Handelinge 24

24
Paulus se verdediging voor Feliks
1 Vyf dae later het die hoëpriester Ananias saam met 'n paar familiehoofde, en ook 'n sekere Tertullus, 'n advokaat, daar aangekom. Hulle het hulle aanklag teen Paulus by die prokurator ingedien. 2Nadat Paulus ingeroep is, het Tertullus met die aanklag begin en gesê: “Deur u toedoen leef ons in groot vrede, en deur u voorsorgmaatreëls het daar verbeteringe vir hierdie volk gekom. 3Oral en in elke opsig verwelkom ons dit met alle dankbaarheid, hooggeagte Feliks. 4Ek wil u egter nie langer vermoei nie, en daarom doen ek 'n beroep op u welwillendheid om vir 'n kort tydjie na ons te luister. 5Ons het gevind dat hierdie man 'n pes is, en dat hy onder al die Jode in die wêreld onluste veroorsaak. Hy is 'n leier van die Nasarenersekte. 6Hy het ook probeer om die tempelterrein te ontheilig, en toe het ons hom gegryp. 8U sal self by hom kan agterkom waaroor ons hom aankla wanneer u hom oor al hierdie dinge verhoor. 9Die Jode het dit ondersteun en bevestig dat dit so is.”
10Toe die prokurator vir Paulus die teken gee dat hy mag praat, het hy geantwoord: “Omdat ek weet dat u al baie jare as regter optree oor hierdie volk, verdedig ek my saak met graagte. 11U kan u daarvan vergewis dat ek skaars twaalf dae gelede opgegaan het om in Jerusalem te aanbid. 12Hulle het my nie op die tempelterrein gevind waar ek besig was om met iemand te redeneer, of om 'n oproer onder die volk te veroorsaak in die •sinagoges of iewers in die stad nie. 13Hulle kan ook nie die dinge waarvan hulle my nou aankla, voor u bewys nie. 14Dit erken ek egter voor u: dat ek die God van ons voorvaders dien ooreenkomstig die Weg, waarna hulle as 'n sekte verwys. Ek glo alles wat volgens die Wet is en in die Profete geskryf staan. 15 Ek vestig dieselfde hoop op God as waaraan hierdie mense ook vashou, naamlik dat daar 'n opstanding van die •regverdiges en ook die onregverdiges sal wees. 16 Daarom doen ek self ook my uiterste bes om my gewete in alle opsigte skoon te hou voor God en die mense. 17 Ná baie jare het ek hierheen gekom om geldelike hulp vir my volk te bring, en om te kom offer. 18Ek was besig hiermee, en het my al gereinig, toe hulle my op die tempelterrein aantref. Daar was nie 'n skare nie, en daar was ook nie oproer nie. 19Daar was wel 'n aantal Jode uit Asië, wat hier voor u moes verskyn het en my moes aankla, as hulle miskien iets teen my sou hê. 20Of laat hierdie mense self sê watter misdryf hulle gevind het toe ek voor die Sanhedrin gestaan het, 21 behalwe as dit gaan oor hierdie een ding wat ek uitgeroep het toe ek tussen hulle gestaan het, ‘Ek staan vandag voor julle tereg oor die opstanding van die dooies!’ ”
22Feliks, wat goed vertroud was met die feite oor die Weg, het die verhoor verdaag en gesê: “Wanneer Lisias, die chiliarg, aankom, sal ek oor julle saak besluit.” 23 Hy het die centurio opdrag gegee om Paulus aan te hou, maar om hom meer vryheid te gun en nie één van sy eie mense te verhinder om vir hom te sorg nie.
Feliks en Paulus
24'n Paar dae later het Feliks saam met sy vrou Drusilla, 'n Jodin, gekom en Paulus laat haal en geluister na wat hy oor die geloof in Christus Jesus sê. 25Maar toe Paulus praat oor •geregtigheid en selfbeheersing en die komende oordeel, het Feliks bang geword en gesê: “Jy kan maar vir eers gaan. As ek 'n geskikte geleentheid vind, sal ek jou laat roep.” 26Hy het egter tegelykertyd gehoop dat Paulus hom geld sou aanbied, en daarom het hy hom herhaaldelik laat roep en met hom gepraat.
27Ná verloop van twee jaar is Feliks opgevolg deur Porcius Festus. Omdat Feliks die Jode 'n guns wou bewys, het hy Paulus in boeie agtergelaat.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid