KOLOSSENSE 1:1-29

KOLOSSENSE 1:1-29 NLV

Hierdie brief kom van Paulus wat deur God gekies is om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my. Ons skryf aan God se mense in Kolosse, gelowige broers en susters wat aan God verbonde is. Mag die genade en vrede van God ons Vader met julle wees. In al ons gebede dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus, vir julle, want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en van julle liefde vir al God se mense. Julle doen dit omdat julle hoop om dit te ontvang wat in die hemel vir julle gereed lê. Julle het daarvan gehoor toe die waarheid van die Goeie Nuus aan julle verkondig is. Dieselfde Goeie Nuus wat julle bereik het, gaan ook oor die hele wêreld uit. In die hele wêreld dra dit goeie vrug en versprei dit, net soos dit by julle gebeur het vanaf die dag toe julle die waarheid oor God se genade gehoor en verstaan het. Epafras, ons geliefde medewerker, het julle daarvan geleer. Sy getroue diens aan Christus is in julle belang. Dit is hý wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Van die dag af wat ons dít oor julle gehoor het, hou ons daarom nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê. Ons bid ook dat julle leefstyl tot eer van die Here sal wees om Hom te behaag deurdat julle lewe vol goeie werke sal wees en dat julle God al hoe beter sal leer ken. Ons bid dat Hy deur die krag van sy goddelike heerlikheid julle sal toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard terwyl julle met blydskap altyd die Vader dank dat Hy julle geskik gemaak het om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat volgens sy wil lewe. Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun. Deur die Seun het ons verlossing verkry, naamlik die vergewing van sonde. Die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbare God. Hy is die Eerste van die hele skepping, omdat God alles deur Hom geskep het. Ja, alles in die hemel en op die aarde – die dinge wat gesien kan word en die dinge wat nie gesien kan word nie, of dit nou konings of heersers, regeerders of maghebbers is – álle dinge is deur Hom en vir Hom geskep. Hý was daar vóór alles, en in Hom word alles saamgebind. Hý is die hoof van die kerk, sy liggaam. Die Seun is die begin. Hy is die Eerste wat uit die dood opgestaan het sodat Hy inderdaad eerste in alle dinge is. God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak. Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. Eers was julle ook ver van God af. Met verkeerde dade het julle gewys dat julle Hom vyandiggesind is. Maar nou het Hy julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle voor Hom as sy eie mense te laat staan, skoon en foutloos. Maar dan moet julle aanhou glo. Julle moet onwrikbaar vas bly staan en nie die verwagting laat vaar wat in julle gewek is toe julle die Goeie Nuus gehoor het nie. Hierdie Goeie Nuus is aan almal onder die son verkondig. En ek, Paulus, het hiervan ’n dienaar geword. Ek is nou bly dat ek tot julle voordeel kan swaarkry. Ek is bly dat ek die deel van Christus se vervolging wat nog oorbly, kan help dra. Ek verduur dit in mý liggaam tot voordeel van sý liggaam, die kerk. Ek is ’n dienskneg van dié kerk. God het my die verantwoordelikheid gegee om aan julle sy volle boodskap bekend te maak. Hierdie boodskap was vir eeue en geslagte lank ’n geheim, maar nou het God dit aan sy eie mense bekendgemaak. God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe wonderlik die heerlikheid van hierdie geheim vir alle volke is. Die geheim is: Christus leef in julle. Dit is die vooruitsig dat julle in die hemelse heerlikheid sal deel. Juis Hom verkondig ons! Ons doen dit deur elke mens te waarsku en met alle moontlike wysheid te onderrig. So wil ons graag elke mens in ’n volmaakte verhouding met Christus voor God laat staan. Hiervoor werk en stry ek met Christus se krag wat magtig in my aan die werk is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid