KOLOSSENSE 1:1-14

KOLOSSENSE 1:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Ek, Paulus, is 'n apostel van Christus Jesus omdat God dit wil hê. Ek en Timoteus, ons vriend, skryf hierdie brief vir julle daar in die stad Kolosse. Vriende, julle behoort aan God, julle glo in Christus en julle behoort ook aan Hom. Ons bid dat God ons Vader genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee. Ons bid baie vir julle, en dan sê ons elke maal dankie vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en dat julle lief is vir al die ander mense wat aan God behoort. Julle glo en julle weet wat God vir julle in die hemel gebêre het. Julle het daarvan gehoor toe julle die goeie boodskap gehoor het, die boodskap wat waar is. Meer en meer mense hoor die goeie boodskap en hulle doen dan wat God wil hê. Julle ook, julle het die goeie boodskap gehoor en julle het besef dat God baie goed is. Epafras het vir julle vertel dat God baie goed is. Epafras werk saam met my, en ek is lief vir hom en ek weet hy doen altyd sy werk baie goed. Hy werk vir Christus daar by julle. Hy het ook vir ons vertel dat die Heilige Gees julle help om lief te wees vir mekaar. Vandat ons gehoor het wat Epafras vir ons gesê het, bid ons elke dag vir julle. Ons bid en vra dat julle sal weet wat God wil hê julle moet doen. Ons bid dat die Heilige Gees vir julle sal help om te verstaan wat God wil hê julle moet doen. Dan sal julle so lewe dat die Here altyd tevrede sal wees met julle. Julle sal dinge doen waarvan Hy hou, baie goeie dinge, en julle sal vir God beter en beter leer ken. Hy, die Koning, is baie sterk en Hy sal julle geloof sterk maak. Dan sal julle kan aanhou om geduldig te wees wanneer julle swaarkry. En julle sal bly wees en vir God die Vader dankie sê, want Hy het julle verander. Hy het vir almal wat aan Hom behoort, belowe dat hulle in die hemel by Hom sal wees. Julle sal ook in die hemel by Hom wees. God die Vader het ons gered van die duiwel en nou weet ons dat sy Seun ons Koning is, sy Seun vir wie Hy baie lief is. Ja, God het sy Seun gestuur en die Seun het ons vrygemaak. So het God ons sondes vergewe.

KOLOSSENSE 1:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

PAULUS, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Timótheüs, aan die heilige en gelowige broeders in Christus wat in Kolosse is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! ONS dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid, omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges, vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie, wat julle sowel as die hele wêreld bereik het; en dit dra vrug, net soos onder julle ook, van die dag af dat julle dit gehoor het en die genade van God in waarheid leer ken het; soos julle ook geleer het van Épafras, ons geliefde mededienskneg, wat 'n getroue dienaar van Christus vir julle is, wat ook julle liefde in die Gees aan ons te kenne gegee het. Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei, en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig — Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.

KOLOSSENSE 1:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus. Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus. Genade en vrede vir julle van God ons Vader! Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en 'n getroue dienaar van Christus in julle belang. Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is. Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

KOLOSSENSE 1:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, aan die heiliges in Kolosse, gelowige broers in Christus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader! Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus •Christus. Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die •heiliges het, op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. Dit het julle geleer by Epafras, ons geliefde medewerker, wat ter wille van julle 'n getroue dienskneg van Christus is. Dit was ook hy wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om 'n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig. God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die •koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het.

KOLOSSENSE 1:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Paulus, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en Timótheüs, ons broer, Aan die heiliges en getroue broeders in Christus wat in Kolosse is: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Ons dank God en die Vader van onse Here Jesus Christus, terwyl ons altyd vir julle bid, Aangesien ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van die liefde wat julle tot al die heiliges het, Vir die hoop wat vir julle weggelê is in die hemel, waarvan julle tevore gehoor het in die woord van die waarheid van die evangelie; wat na julle toe gekom het, soos in die hele wêreld; en dra vrug soos dit ook by julle doen, van die dag af dat julle daarvan gehoor het en die genade van God in waarheid geken het. Soos julle ook geleer het van Epafras, ons dierbare mededienskneg, wat vir julle 'n getroue dienaar van Christus is; wat ook aan ons julle liefde in die Gees bekend gemaak het. Daarom hou ons ook nie op van die dag af dat ons dit gehoor het nie, om vir julle te bid en te begeer dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig; Sodat julle waardig die Here kan wandel tot alles wat welgevallig is, vrugbaar wees in elke goeie werk en toeneem in die kennis van God; Met alle krag versterk, volgens sy heerlike krag, tot alle lankmoedigheid en lankmoedigheid met blydskap; Dank die Vader wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig. Wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en ons oorgebring het in die koninkryk van sy dierbare Seun. In wie ons die verlossing het deur sy bloed, ja, die vergewing van sondes

KOLOSSENSE 1:1-14 Die Boodskap (DB)

Van Paulus, ’n apostel van Jesus op gesag van God, en van Timoteus, ’n mede-Christen. Hierdie brief is bedoel vir al die mense van Kolosse wat spesiaal net God s’n is. Ek skryf vir julle wat in Jesus glo en daarom deel van God se hegte familie is. Mag God, ons Vader, vir julle baie goed wees. Mag Hy vir julle daardie diep vrede gee wat net Hy kan gee. Dank God dat julle Christene is! Wanneer ek bid, kan ek God nie genoeg dankie sê vir wat Hy vir julle doen nie. Ek praat nie sommer van enige god nie. Ek praat van God, die Vader van Jesus Christus, ons Here. Ek het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en daarom baie omgee vir al God se kinders. Dit doen julle omdat julle vir seker weet dat God self alles waarborg wat Hy vir julle belowe het en vir julle reg hou. Vir hierdie goeie nuus staan God self in. Julle is nie die enigstes wat die goeie nuus gehoor het nie. Oor die hele wêreld het die wonderlike nuus al by mense uitgekom en steeds versprei dit soos ’n veldbrand. Net mooi oral kom ’n mens die vrugte daarvan teë. Julle het self mos ervaring daarvan. Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is. By Epafras het julle alles geleer. Hy is regtig ’n staatmaker en ek hou baie van hom. Hy werk hard saam met my vir die Here. Hy is iemand op wie Christus regtig peil kan trek. Julle het natuurlik ook die vrugte van sy goeie werk gepluk. Dit is juis by hom dat ons gehoor het hoe lief julle mekaar het. God se Gees werk mos in julle. Vandat ons al hierdie dinge oor julle gehoor het, bid ons aanmekaar vir julle. Ons vra dat God vir julle al die kennis sal gee wat julle nodig het om reg te leef. Mag die Heilige Gees julle duidelik wys hoe julle moet leef. Dan behoort julle mos nie te twyfel oor wat presies God van julle wil hê nie. En as julle weet wat om te doen en dit doen, sal die Here trots wees op julle en tevrede voel oor hoe julle leef. Mag alles wat julle doen vir julle goeie vrugte dra en julle meer van God se plan vir julle lewe laat verstaan. God is die Een wat oor Goddelike mag beskik. Mag sy krag júlle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie. Nee, staan vas en hou moed! Ek bid ook dat julle met ’n blye glimlag aan die Vader alle eer sal gee en Hom sal grootmaak. Sê vir Hom dankie. Hy het alles gedoen wat nodig is sodat julle die reg het om vir altyd te wees waar Hy, die groot Koning, heers. Hy sal julle beskerm. Daar waar God se wonderlike lig sonder ophou skyn, sal julle saam met al sy ander kinders bly. Julle vra hoe dit moontlik is. Wel, ons was eers in die donker mag van God se vyande vasgevang. God het ons egter uit hulle mag geruk. Nou staan ons onder die mag van sy Seun. Dit is die Seun wat Hy liefhet. Hierdie Seun raak ook namens ons ontslae van die skuld wat ons deur ons sondes op ons gelaai het. Deur sy toedoen word ons sondes vergewe.

KOLOSSENSE 1:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Paulus wat deur God gekies is om ’n apostel van Christus Jesus te wees. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my. Ons skryf aan God se mense in Kolosse, gelowige broers en susters wat aan God verbonde is. Mag die genade en vrede van God ons Vader met julle wees. In al ons gebede dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus, vir julle, want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en van julle liefde vir al God se mense. Julle doen dit omdat julle hoop om dit te ontvang wat in die hemel vir julle gereed lê. Julle het daarvan gehoor toe die waarheid van die Goeie Nuus aan julle verkondig is. Dieselfde Goeie Nuus wat julle bereik het, gaan ook oor die hele wêreld uit. In die hele wêreld dra dit goeie vrug en versprei dit, net soos dit by julle gebeur het vanaf die dag toe julle die waarheid oor God se genade gehoor en verstaan het. Epafras, ons geliefde medewerker, het julle daarvan geleer. Sy getroue diens aan Christus is in julle belang. Dit is hý wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het. Van die dag af wat ons dít oor julle gehoor het, hou ons daarom nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy geestelike wysheid en insig aan julle sal gee sodat julle heeltemal seker sal wees van wat Hy wil hê. Ons bid ook dat julle leefstyl tot eer van die Here sal wees om Hom te behaag deurdat julle lewe vol goeie werke sal wees en dat julle God al hoe beter sal leer ken. Ons bid dat Hy deur die krag van sy goddelike heerlikheid julle sal toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard terwyl julle met blydskap altyd die Vader dank dat Hy julle geskik gemaak het om in die erfenis van God se mense te deel, die erfenis wat wag vir mense wat volgens sy wil lewe. Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring onder die koningsheerskappy van sy geliefde Seun. Deur die Seun het ons verlossing verkry, naamlik die vergewing van sonde.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid