarvan gehoor toe die waarheid van die Goeie Nuus aan julle verkondig is. Dieselfde Goeie Nuus wat julle bereik het, gaan ook oor die hele wêreld uit. In die hele wêreld dra dit goeie vrug en versprei dit, net soos dit by julle gebeur het vanaf die dag toe julle die waarheid oor God se genade gehoor en verstaan het. Epafras, ons geliefde medewerker, het julle daarvan geleer. Sy getroue diens aan Christus is in julle belang. Dit is hý wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Van die dag af wat ons dít oor julle gehoor het, hou ons daarom nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê. Ons bid ook dat julle leefstyl tot eer van die Here sal wees om Hom te behaag deurdat julle lewe vol goeie werke sal wees en dat julle God al hoe beter sal leer ken. Ons bid dat Hy deur die krag van sy goddelike heerlikheid julle sal toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard terwyl julle met blydskap altyd die Vader dank dat Hy julle geskik gemaak het om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat volgens sy wil lewe. Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun. Deur die Seun het ons verlossing verkry, naamlik die vergewing van sonde. Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping, omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of maghebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep. Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind. Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam. Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is. God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Eers was julle ook ver van God af. Met verkeerde dade het julle gewys dat julle Hom vyandiggesind is. Maar nou het Hy julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle voor Hom as sy eie mense te laat staan, skoon en foutloos. Maar dan moet julle aanhou glo. Julle moet onwrikbaar vas bly staan en nie die verwagting laat vaar wat in julle gewek is toe julle die Goeie Nuus gehoor het nie. Hierdie Goeie Nuus is aan almal onder die son verkondig. En ek, Paulus, het hiervan ’n dienaar geword. Ek is nou bly dat ek tot julle voordeel kan swaarkry. Ek is bly dat ek die deel van Christus se vervolging wat nog oorbly, kan help dra. Ek verduur dit in mý liggaam tot voordeel van sý liggaam, die kerk. Ek is ’n dienskneg van dié kerk. God het my die verantwoordelikheid gegee om aan julle sy volle boodskap bekend te maak. Hierdie boodskap was vir eeue en geslagte lank ’n geheim, maar nou het God dit aan sy eie mense bekendgemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe wonderlik die heerlikheid van hierdie geheim vir alle volke is. Die geheim is: Christus leef in julle. Dit is die vooruitsig dat julle in die hemelse heerlikheid sal deel. Juis Hom verkondig ons! Ons doen dit deur elke mens te waarsku en met alle moontlike wysheid te onderrig. So wil ons graag elke mens in ’n volmaakte verhouding met Christus voor God laat staan. Hiervoor werk en stry ek met Christus se krag wat magtig in my aan die werk is.

KOLOSSENSE 1:1-29 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Paulus, is 'n apostel van Christus Jesus omdat God dit wil hê. Ek en Timoteus, ons vriend, skryf hierdie brief vir julle daar in die stad Kolosse. Vriende, julle behoort aan God, julle glo in Christus en julle behoort ook aan Hom. Ons bid dat God ons Vader genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee. Ons bid baie vir julle, en dan sê ons elke maal dankie vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en dat julle lief is vir al die ander mense wat aan God behoort. Julle glo en julle weet wat God vir julle in die hemel gebêre het. Julle het daarvan gehoor toe julle die goeie boodskap gehoor het, die boodskap wat waar is. Meer en meer mense hoor die goeie boodskap en hulle doen dan wat God wil hê. Julle ook, julle het die goeie boodskap gehoor en julle het besef dat God baie goed is. Epafras het vir julle vertel dat God baie goed is. Epafras werk saam met my, en ek is lief vir hom en ek weet hy doen altyd sy werk baie goed. Hy werk vir Christus daar by julle. Hy het ook vir ons vertel dat die Heilige Gees julle help om lief te wees vir mekaar. Vandat ons gehoor het wat Epafras vir ons gesê het, bid ons elke dag vir julle. Ons bid en vra dat julle sal weet wat God wil hê julle moet doen. Ons bid dat die Heilige Gees vir julle sal help om te verstaan wat God wil hê julle moet doen. Dan sal julle so lewe dat die Here altyd tevrede sal wees met julle. Julle sal dinge doen waarvan Hy hou, baie goeie dinge, en julle sal vir God beter en beter leer ken. Hy, die Koning, is baie sterk en Hy sal julle geloof sterk maak. Dan sal julle kan aanhou om geduldig te wees wanneer julle swaarkry. En julle sal bly wees en vir God die Vader dankie sê, want Hy het julle verander. Hy het vir almal wat aan Hom behoort, belowe dat hulle in die hemel by Hom sal wees. Julle sal ook in die hemel by Hom wees. God die Vader het ons gered van die duiwel en nou weet ons dat sy Seun ons Koning is, sy Seun vir wie Hy baie lief is. Ja, God het sy Seun gestuur en die Seun het ons vrygemaak. So het God ons sondes vergewe. Niemand kan vir God sien nie, maar God se Seun het vir ons kom wys hoe God is. Die Seun is die Eerste, die belangrikste van alles in die hemel en op die aarde, want Hy het alles gemaak, God het gesê Hy moet dit doen. Die Seun het alles in die hemel en alles op die aarde gemaak, alles wat 'n mens kan sien en alles wat 'n mens nie kan sien nie, almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, in die hemel en op die aarde. Die Seun het hulle almal gemaak, en hulle is daar om Hom te respekteer en te dien. Die Seun was daar voordat daar iets anders was en Hy laat alles lewe. Die kerk is die Seun se liggaam, Hy is die Hoof van die kerk, en Hy laat die kerk lewe. Hy is die Eerste, die Een wat dood was en wat weer lewe, en daarom is Hy nou die belangrikste van almal en alles. Hy, die Seun, is God en Hy kan doen soos God doen, omdat God besluit het om in die Seun te woon. Die Seun het aan die kruis gesterf, en so het God vrede gebring. So het God almal se sonde weggeneem, almal op die aarde en almal in die hemel. God het dit gedoen sodat alles reg kan wees tussen God en hulle. Voorheen was julle ver van God, julle was God se vyande en julle het slegte dinge gedink en gedoen. Maar nou het God julle verander. Die Seun het 'n mens geword en Hy het gesterf, en daarom het God julle sonde weggeneem sodat alles reg kan wees tussen God en julle. God het dit gedoen sodat julle aan Hom kan behoort en sodat julle sonder sonde sal wees en onskuldig sal wees wanneer Hy julle oordeel. Maar dan moet julle aanhou glo, julle geloof moet baie sterk wees. Toe julle die goeie boodskap gehoor het, het God vir julle gehelp om seker te wees van die dinge wat julle glo, en nou moet julle aanhou om seker te wees. Al die mense in die wêreld het die goeie boodskap gehoor, die goeie boodskap wat ek moet bring. Ek is bly dat ek nou swaarkry, want dit is vir júlle dat ek swaarkry. Christus het swaargekry, en nou kry ek swaar. Ek maak Christus se swaarkry klaar. Ek kry swaar vir die kerk, die kerk wat Christus se liggaam is. Dit was God se plan dat ek vir die kerk moet werk. Hy het vir my die werk gegee om vir julle alles te sê wat Hy vir julle wil sê. Mense het voorheen nooit geweet van die boodskap oor Christus nie. Maar nou het God dit vertel vir almal wat aan Hom behoort. God wou hê almal wat aan Hom behoort, moet sy boodskap ken. God wou hê hulle moet weet van die groot wonderwerk dat die boodskap oor Christus by die heidene moes kom, 'n boodskap wat niemand voorheen geken het nie. Julle wat heidene is, moet nou weet dat Christus ook in julle is, en daarom kan julle seker wees dat julle ook by God, die Koning, sal wees. Ons preek oor Christus en ons gebruik al ons wysheid om al die mense te waarsku en vir hulle te leer. Ons wil hê hulle moet almal aan Christus behoort en hulle moet alles doen wat God wil hê. Daarvoor werk ek baie hard, want God gee vir my die krag om dit te doen.

KOLOSSENSE 1:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

PAULUS, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Timótheüs, aan die heilige en gelowige broeders in Christus wat in Kolosse is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! ONS dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid, omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges, vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie, wat julle sowel as die hele wêreld bereik het; en dit dra vrug, net soos onder julle ook, van die dag af dat julle dit gehoor het en die genade van God in waarheid leer ken het; soos julle ook geleer het van Épafras, ons geliefde mededienskneg, wat 'n getroue dienaar van Christus vir julle is, wat ook julle liefde in die Gees aan ons te kenne gegee het. Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei, en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig — Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes. Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis — ek sê deur Hom — die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele. Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke, het Hy nou versoen in die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel; as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het. NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; waarvan ek 'n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul, naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag.

KOLOSSENSE 1:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus. Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus. Genade en vrede vir julle van God ons Vader! Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en 'n getroue dienaar van Christus in julle belang. Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is. Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het. Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk, waarvan ek 'n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak. Dit is die geheimenis wat eeue en geslagte lank verborge was, maar wat nou geopenbaar is aan die mense wat aan Hom behoort. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. Hóm verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.

KOLOSSENSE 1:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, aan die heiliges in Kolosse, gelowige broers in Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader! Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus •Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die •heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. Dit het julle geleer by Epafras, ons geliefde medewerker, wat ter wille van julle 'n getroue dienskneg van Christus is. Dit was ook hy wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om 'n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig. God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die •koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het. Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die •Eersgeborene oor die hele skepping; want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis. Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het. Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van die verdrukkinge van •Christus aan, tot voordeel van sy liggaam, die •kerk, waarvan ek 'n dienaar geword het, ooreenkomstig die bedieningstaak wat God aan my toevertrou het, om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy •heiliges bekend gemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.

KOLOSSENSE 1:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Paulus, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en Timótheüs, ons broer, Aan die heiliges en getroue broeders in Christus wat in Kolosse is: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Ons dank God en die Vader van onse Here Jesus Christus, terwyl ons altyd vir julle bid, Aangesien ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van die liefde wat julle tot al die heiliges het, Vir die hoop wat vir julle weggelê is in die hemel, waarvan julle tevore gehoor het in die woord van die waarheid van die evangelie; wat na julle toe gekom het, soos in die hele wêreld; en dra vrug soos dit ook by julle doen, van die dag af dat julle daarvan gehoor het en die genade van God in waarheid geken het. Soos julle ook geleer het van Epafras, ons dierbare mededienskneg, wat vir julle 'n getroue dienaar van Christus is; wat ook aan ons julle liefde in die Gees bekend gemaak het. Daarom hou ons ook nie op van die dag af dat ons dit gehoor het nie, om vir julle te bid en te begeer dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig; Sodat julle waardig die Here kan wandel tot alles wat welgevallig is, vrugbaar wees in elke goeie werk en toeneem in die kennis van God; Met alle krag versterk, volgens sy heerlike krag, tot alle lankmoedigheid en lankmoedigheid met blydskap; Dank die Vader wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig. Wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en ons oorgebring het in die koninkryk van sy dierbare Seun. In wie ons die verlossing het deur sy bloed, ja, die vergewing van sondes; Wie is die beeld van die onsigbare God, die eersgeborene van elke skepsel; Want deur Hom is alle dinge geskape wat in die hemel en op die aarde is, sigbaar en onsigbaar, of dit trone of heerskappye of owerhede of magte is; alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en deur Hom bestaan alle dinge. En Hy is die Hoof van die liggaam, die gemeente; wie is die Begin, die Eersgeborene uit die dode; sodat hy in alles die voorrang kan hê. Want dit het die Vader behaag dat die hele volheid in Hom sou woon; En nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis, deur Hom alles met Homself te versoen; deur Hom, sê ek, of dit dinge op die aarde of dinge in die hemel is. En julle, wat eens vervreemd en vyande in julle gemoed was deur bose werke, maar nou het Hy versoen; In die liggaam van sy vlees deur die dood, om julle heilig en onberispelik en onberispelik voor sy oë te stel; As julle in die geloof gegrond en vas bly, en julle nie laat afwyk van die hoop van die evangelie wat julle gehoor het en wat verkondig is aan elke skepsel wat onder die hemel is nie; waarvan ek Paulus 'n bedienaar gemaak is; wat nou vir julle bly is in my lyding en wat agter die verdrukkinge van Christus is, in my vlees vervul ter wille van sy liggaam, dit is die gemeente. Waarvan ek 'n dienaar gemaak is, volgens die bedeling van God wat aan my gegee is vir julle, om die woord van God te vervul; Selfs die verborgenheid wat van eeue en geslagte verborge was, maar nou aan sy heiliges openbaar gemaak is. Aan wie God sou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is; wat Christus in julle is, die hoop van die heerlikheid: Hom verkondig ons deur elke mens te waarsku en elke mens in alle wysheid te leer; sodat ons elke mens volmaak kan stel in Christus Jesus: Waartoe ek ook arbei en stry volgens sy werking, wat kragtig in my werk.

KOLOSSENSE 1:1-29 Die Boodskap (DB)

Van Paulus, ’n apostel van Jesus op gesag van God, en van Timoteus, ’n mede-Christen. Hierdie brief is bedoel vir al die mense van Kolosse wat spesiaal net God s’n is. Ek skryf vir julle wat in Jesus glo en daarom deel van God se hegte familie is. Mag God, ons Vader, vir julle baie goed wees. Mag Hy vir julle daardie diep vrede gee wat net Hy kan gee. Dank God dat julle Christene is! Wanneer ek bid, kan ek God nie genoeg dankie sê vir wat Hy vir julle doen nie. Ek praat nie sommer van enige god nie. Ek praat van God, die Vader van Jesus Christus, ons Here. Ek het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en daarom baie omgee vir al God se kinders. Dit doen julle omdat julle vir seker weet dat God self alles waarborg wat Hy vir julle belowe het en vir julle reg hou. Vir hierdie goeie nuus staan God self in. Julle is nie die enigstes wat die goeie nuus gehoor het nie. Oor die hele wêreld het die wonderlike nuus al by mense uitgekom en steeds versprei dit soos ’n veldbrand. Net mooi oral kom ’n mens die vrugte daarvan teë. Julle het self mos ervaring daarvan. Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is. By Epafras het julle alles geleer. Hy is regtig ’n staatmaker en ek hou baie van hom. Hy werk hard saam met my vir die Here. Hy is iemand op wie Christus regtig peil kan trek. Julle het natuurlik ook die vrugte van sy goeie werk gepluk. Dit is juis by hom dat ons gehoor het hoe lief julle mekaar het. God se Gees werk mos in julle. Vandat ons al hierdie dinge oor julle gehoor het, bid ons aanmekaar vir julle. Ons vra dat God vir julle al die kennis sal gee wat julle nodig het om reg te leef. Mag die Heilige Gees julle duidelik wys hoe julle moet leef. Dan behoort julle mos nie te twyfel oor wat presies God van julle wil hê nie. En as julle weet wat om te doen en dit doen, sal die Here trots wees op julle en tevrede voel oor hoe julle leef. Mag alles wat julle doen vir julle goeie vrugte dra en julle meer van God se plan vir julle lewe laat verstaan. God is die Een wat oor Goddelike mag beskik. Mag sy krag júlle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie. Nee, staan vas en hou moed! Ek bid ook dat julle met ’n blye glimlag aan die Vader alle eer sal gee en Hom sal grootmaak. Sê vir Hom dankie. Hy het alles gedoen wat nodig is sodat julle die reg het om vir altyd te wees waar Hy, die groot Koning, heers. Hy sal julle beskerm. Daar waar God se wonderlike lig sonder ophou skyn, sal julle saam met al sy ander kinders bly. Julle vra hoe dit moontlik is. Wel, ons was eers in die donker mag van God se vyande vasgevang. God het ons egter uit hulle mag geruk. Nou staan ons onder die mag van sy Seun. Dit is die Seun wat Hy liefhet. Hierdie Seun raak ook namens ons ontslae van die skuld wat ons deur ons sondes op ons gelaai het. Deur sy toedoen word ons sondes vergewe. Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk sien ons wie en hoe God is. Niks in die skepping kan met Hom vergelyk word nie. Hoekom nie? Net mooi alles, of dit nou in die hemel of op die aarde is, is deur Hom gemaak. Of jy dit kan sien of nie, of jy dink dit is sterk of nie, of jy daarvoor wil neerval en dit aanbid of nie, maak nie saak nie; alles is deur Hom gemaak. Alles wat gemaak is, moet daarna streef om Hom gelukkig te maak. Voor enigiets anders gemaak is, was Hy mos al daar. Boonop is Hy ook die Een wat sorg dat die heelal nie in duie stort nie. Die kerk kan met ’n liggaam vergelyk word. Die belangrikste deel, die kop van die liggaam, is God se Seun. By Hom het alles begin en Hy neem in alles die leiding. Hy het eerste uit die dood opgestaan. God het mos self besluit om volledig by sy Seun te wees. Hy het daarvoor gesorg dat alles in die skepping weer in die regte verhouding met Hom gestel word. Hy is mos die doel waarom alles geskep is. Dit het Hy gedoen deur die onderlinge verhoudings in die skepping weer reg te stel, of dit nou op die aarde of in die hemel is. Dit het nie sommerso gebeur nie. Dit was duur. Dit het Hom sy bloed gekos wat aan die kruis geloop het. Julle onthou mos hoe julle voorheen op die verkeerde pad was. Julle was nie God se vriende nie; inteendeel, julle was sy vyande. Julle slegte gesindheid het veroorsaak dat julle net so sleg opgetree het. Maar dinge het nou verander. Die Seun het vrede kom maak tussen God en julle. Juis daarom het hulle Hom liggaamlik doodgemaak. Sy doel was egter om so van julle iets besonders te maak. Hy wil dit so bewerk dat julle God heeltemal tevrede sal stel sodat daar niks in julle is waarvan God nie hou nie. Julle moet egter net vas bly glo. Staan vas soos ’n huis op stewige fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is. Moenie ’n duim afwyk van die evangelie waarvan julle so oortuig geraak het nie. Dit is die evangelie wat oor die hele wêreld aan mense verkondig word. Met al my tyd en energie werk ek, Paulus, vir hierdie evangelie. Ek loop nie met ’n lang gesig rond oor al die swaarkry en lyding wat my oorgekom het nie. Inteendeel, ek is bly daaroor, want julle vind ook baat daarby. Julle weet hoe Christus vervolg is. Wel, hierdie vervolging teen Hom het nog glad nie opgehou nie. Ek self loop nog net so onder fisieke vervolging deur. Vir die kerk, die liggaam van Christus, doen ek dit. Met alles wat ek het, werk ek vir die evangelie. God self het my daarvoor aangestel. Op my skouers rus die verantwoordelikheid om die boodskap van God van begin tot end aan julle te verduidelik. God het ’n geheim gehad. Baie eeue en geslagte lank het niemand geweet wat dit is nie. Maar die geheim is nou bekend. God het besluit om aan sy eie mense die geheim te vertel. Hulle weet nou hoe ongelooflik wonderlik hierdie geheim is, veral vir nie-Jode. Die geheim is dit: Christus is vir almal, ook vir julle. Op Hom kan julle met vertroue staatmaak. Hy sal vir julle die wonderlike dinge gee wat ’n mens net by God kan kry. Die inhoud van ons verkondiging gaan juis oor Christus. Ons praat reguit met almal oor Hom en leer hulle alles wat hulle van God en hulleself af moet weet. Ek wil hê dat elke mens die goddelike doel in sy lewe moet bereik. Dit is alleen moontlik deur ’n intieme verhouding met Christus. Daarvoor gee ek alles. Ek werk hard en doelgerig daarvoor soos iemand wat in ’n resies alles uithaal. Die krag om dit te doen kom van Jesus af.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid