Handelinge 23

23
1Paulus het stip na die Sanhedrin gekyk en gesê: “Manne, broers, ek het tot op hierdie dag met 'n absoluut skoon gewete voor God geleef. ” 2 Maar die hoëpriester Ananias het die mense wat langs hom gestaan het, opdrag gegee om hom op sy mond te slaan. 3Toe sê Paulus vir hom: “God sal jou slaan, jou witgekalkte muur! Jy sit daar om my kragtens die wet te beoordeel, terwyl dit jy is wat in stryd met die wet opdrag gee dat ek geslaan word? ” 4Die omstanders sê toe: “Beledig jy die hoëpriester van God?” 5En Paulus antwoord: “Broers, ek het nie besef hy is die hoëpriester nie. Daar staan tog geskryf, ‘Jy mag nie sleg praat van 'n leier van jou volk nie.’ ”
6 Omdat Paulus geweet het dat sommige van hulle •Sadduseërs was en ander •Fariseërs, het hy in die Sanhedrin uitgeroep: “Manne, broers, ek is 'n Fariseër, die seun van Fariseërs! Op grond van die verwagting van die opstanding van die dooies word ek verhoor. ” 7Toe hy dit sê, het daar 'n stryery tussen die Fariseërs en die Sadduseërs ontstaan, en die vergadering het verdeeld geraak. 8Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, en ook nie engele of geeste nie, terwyl die Fariseërs bely dat dit alles bestaan. 9'n Groot geskreeu het toe ontstaan, en 'n paar van die skrifkenners uit die geledere van die Fariseërs het opgestaan en hewig geprotesteer en aangevoer: “Ons vind geen kwaad in hierdie man nie. Sê nou 'n gees of 'n engel het met hom gepraat?” 10Toe die stryery hewiger word, het die chiliarg gevrees dat hulle Paulus sou verskeur. Hy het toe bevel gegee dat sy afdeling soldate hom tussen hulle moet gaan uithaal en na die kwartiere bring.
11Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en gesê: “Hou moed! Want net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig. ”
Komplot teen Paulus
12Teen dagbreek het die Jode 'n komplot gesmee, en hulle met 'n eed daartoe verbind om nie te eet of te drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie. 13Daar was meer as veertig mense wat aan hierdie sameswering deelgeneem het. 14 Hulle het na die leierpriesters en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het 'n eed gesweer om niks te eet totdat ons Paulus doodgemaak het nie. 15Rig júlle nou, saam met die Sanhedrin, 'n versoek aan die chiliarg om Paulus na julle te bring onder die voorwendsel dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is gereed om hom om die lewe te bring nog voor hy hier aankom.”
16Die seun van Paulus se suster het egter van die hinderlaag gehoor. Hy het na die kwartiere gegaan, toegang verkry en vir Paulus daarvan vertel. 17Paulus het een van die centurio's laat roep en gesê: “Neem hierdie jong man na die chiliarg, want hy het iets om hom te vertel.” 18Hy het hom toe saamgeneem, na die chiliarg gebring en gesê: “Die gevangene, Paulus, het my laat roep en gevra om hierdie jong man na u te bring, omdat hy iets het om aan u mee te deel.” 19Die chiliarg het hom aan die hand gevat, eenkant toe geneem en gevra: “Wat is dit wat jy my wil vertel?” 20Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te versoek dat u Paulus môre na die Sanhedrin moet laat bring onder die voorwendsel dat hulle sy saak noukeuriger wil ondersoek. 21Moet u nie deur hulle laat oortuig nie, want meer as veertig van hulle manne gaan hom voorlê in 'n hinderlaag. Hulle het hulle met 'n eed daartoe verbind om nie te eet of te drink totdat hulle hom om die lewe gebring het nie. Hulle staan reeds gereed, en wag net op u instemming.” 22Die chiliarg het die jong man toe laat gaan, nadat hy hom beveel het: “Moet niemand vertel dat jy dit aan my bekend gemaak het nie.”
Paulus na Feliks
23Daarna het hy twee van sy centurio's laat roep en gesê: “Kry tweehonderd soldate gereed, saam met sewentig perderuiters en tweehonderd spiesvegters, sodat hulle teen die derde uur van die nag na Caesarea kan gaan. 24En sorg dat rydiere beskikbaar is, sodat hulle Paulus daarop kan vervoer en veilig na die prokurator Feliks kan bring.” 25Toe skryf hy 'n brief met die volgende inhoud:
26“Claudius Lisias
aan die hooggeagte prokurator Feliks:
Gegroet!
27“Hierdie man is deur die Jode gegryp, en hulle was op die punt om hom dood te maak, toe ek en my soldate daarop afgekom en hom gered het, omdat ek verneem het dat hy 'n Romeinse burger is. 28 Aangesien ek die rede wou vasstel waarom hulle hom beskuldig het, het ek hom na hulle Sanhedrin gebring 29 en vasgestel dat hy beskuldig word op grond van twispunte oor hulle wet, maar dat die aanklag teen hom niks inhou wat die dood of gevangenskap verdien nie. 30En toe ek meegedeel is dat daar 'n komplot teen die man gesmee word, het ek hom dadelik na u gestuur. Ek het ook sy aanklaers beveel om hulle saak teen hom aan u voor te lê. ”
31Die soldate het Paulus toe saamgeneem soos hulle beveel is, en hom gedurende die nag na Antipatris gebring. 32Die volgende dag het hulle die perderuiters met hom laat saamgaan, en toe na die kwartiere teruggekeer. 33Toe hulle in Caesarea aankom, het hulle die brief aan die prokurator oorhandig en Paulus voor hom laat verskyn. 34Nadat Feliks die brief gelees het, het hy Paulus gevra uit watter provinsie hy afkomstig is, en toe hy verneem dat hy uit Silisië is, 35het hy gesê: “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers opdaag.” Hy het toe beveel dat Paulus in Herodes se pretorium bewaak word.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid