KOLOSSENSE 1:1-14

KOLOSSENSE 1:1-14 NLV

Hierdie brief kom van Paulus wat deur God gekies is om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my. Ons skryf aan God se mense in Kolosse, gelowige broers en susters wat aan God verbonde is. Mag die genade en vrede van God ons Vader met julle wees. In al ons gebede dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus, vir julle, want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en van julle liefde vir al God se mense. Julle doen dit omdat julle hoop om dit te ontvang wat in die hemel vir julle gereed lê. Julle het daarvan gehoor toe die waarheid van die Goeie Nuus aan julle verkondig is. Dieselfde Goeie Nuus wat julle bereik het, gaan ook oor die hele wêreld uit. In die hele wêreld dra dit goeie vrug en versprei dit, net soos dit by julle gebeur het vanaf die dag toe julle die waarheid oor God se genade gehoor en verstaan het. Epafras, ons geliefde medewerker, het julle daarvan geleer. Sy getroue diens aan Christus is in julle belang. Dit is hý wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Van die dag af wat ons dít oor julle gehoor het, hou ons daarom nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê. Ons bid ook dat julle leefstyl tot eer van die Here sal wees om Hom te behaag deurdat julle lewe vol goeie werke sal wees en dat julle God al hoe beter sal leer ken. Ons bid dat Hy deur die krag van sy goddelike heerlikheid julle sal toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard terwyl julle met blydskap altyd die Vader dank dat Hy julle geskik gemaak het om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat volgens sy wil lewe. Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun. Deur die Seun het ons verlossing verkry, naamlik die vergewing van sonde.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid