Kolossense 1:1-14

Kolossense 1:1-14 AFR20

Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, aan die heiliges in Kolosse, gelowige broers in Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader! Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus •Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die •heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. Dit het julle geleer by Epafras, ons geliefde medewerker, wat ter wille van julle 'n getroue dienskneg van Christus is. Dit was ook hy wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om 'n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig. God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die •koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid