Handelinge 22

22
1“Manne, broers en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle.” 2Toe hulle hoor dat hy in die Hebreeuse taal met hulle praat, het hulle nog stiller geraak. Hy sê toe: 3“Ek is 'n Joodse man, gebore in Tarsus in Silisië, maar het grootgeword in hierdie stad. Ek is opgevoed aan die voete van Gamaliël – streng volgens die wet van die voorvaders. Ek is net so 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is. 4 Ek het hierdie Weg tot die dood toe vervolg deur mans sowel as vroue te boei en in die tronk te gooi, 5soos die hoëpriester en die hele Raad van Familiehoofde oor my kan getuig. Van hulle het ek selfs briewe aan die broers gekry, en na Damaskus gegaan om die mense daar as gevangenes na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.
6“ Terwyl ek egter nog op pad was en Damaskus genader het, het daar teen die middaguur skielik 'n helder lig uit die hemel rondom my geskyn. 7Ek het op die grond neergeval en 'n stem vir my hoor sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ 8En ek het gevra, ‘Wie is U, Here?’ Hy het my geantwoord, ‘Ek is Jesus van Nasaret wat jy vervolg.’ 9 Die mense wat by my was, het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my gepraat het nie. 10Toe vra ek, ‘Wat moet ek doen, Here?’ En die Here het vir my gesê, ‘Staan op en gaan na Damaskus. Daar sal alles vir jou gesê word wat jou opgedra is om te doen.’ 11Omdat ek vanweë die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle aan die hand gelei, en so het ek in Damaskus aangekom.
12“'n Sekere Ananias, 'n vroom man volgens die wet, en een oor wie al die Joodse inwoners goeie getuienis gelewer het, 13het na my gekom, en voor my kom staan en gesê, ‘Saul, broer, sien weer!’ En op daardie oomblik kon ek hom sien. 14Toe het hy gesê, ‘Die God van ons vaders het jou uitverkies om sy wil te ken, om die Regverdige te sien en om die stem uit sy mond te hoor, 15want jy sal voor alle mense vir Hom 'n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het. 16En nou, waarom aarsel jy nog? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy sy Naam aanroep.’
17“Toe ek ná my terugkeer na Jerusalem besig was om in die tempelterrein te bid, het ek in geestesvervoering geraak. 18 Ek het Hom gesien wat vir my sê, ‘Maak gou en gee haastig pad uit Jerusalem, want hulle sal jou getuienis oor My nie aanvaar nie!’ 19Toe het ek gesê, ‘Here, hulle weet dat dit ek is wat diegene wat in U glo, in die tronk laat gooi en in die •sinagoges laat slaan het. 20 En toe die bloed vergiet is van Stefanus, u getuie, het ek self goedkeurend bygestaan en die boklere opgepas van dié wat hom doodgemaak het.’ 21En Hy het vir my gesê, ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur na die heidene.’ ”
22Tot op hierdie punt het hulle na sy woorde geluister, maar toe hulle stemme verhef en uitgeroep: “Vat 'n man soos hierdie weg van die aarde af, want hy behoort nie te bly leef nie!” 23Terwyl hulle so skreeu, en hulle klere afpluk en stof in die lug gooi, 24het die chiliarg beveel dat Paulus in die kwartiere ingebring word. Hy gee toe opdrag dat hy onder geseling ondervra word, sodat hy kon vasstel om watter rede hulle so teen hom skreeu. 25Maar toe hulle hom al uitgestrek het met die rieme, sê Paulus vir die centurio wat daar staan: “Is dit julle geoorloof om 'n Romeinse burger te gesel, en dit sonder 'n verhoor?” 26Toe die centurio dit hoor, gaan hy na die chiliarg, meld dit aan en sê: “Wat is u van plan om te doen? Want hierdie man is 'n Romein!”
27Die chiliarg gaan toe na Paulus en vra hom: “Sê vir my, is jy 'n Romeinse burger?” “Ja,” antwoord hy. 28Toe sê die chiliarg: “Ek het hierdie burgerskap teen 'n groot som geld bekom.” Daarop antwoord Paulus: “En ek deur geboorte.” 29Diegene wat gereed gestaan het om hom te ondervra, het hom daarom dadelik met rus gelaat, en ook die chiliarg het bang geword toe hy besef dat Paulus 'n Romeinse burger is, en dat hy hom laat boei het.
Paulus voor die Sanhedrin
30Die volgende dag het hy, omdat hy sekerheid wou kry oor waarvan Paulus deur die Jode aangekla word, hom vrygelaat en beveel dat die leierpriesters en die hele Sanhedrin moes vergader. Hy het Paulus laat inbring en hom voor hulle laat staan.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid